Kommunale situasie stuur af op ’n krisis
‘Daar moet ook voorsiening vir behuising en sake-ondernemings wees.’
DIE onderdrukking van die armste en kwesbaarste huishoudings in kommunale gebiede is erger as onteiening sonder vergoeding, sê dr. Aninka Claassens, direkteur vir die sentrum vir grond en verantwoordbaarheid aan die Universiteit van Kaapstad, oor die houvas wat tradisionele leiers oor die nagenoeg 17 miljoen mense in voormalige tuislande het.
Sy waarsku dat die wetsontwerp oor tradisionele en Khoisanleierskap, wat tans in ’n finale stadium van goedkeuring is, die magte van tradisionele leiers verder sal verstewig.
Sy sê die meeste grond in die voormalige tuislande behoort aan die staat.
Sy het veral uitgevaar teen tradisionele leiers wat wederregtelik ooreenkomste met mynmaatskapye aangaan en só mense ontneem van die grond waarop hulle woon.
Volgens wet kan die Departement van Minerale Regte net die oppervlakregte van grond aan mynmaatskappye gee met die toestemming van die bewoners.
“Dit word egter nie toegepas nie en tradisionele leiers gaan onwettige ooreenkomste aan. Korrupte politici doen ook niks daaroor nie omdat hulle in baie gevalle aandele in die mynmaatskappye het.
“Altesame 60% van die bevolking het geen eiendomsreg of ’n adres nie. Hulle is onsigbaar en het ’n tradisionele leier se goedkeuring nodig net om om ’n iden-
titeitsdokument aansoek te kan doen.”
Sy glo herverdeling van grond moet voorkeur geniet bo restitusie. Sy is ’n voorstander van ’n mengsel van titelaktes en ander maniere om verblyfsekerheid te beskerm, soos ’n sertifikaat van verblyfreg.
NIE ALMAL WIL BOER
Mnr. Livhuwani Matsila, ’n tradisionele leier, het die Regering gekritiseer oor hy probeer om van almal in landelike gebiede boere te maak, want dit werk nie.
“Voorkeur moet verleen word aan mense wat wil en kan boer, maar daar moet ook voorsiening vir behuising en sake-ondernemings wees,” het hy gesê.
Matsila het ’n hoogs suksesvolle gemeenskapsontwikkelingstrust, die Matsila-trust, in Limpopo gevestig.
Hy meen die Regering moet oorweeg om voorwaardelike titelaktes in kommunale gebiede toe te staan.
Die voorwaarde vir só ’n oorweging moet wees dat die grond benut word. Indien nie, moet die eienaar dit verloor, aangesien daar groot dele in daardie gebiede is waar vrugbare grond in onbruik lê.
Hy het bygevoeg dat hy nie ’n voorstander van myne in sulke gebiede is nie, “weens die verwoesting wat dit veroorsaak”.
Hy het beklemtoon dat, afgesien van gevalle soos die Ingonyama-trust in KwaZulu-Natal, die meeste kommunale grond aan die staat behoort en net deur tradisionele leiers en munisipaliteite geadministreer word.
Hy sê die ANC het gedeeltelik die vraag al beantwoord oor hoe onteiening sonder vergoeding kommunale gebiede gaan raak. Volgens hom lyk dit nie of dit ’n groot invloed op kommunale gemeenskappe gaan hê nie.
Die Matsila-trust het meer as 500 mense in diens wat met beeste, hoenders, groente, wild en vis boer en ook ’n gastehuis bedryf.
“Die klem is op werkskepping en ons probeer om soveel moontlik mense in diens te neem. Ons bates is in hierdie huishoudings en nie in die bank nie.”