Landbouweekblad

‘My glas is halfvol’

Sy het nie matriek geslaag nie, maar is een van die rykste vroue in Engeland. Me. Penny Streeter, eienaar van die Benguela Covewynmak­ery en Engelse entreprene­ur, kén van harde bene kou. Daarom deins sy nie terug vir die probleme in die wynbedryf nie.

-

Sy is nog net 4½ jaar in die wynbedryf. Splinternu­ut in die boerdery, kan jy maar sê. Maar Penny Streeter moes vinnig ’n plan maak om ’n handelsmer­k van nuuts af op te bou en haar wynhandels­merke op die voorgrond te plaas in ’n bedryf waar daar nie ’n tekort aan mededingin­g is nie.

Dis egter nie die eerste keer dat sy verplig was om ’n nuwe bedryf deeglik te leer ken nie. Sy’s ook nie ’n nuweling as dit kom by benarde situasies omkeer tot iets winsgewend­s nie.

“My sukses in die wynbedryf sou uiteindeli­k daarvan afhang of ek optimistie­s genoeg kon wees om dit te maak of nie,” het Penny tydens die WineLand Adams & Adamssemin­aar in Groot Drakenstei­n gesê.

Dit was haar man, Nick Rea, se passie vir bote wat haar in die wynbedryf laat beland het. Walkerbaai by Hermanus is enige bootgeesdr­iftige se droom, maar op dieselfde dag dat die egpaar oordrag geneem het van die herehuis wat hulle op die Benguela Cove-landgoed gekoop het, is die ontwikkela­ar oorlede.

“Daar sit ons met ’n groot huis op ’n landgoed wat in die moeilikhei­d is. Dit het omtrent twee, drie jaar aangehou tot ons in 2013 die landgoed by die ontwikkela­ar se weduwee gekoop het. Toe sit ons met ’n eiendomson­twikkeling en ’n bietjie wingerd – tot ons agtergekom het ons het eintlik redelik baie wingerd!”

GEEN MATRIEK NIE

Penny (51) kon nie altyd dinge doen soos herehuise of landgoeder­e koop nie. Haar lewe is ’n regte Aspoestert­jie-verhaal. Rags

to riches, soos die Engelsman sou sê. Sy is gebore in die destydse Rhodesië, waar sy idilliese kinderjare deurgebrin­g het tot in 1979, toe haar familie, nes baie ander, Zimbabwe moes verlaat. Die gesin van ses het net $1 000 gehad en is Londen toe.

Haar ouers se huwelik kon nie die beroering oorleef nie en hulle is kort daarna geskei. Penny se pa, die skrywer Peter Stiff, is terug Johannesbu­rg toe.

“Ek was seker omtrent 11 of 12 jaar oud en moes in ’n Britse skool probeer aanpas. Ons het nie in gegoede buurte gewoon nie, en omdat ek van Afrika was, het die kinders my van die bus af gejaag en ’n rassis genoem. Dit was ’n baie tawwe tyd, en ek was net ’n kind,” onthou sy.

As tiener het sy besluit om by haar pa in Johannesbu­rg te woon, waar sy by die Hoërskool Alberton ingeskryf is. Gou het sy besef sy pas ook nie in die streng Suid-Afrikaanse skolestels­el in nie.

“Ek was te kosmopolit­ies en ’n rebel. In graad 10 het ek die skool verlaat en teruggegaa­n Engeland toe. Sonder matriek of enige formele opleiding, maar ek was so vry soos ’n voël en kon werk en doen wat ek wou.”

Sy’t haar hand aan verskeie dinge gewaag – van ’n intern by ’n versekerin­gsmaatskap­py tot ’n skoonheids­terapeut.

HAWELOOS EN BANKROT

“My lewe het begin toe ek by ’n personeelw­erwingsage­ntskap instap en hulle toevallig iemand soek om by hulle te begin werk. Die trapmeule vir die volgende twintig jaar van my lewe het begin. Ek was baie goed met personeelw­erwing, want ek het ’n intuïtiewe aanvoeling gehad om mense bymekaar te bring. Maar ek het té goed gevaar en te veel kommissie verdien. Soveel dat my baas my afgedank het omdat hy iemand goedkoper kon kry om die werk te doen.”

Omdat sy so goed by die agentskap gevaar het, het sy geglo sy kan haar eie ondernemin­g begin. Saam met haar ma en ’n kollega het hulle geld by banke en familie geleen en kort voor die ineenstort­ing van die eiendomsma­rk in 1989 hul eie agentskap geopen.

“Toe wil niemand mense in diens neem nie en ons speel bankrot. Dit was ’n afgryslike tyd. Daar was skuldeiser­s, my kar is teruggevat en ek het twee kinders gehad.”

Sy en haar eksman het toe opgepak om in haar suster se restaurant in Alberton te gaan werk.

“Dit was 1992 en 1993; ’n skrikwekke­nde tyd in Johannesbu­rg. My jongste dogter het siek geraak, ek was weer swanger, my huwelik het in duie gestort en my man het verdwyn. Ek het niks gehad nie, maar het besluit ons moet teruggaan Engeland toe, waar ons in ’n huis vir haweloses moes woon. Al wat ek gehad het, was ’n deck chair. Dis al.”

Haar pa het haar geleer niks sal ooit vir haar op ’n skinkbord aangebied word nie. Sy moes haar boude lig en hard werk as sy iets wou bereik.

“Ek het besef niemand gaan my help nie en ek sal verantwoor­delikheid moet neem vir my situasie. Met niks geld nie en ook nie ’n kredietgra­dering nie, het ek my ma wéér oortuig om ’n besigheid te begin. ’n Suid-Afrikaanse skoolvrien­d het vir ons ’n hoekie van sy besigheid in Londen geleen van waar af ons kon werk. Omdat ons niks geld gehad

‘In 2006 het ek my OBE van koningin Elizabeth II gekry. As ’n meisie van Alberton, sonder matriek, dit kan regkry, kan enigiemand dit doen.”

het nie, het ons oor naweke kinderverm­aak gedoen. Ons het elke Saterdag en Sondag by kinderdisk­o’s gewerk en die geld in ons besigheid gesteek. Dit was ’n interessan­te situasie, maar dit het vir ons gewerk. Ons was bereid om enigiets te doen.”

‘BO SAAM MET RICHARD BRANSON’

Toe boor sy ’n aar raak wat haar toekoms nuwe kleur gee. Penny het besef daar is ’n behoefte aan 24/7-werwingsdi­enste vir gesondheid­sorgen verpleegpe­rsoneel.

“Niemand het so ’n diens verskaf nie, ons mededinger­s het van nege tot vyf gewerk. Ons raak toe 24/7. Vandag is elke liewe gesondheid­sorg-werwingsma­atskappy in Brittanje 24/7, maar ons was gelukkig genoeg om eerste te wees.”

As ’n klein besigheid moes Penny die kers aan twee kante brand.

“Ek moes heelnag deur werk; ons kon nooit afskakel nie. Ek moes die beeld voorhou dat ons in ’n kantoor werk, nie dat ek eintlik in my bed sit of my kinders vashou nie.”

Penny het haar vingers stompies gewerk en haar besigheid, Ambition 24, het begin groei. “Op ’n dag kry ek ’n oproep van die Sunday

Times en hulle vra of ek besef my ondernemin­g is die snelgroeie­ndste maatskappy in Brittanje. Ons was daar bo, saam met ouens soos Richard Branson. Dit was ongeloofli­k, regtig ’n groot oomblik vir ons almal, maar ons wou nie ophou werk, ons oog van die bal afhaal en ons sukses te veel geniet nie.”

In Februarie 2004 was sy en Nick in Suid-Afrika.

“Ons sit daar op Bloubergst­rand en dis een van daardie perfekte oomblikke met die sonsonderg­ang, die uitsig oor Tafelberg, ’n glas wyn in die hand . . . en ek en Nick sê vir mekaar, stel jou voor ons kan Londen los en die ondernemin­g van Kaapstad af bedryf.”

Twee maande later was hulle terug in die land om die moontlikhe­id te ondersoek. Op 1 Augustus het hulle ’n gebou gekoop en op 1 Oktober het hulle van daar af begin sake doen.

“Aanvanklik het ons besigheid geduik, maar dit het mettertyd weer begin optel. Uiteindeli­k het dit ons ook ’n doeltreffe­nde en unieke perspektie­f gegee wat ons mededinger­s nie gehad het nie.”

Haar sakeryk bestaan uit ’n groot klomp handelsmer­ke – sy glo daaraan om met haarself mee te ding. Penny bestuur steeds al die ondernemin­gs en werk elke uur wat sy kan.

“In 2006 het ek die eerbewys Officer of the Most Excellent Order of the British Empire (OBE) van koningin Elizabeth II gekry. Dit was ’n trotse oomblik, want dit het bewys as ’n meisie van Alberton dit sonder matriek kon regkry, kan enigiemand dit doen.”

PINOTAGE IN BRITTANJE

Maar wat het verpleging met wyn te doen? “Die twee kan nie verder van mekaar

verwyder wees nie! Toe ons Benguela Cove gekoop het, het ons regtig niks geweet van die wynbedryf nie. Ons het ’n klomp kenners geraadplee­g en almal het ons aangeraai om die druiwe te verkoop. Ek het nie van die idee gehou nie en teen almal se raad in, het ek gesê ons gaan wyn maak. Toe sê almal vir my ek sal ’n verkoopstr­ategie moet hê as ek soveel wyn wil maak. Ek het nie een gehad nie.”

In daardie stadium het die geriewe op Benguela Cove nie juis besoekers gelok nie. Om die handelsmer­k uit te bou, het sy die Lakeside Lodge & Spa op Sedgefield gekoop en die Benguela Brasserie in die hotel begin om blootstell­ing aan Benguela Cove te gee. Later het hulle ’n restaurant op Somerset-Wes geopen (Benguela on Main, wat nou bekend staan as Nom Nom) om hul wyne te verkoop.

“Dit was my verkoopstr­ategie, al het my finansiële direkteur gedink ek is mal.”

Toe Britse vonkelwyn begin opslae maak het, het Penny wynplase in Engeland gaan besoek. “Vergeleke met wat die SuidAfrika­anse wynbedryf en toerisme bied, was dit ’n baie slegte ervaring. Ek het begin wonder . . . wat as ons ’n proesentru­m in Engeland open, dan kan mense mos ons Benguela-wyn daar koop.”

In 2016 het sy Mannings Heath, ’n baie ou gholfbaan in Sussex, gekoop en sowat 24 ha vonkelwynk­ultivars aangeplant. Mannings Heath het die eerste gholf-en-wynlandgoe­d in Brittanje geword. Sy het ook ’n Benguela Brasserie daar geopen en Benguela Covewyne daar verkoop.

“Dit was regtig ’n goeie besluit, want dit het bewusmakin­g geskep onder besoekers. ’n Mens besef nie hoeveel toeriste beweeg tussen die Kaap en Brittanje nie.”

Kort daarna het sy op die ingewing van die oomblik by ’n ‘‘te koop’’-bordjie naby Mannings Heath stilgehou.

“Ek het die ongeloofli­kste landgoed, Leonardsle­e Lakes & Gardens, daar aangetref. Dit dateer terug tot die 18de eeu en spog met een van die vyf mooiste tuine in Engeland. Ons het dit verlede jaar gekoop en is besig om die eiendom op te knap. Toe die plek tien jaar gelede toegemaak het, het die tuine 50 000 besoekers van reg oor die wêreld gelok, ons verwag om volgende jaar meer as 500 000 besoekers te verwelkom. As elkeen van hulle een bottel Benguela Cove-wyn saam met hulle vat, is ons daar . . .”

Sy het ook wingerd op Leonardsle­e laat aanplant – onder meer die eerste Pinotage in Brittanje. “Ek is bly om te sê dit floreer.” Ja, erken sy, sy het heeltemal te veel afgebyt toe sy destyds die wynbedryf betree het. Baie meer as wat sy kon kou. Maar sy doen dit nie alleen nie.

“Ek moes ’n baie sterk span rondom my bou sodat ons al ons doelwitte kon bereik. Ons was gelukkig om vir Johan Fourie as wynmaker te kon aanstel; hy geniet dit ook om op twee vastelande te werk.

“Die wynbedryf is kompleks; daar is baie dinge wat teen jou kan werk, soos die politieke situasie, toerisme, die droogte. Jy moet die hele tyd op jou tone wees. Dis moeilik om nie swartgalli­g te raak nie, maar ek kan net oorleef deur hoopvol te wees.”

As sy moet saamvat hoe ’n meisie sonder matriek een van die rykste vroue in Engeland geword het?

“Stel doelwitte, bereik dit. Skep netwerke en praat met mense; jy het niks om te verloor nie. Wees optimistie­s.

“Die sakewêreld is moeilik, doen alles wat jy kan om te groei. Dit gaan nooit maklik wees nie; daarom moet jy elke dag vernuwend wees. En jy moet heeltemal toegewyd wees aan wat jy doen. Jy kan nie net daarin belang stel nie, jy moet dit eet, slaap, drink . . . dag in en dag uit.”

 ??  ?? Benguela Cove het verlede jaar ’n moderne kelder, restaurant, proelokaal, kindergeri­ewe, geskenkwin­kel en konferensi­esentrum geopen. Penny glo daaraan dat Benguela Cove iets vir almal moet bied.
Benguela Cove het verlede jaar ’n moderne kelder, restaurant, proelokaal, kindergeri­ewe, geskenkwin­kel en konferensi­esentrum geopen. Penny glo daaraan dat Benguela Cove iets vir almal moet bied.
 ??  ??
 ??  ?? Penny Streeter se aangrypend­e lewensverh­aal klink soos ’n moderne Aspoestert­jie-storie.
Penny Streeter se aangrypend­e lewensverh­aal klink soos ’n moderne Aspoestert­jie-storie.
 ??  ?? Benguela Cove het uitsonderl­ike terroir, waar Johan Fourie uitstekend­e wyne maak.
Benguela Cove het uitsonderl­ike terroir, waar Johan Fourie uitstekend­e wyne maak.
 ??  ?? Mannings Heath, Engeland se eerste gholf-en-wynlandgoe­d.
Mannings Heath, Engeland se eerste gholf-en-wynlandgoe­d.
 ?? FOTO: PETER TRIMMING / LEONARDSLE­E GARDENS, SUSSEX ?? Leonardsle­e se manjifieke tuine. Daar is ook onlangs ‘n Pinotage-wingerd – die eerste in Brittanje – aangeplant.
FOTO: PETER TRIMMING / LEONARDSLE­E GARDENS, SUSSEX Leonardsle­e se manjifieke tuine. Daar is ook onlangs ‘n Pinotage-wingerd – die eerste in Brittanje – aangeplant.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa