VEE STRATEGIES INGEBRING
Mnre. Cobus en JP Bester is betreklik nuut in die veebedryf. In die koring-monokultuurstelsel het hulle ’n troppie SA Vleismerino’s vir slagskape aangehou.
In 2012 het hulle van SA Vleismerino’s na fynwolskape oorgeskakel. Cobus sê dié skape se ligter karkasse maak hantering maklik en hul wol is beter. “Ons tydsberekening was goed. Toe die wolprys begin styg het, het ons klaar oorgeskakel.”
Hulle het ook Nguni’s in die stelsel ingebring om “biologiese voëlbeheer” te doen. Die beeste, wat hulle by mnr. Hannes Eksteen van Piketberg gekoop het, is gekies omdat hulle gehard is en die sewe droë somermaande die beste kan weerstaan, maar ook om die riete in die klowe te vreet en sodoende die voëls wat in die riete broei, van die koring weg te hou. Deesdae wei hulle ook op die lande wat te veel materiaal het vir die tandplanter om te loop.
Die Besters probeer om alle kampe sowat 50 ha groot te maak. Die ooie wat lam, word aanvanklik in klein troppies van 100 gehou. As die lammers gespeen is, word die troppe bymekaargesit om troppe van 300 te vorm.
Die troppe word volgens die toestand van die weiding geskuif. Daar is nie ’n vaste reël nie. “Dit is baie goed om die diere te skuif, veral uit ’n wortelontwikkelings- en koolstofbou-oogpunt. Die diere se mis is deel van die stelsel. Dit is die laaste piek van die proses om gratis materiaal in kompos om te sit sonder om diesel en masjinerie te gebruik,” sê Cobus.
Hulle boer ekstensief met die ooie, sonder ’n stelsel van lamhokke of lamkampies.
Die afgelope vier jaar was besonder wisselvallig: 2015 was droog, en hoewel 2016 se reënval nie so hoog was nie, het hulle ’n goeie oes behaal. 2017 was die droogste jaar die afgelope 90 jaar, en vanjaar kan die oes so groot soos dié van 2016 s’n wees as Oktober nie te warm en droog begin nie, sê Cobus.
“Wat vanjaar anders is as in 2016, is dat ons ’n baie goedkoper oes het. Die stikstoftoedienings is laer en swambespuitings by die graan is ook laer.”