’N CHINESE DOP
Hulle was die onwaarskynlikste twee mense om vriende te wees.
My oupa, die ou jintelman wat altyd ’n das gedra het, hetsy jy beeste op die plaas gaan kyk het of Queenstown toe is vir ’n besoek aan die tandarts. Sy onberispelike maniere was gegrond in sy geloof dat as jy nie iets goeds oor iemand kan sê nie, moet jy liewer stilbly.
Toe die Chinese smous Danny en sy vrou in die vroeë 2000’s op ons Oos-Kaapse dorpie beland het, kon hulle skaars Engels praat. Deur dag en nag te werk en buitengewone klantediens kon hulle mettertyd hul klein onderneming opbou totdat Danny later ’n drankwinkel kon aanskaf. Dit was ’n goeie, maar gevaarlike sakebesluit daar in ons wêreld op die grens van die voormalige Transkei waar drankmisbruik dikwels gewelddadig aan die verrinneweerde weefsel van ons plattelandse gemeenskappe torring.
My oupa het veel meer as net ’n harde werker in Danny raakgesien. Die vriendskap het oor die jare gevorder, en later het Danny en my oupa saam gholf gespeel. My oupa, ’n behoudende mens wat sy lewe lank kroeë vermy het, het selfs soms ’n flou brandewyn en water saam met Danny gedrink ná hul nege putjies op ’n Woensdagmiddag.
Die oubaas van oor ’n honderd het in ’n wêreld geleef wat nie meer herkenbaar was nie. Die Chinese immigrant het dié wêreld nooit geken nie. Maar miskien het albei die eensaamheid verstaan van hoe dit voel om ’n immigrant te wees.
Die gasvryheid van Afrikaanse plattelanders het so ’n indruk gemaak op my oupagrootjie, vars uit Ierland, dat dit geen verrassing was toe sy seun met Susanna van der Walt van Middelburg getrou het nie. Danny, een van honderde miljoene Chinese in ’n klein dorpie, was toe aan die ander kant van die wêreld. Nou sit en gesels twee immigrante in die flou winterson.
Toe my oupa in die ouderdom van 102 oorlede is, het Danny sy vriend skamerig uit die agterbanke van die ou NG kerk in Voortrekkerstraat kom groet. Toe Danny se vrou later met borskanker gediagnoseer is, het oom Arthur Stötter, wat daar na Ida se kant toe boer, seker gemaak hulle kom gereeld in Bloemfontein vir behandeling. Dit was egter vergeefs.
Verlede week, net toe Danny sy drankwinkel sluit, staan daar drie netjies geklede manne by sy deur. Hulle het sy naam geroep en bier gesoek. Danny het oopgesluit, maar dié keer was dit ’n gruwelike fout. Hulle het hom na die agterkamer gesleep op soek na geld en hom erg seergemaak. In ’n swymel het hy bloeiend agterna gestrompel toe hulle die winkel verlaat. By die deur het een van hulle omgedraai en hom geskiet.
Wanneer pres. Cyril Ramaphosa dit weer goed dink om ligtelik met mense se smart om te gaan, soos toe hy onlangs by die Verenigde Nasies in New York homself nie so ver kon kry om plaasmoorde te erken nie, hoop ek dat hy minstens aan Danny sal dink. En aan my oupa. En oom Arthur Stötter. En al die mense op my dorp wat treur oor ’n Chinese immigrant.
Ek hoop hy sal dink dat sulke gruweldade in enige samelewing eenvoudig onaanvaarbaar is en dat die ontkenning daarvan nóg erger is. Al was Danny nie ’n boer nie, en al sou my oupa dit nooit goedpraat dat iemand die President slegsê nie. — CHRIS BURGESS