Smoor kieme só by kuilvoer
Kuilvoer is die lewensbloed van menige melkplaas met ’n intensiewe produksiestelsel. As kuilvoer of hooibale egter met mikotoksiene besmet is, kan dit melkproduksie, melkgehalte en vrugbaarheid benadeel of selfs vrektes veroorsaak.
Kuilvoer se gehalte moet veral in volvoerstelsels baie goed bestuur word. Dit begin by die produksie van voergewasse van gehalte wat vir inkuiling geskik is.
Plaagbestryding is belangrik omdat ’n oes wat besmet is met fusarium kopvrot of waar insekte aan mieliekoppe gevreet het, makliker met swamme en muf besmet kan word. Dit is noodaaklik om “skoon” te werk tydens inkuiling se saampakproses. Grond en modder aan trekkerbande waarmee oor die kuilvoerhoop gery word, kan swamspore in die kuilvoer vastrap.
’n Oplossing daarvoor is om ’n skoon werksgebied by jou kuilvoerbunkers te skep, soos om ’n sementblad, plavleisel of geteerde blad voor kuilvoerhope te hê waarop die trekkers met skoon bande kan ry. ’n Ander oplossing is silosakke, wat al hoe gewilder word.
’n Spesiale laaimeganisme plaas die vars gesnyde kuilvoer regstreeks in die sak, wat dit lugdig verseël. Net soos by die meer tradisionele manier van inkuiling in bunkers moet ’n anaërobiese toestand geskep word deur die kuilvoer goed saam te pak en lugdig te verseël. Die silosakke kry dít baie goed reg!
Raadpleeg ’n geregistreerde voerkenner of veearts as jy vermoed mikotoksiene kan die oorsaak wees van minder melkproduksie of siektetoestan- de. Pas bekende en aanvaarde praktyke toe wanneer kuilvoer gemaak word.
IMPAK OP HERKOUERS
Herkouers is minder gevoelig vir mikotoksiene as enkelpensdiere en mense, maar kan steeds die nagevolge ervaar, veral as hul hoofvoerbron deurspek is met besmetting. Die rumen kan wel in ’n mate die gifstowwe se uitwerking neutraliseer, maar nie in alle gevalle nie. Só kan aflatoksiene van As
pergillus-muf die werking van die rumen benadeel omdat dit die flora in die rumen beskadig.
Hoewel die nadele van mikotoksiene in voer nie altyd maklik sigbaar is nie, het dit ’n invloed. As die koei byvoorbeeld haar eetlus verloor of as die rumenfunksie benadeel word, sal dit ’n ongunstige uitwerking op melkproduksie hê. In ernstige gevalle kan langdurige blootstelling aan mikotoksiene diere baie siek laat word of selfs laat vrek.
Alflatoksiene kan byvoorbeeld lewerskade, bloeding en vrektes veroorsaak. Die mikotoksien patulin kan kanker veroorsaak en ’n laer voerinname en spysverteringsprobleme meebring. Fumonisines kan skade aan die lewer, spysverteringskanaal en senuweestelsel veroorsaak. Zearalenone se nagevolge sluit in reproduksieprobleme, onvrugbaarheid en aborsies.
Melkgehalte kan ook deur besmette voer beïnvloed word en hou verband met ’n hoë somatiese seltelling (SST). Namate die mikotoksiene die immuunstelsel onderdruk, lei dit gewoonlik tot ’n hoër SST wat die melkgehalte en premies beïnvloed.
Dit kan ook daartoe lei dat inentings minder doeltreffend is as die immuunstelsel onderdruk is.