Stel grond reg voor jy met bewaringsboerdery begin
As jy die basiese beginsels van bewaringsboerdery volg én dit met dekgewasse aanvul, kan jy gouer voordele geniet, meen ’n veteraan-grondkundige van KwaZulu-Natal. Dit help ook as jy die wanbalanse in jou grond eers regstel.
Deur eers verskraalde grond te herstel kan die oorgang na bewaringsboerdery beter verloop, sê mnr. Guy Thibaud, grondkundige aan die KwaZulu-Natalse departement van landbou en landelike ontwikkeling.
“Daar is boere wat sê bewaringsboerdery werk nie. Dis nie weens inherente tekortkominge van die stelsel nie.
“As geenbewerking groter probleme as konvensionele boerdery veroorsaak het, was daar nie ’n geskatte 120 miljoen hektaar in die stelsel nie.”
Thibaud het op die jaarlikse konferensie van die geenbewerkingsklub van KwaZuluNatal buite Bergville gesê die onvermoë om voordele uit bewaringsboerdery te kry, is eerder te wyte aan die verkeerde toepassing van die stelsel of bestuurskortpaaie wat boere vat.
Thibaud sê dr. Rattan Lal, legendariese grondkundige van die Universiteit van Ohio, het gevind dat grond wat erg verweer en
verswak is weens swak bestuur, nié op bewaringsboerdery sal reageer tensy die fisiese en grondbiologiese eienskappe en voedingstofstatus herstel is nie. ‘‘As jy sê bewaringsboerdery werk nie, het jy al dié eienskappe van jou grond reggestel?’’
Om prakties te sien watter verskil bewaringsboerdery kan maak, behoort boere die sogenoemde heininggrondtoets te doen, sê Thibaud.
Dit word gedoen deur grondmonsters onder die draadheining wat kampe skei en in ’n geploegde land te neem en na die verskille te kyk. Thibaud sê deur net na die twee hopies grond te kyk, kan jy sien watter grond jare lank geploeg is en watter nie.
Prof. Ken Giller van die Universiteit van Wageningen in Nederland en sy kollegas het in 2011 geskryf dat bewaringsboerdery op die lang duur groter opbrengste kan lewer. “Op kort termyn, wat 15 jaar kan wees, is opbrengsverliese ewe moontlik, veral as die grond verskraal was toe jy met bewaringsboerdery begin het.”
GEENBEWERKING ‘NIE GENOEG NIE’
Thibaud sê wat nodig is vir boere om soveel voordele moontlik uit bewaringsboerdery te tap, is om grondsuurheid reg te stel voordat hulle met bewaringsboerdery begin. (Sien ook “Suur strem somersaaiery”, LBW ,26 Mei 2017.)
Daarbenewens behoort boere ook te kyk of hul grond verdig is en op watter diepte die verdigting is. Verdigting moet opgebreek word voordat na bewaringsboerdery oorgeskakel word.
Hy waarsku dat bewerking net tydelike verligting van verdigting bied. “Dis nie ’n blywende oplossing nie. As dit was, waarom sou jy dan die grond elke jaar ploeg?”
Hy het gesê hoewel skaarploeë op ’n tyd nuttig was, het hulle ook groot ellende veroorsaak. “Die groot stofwolke op die Amerikaanse platteland in die 1930’s is veroorsaak toe boere elke jaar die grond geploeg en geêg het en ’n groot droogte die gebiede getref het. Dit het sy tol op die grond geëis en ’n tragedie en ’n grootskaalse uittog van mense uit die gebiede veroorsaak.
“As ’n mens die grond lank genoeg beroof, plunder en verkrag, sal die natuur ons grond sonder vergoeding onteien.”
Die belangrikheid van organiese materiaal in die grond onder ’n grasherstelgewas in Suid-Afrika is reeds in 1953 deur J.J. Theron en D.G. Haylett van die Universiteit van Pretoria in ’n wetenskaplike artikel uitgewys. Daarin skryf hulle die voorste oorsaak van dalende gewasopbrengste in Suid-Afrika is die verlies aan bogrond deur erosie. Dít is die gevolg van ’n verlies aan organiese materiaal in die grond weens herhaalde bewerking van die grond.
Vinnige verarming van die geploegde grond word gevolg deur die agteruitgang van grondstruktuur en die resultaat is algemene verwoesting weens wind- en watererosie.
Ondanks die vordering met bewaringsboerdery in die wêreld het gebiede by Hoopstad in die Vrystaat en in die Amerikaanse deelstaat Kansas die afgelope twee jaar in stof opgegaan.
BEDEK DIE GROND
Thibaud sê uiteindelik is die vraag hoe volhoubaar na bewaringsboerdery oorgeskakel kan word. “Ons moet besef dat die behoud van oesreste en organiese materiaal noodsaaklik is vir funksionerende bewaringsboerdery. As ons dit nie erken nie, gaan ons nie uit die wegspringblokke kom nie.”
Hy het mnr. Wayne Reeves van die Amerikaanse departement van landbou aangehaal: “Ons het te veel en te lank op verminderde bewerking van die grond gekonsentreer, pleks van op die behoud van oesreste as die hoofgereedskap vir bestuur.”
Eweneens het Lal gesê gewasse wat nie noemenswaardige oesreste op die grond laat nie, kan nie aanhoudend in ’n bewaringsboerderystelsel verbou word sonder om die fisiese eienskappe van die grond ernstig te benadeel nie.
In 2009 het James Hoorman, voorligtingsen opleidingsbeampte oor dekgewasse en watergehalte by die Universiteit van Ohio se voorligtingsafdeling, en sy kollegas geskryf dat boere in die Amerikaanse Midde-Weste nie veel sukses behaal het met mielies in ’n geenbewerkingstelsel nie.
“Boere sê dit duur sewe tot nege jaar om van konvensionele boerdery na bewaringsboerdery oor te skakel. Gedurende die oorgang is opbrengste 10% tot 20% laer, maar hulle het gevind dat die gebruik van dekgewasse die oorgangstyd tot twee tot vier jaar kan verkort.”
Thibaud sê een van die motiverings om grond reg te stel om die voordele van bewaringsboerdery te kry, is dat dit volgens dr. Jill Clapperton, kundige op die gebied van grondgesondheid, drie tot vyf jaar duur vir ongestruktureerde grond met min organiese materiaal om die biologiese eienskappe te ontwikkel wat nodig is om grondstruktuur te verbeter.
“Sy stel voor dat boere na bewaringsboerdery oorslaan ná ’n meerjarige gewas- of weidingsfase van twee tot vyf jaar.”
‘As jy sê bewaringsboerdery werk nie, het jy al dié eienskappe van jou grond reggestel?’