Tem onkruid in kwekery met plastiekseile
Onkruid vergaan nie, maar soms ís daar ’n plan om die onkruid te tem en terselfdertyd koste te besnoei. Die Oos-Kaapse boer mnr. Erich Cloete het die gebruik van polipropileenplastiek, algemeen in Amerikaanse kwekerye, aangepas vir groter doeltreffendheid
Die Cloete-familie van die plaas Sanctuary naby Cradock bespaar arbeid, plek, tyd én geld in sy pekanneutkwekery danksy geweefde polipropileenplastiek se vermoë om water en kunsmis deur te laat. Die chemiese bestryding van onkruid is nou iets van die verlede, en die bedryfskoste per boompie het verminder van 30 sent per boom tot slegs 8 sent per boom.
Mnr. Erich Cloete (“Pekanneute bring goeie geld vir aftrede”, LBW, 17 Februarie 2017) sê onkruidbestryding by jong saailinge in hul kwekery besorg hom baie hoofbrekens.
Hy sê die bestryding van onkruid is noodsaaklik omdat die onkruid met jong saailinge meeding en groei beperk.
Cloete het voorheen hoofsaaklik handearbeid gebruik om die onkruid tussen die plantjies uit te skoffel en moes dit drie keer per jaar laat doen, wat baie tyd en koste verg. “Ons het die onkruid ook chemies bestry, maar dit is nadelig vir die wortelontwikkeling van die jong saailinge.”
Hy het op die seil afgekom toe hy bedryfsake by Amerikaanse kwekerye ondersoek het. Geweefde polipropileenplastiek word wyd in die landbou gebruik, maar word veral in kwekerye vir onkruidbestryding benut omdat dit water en kunsmis deurlaat, maar nie sonlig nie, wat keer dat onkruid groei.
LEER EN PROBEER
Voorheen is die pekanneutsaailinge in enkelrye in oop grond, een meter uit mekaar, geplant. Hulle moes genoeg ruimte tussen die saailinge los sodat die werkers tussen die plantjies kon skoffel.
In die eerste jaar dat hulle die seile gebruik het, het hulle die bome in enkelrye tussen die seile geplant. “Dit het egter nie so lekker gewerk nie, want daar was steeds te veel onkruid.”
Dit is toe dat hulle met die plan vorendag gekom het om gate in die seil te brand met ’n warm yster wat gebruik word om skape mee te onthoring. “Ons was aanvanklik skepties, maar toe die neute opkom, het dit uitstekend vir onkruidbestryding gewerk.”
Nou plant Cloete die pekanneutpitte in gate in die seil met drie rye per seil wat 15 cm uit mekaar geplaas word. Elke strook seil van 1 meter breed is min of meer ’n halwe meter uit mekaar. Hulle kan nou die onkruid tussen die plastiekrye weg van die boompies beheer en gebruik onkruiddoders, soos Roundup en ’n grasdoder, om die versteuring van die grond te beperk.
Een voordeel van die nuwe plantmetode is die plek wat hy bespaar. Cloete plant nou
nagenoeg 70 000 jong boompies op ’n halwe hektaar waar hy gewoonlik slegs 25 000 kon plant. Sy plantestand het dus toegeneem tesame met ’n gunstiger omgewing vir die boompies. “Dit bring vir ons ’n reusebesparing wat tyd en arbeid betref.”
Hy meen ’n verdere verbetering tot die plan sal wees om die regte skadunette oor die saailinge op te rig vir ’n gunstiger klimaat en beskerming teen natuurlike rampe.
KOSTE DIE MOEITE WERD
Volgens Cloete gaan baie boompies verlore wanneer die werkers tussen die boompies skoffel. “Jy verloor baie boompies waarvan jy nie eens weet nie.”
Hy sê hoewel die seil duur is, is dit die koste werd. Dit kos hulle sowat R10 000 om ’n hektaar se saailinge skoon te skoffel, en omdat dit drie keer per jaar gedoen word, bring dit die skoffelkoste op sowat R30 000 per jaar te staan. Die koste van die seil vir 1,5 ha was sowat R100 000 (Sien ook TABEL bo).
Gewone plastiek kan ook gebruik word mits druppers onder die seil gelê kan word om in die saailinge se waterbehoefte te voorsien. Cloete sê egter dit sal nie vir hom moontlik wees nie, aangesien hy die saailinge met ’n laaigraaf uithaal, wat die druppers sal beskadig. Andersins moet hy die stelsel elke keer herinstalleer of die plastiek vernietig.
Hy reken die plastiek sal ongeveer drie keer hergebruik kan word. Om te verseker dat die plastiek nie beskadig word nie, lig hy dit oor die jong lote net voor die 13 maande oue boompies hul eerste blare kry. “Die bome maak dan hul eie skaduwee wat keer dat onkruid begin oorneem.”
BESPAAR OOK WATER
Cloete verduidelik dat die opkoms van die saailinge in seile baie beter is as dié wat in die oop grond geplant is.
“Ons gebruik ook nanotegnologie, vloeibare gips van Goldsuite, vir ’n egaliger opkoms aangesien ons grond ’n hoë klei- en natriuminhoud het. Dit is besonder doeltreffend omdat die vloeibare gips vinnig reageer, soute uitwas en flokkulering of aggregasie skep, wat nodig is vir ’n gunstige grondstruktuur.”
Cloete sê dit lei tot wortelgroei, lug en die beweging van water en is ’n goeie bron van kalsium vir wortelontwikkeling. “Die plantjies is nou sterker omdat hulle nie meer met onkruide meeding nie.”
Hy sê boonop bly die grond nou langer klam vanweë minder verdamping en is die grondtemperatuur hoër, wat verder bydra tot beter ontkieming en groei.
PLANTSAKKE VIR PEKANNEUTBOME
Hy het begin om die saailinge in sakke van 1 m diep te plant. “Die pekanneutboom het ’n vreeslike diep wortelstelsel en jy kan hom nie in ’n gewone kweeksak plant nie.”
Cloete verduidelik dat hulle danksy die dieper sak, wat hulle spesiaal laat ontwerp het en Algoa Plastics maak, nie meer seisoensgebonde is nie. “Voorheen moes ons die jong kwekelinge direk probeer verkoop. Die voordeel van die dieper sak is dat die boompie enige tyd van die jaar suksesvol uitgeplant kan word.”
Soos met die teelmateriaal van hul Dormer-stoetery gebruik hulle slegs die beste genetiese entmateriaal uit hul boorde wat in hul kwekerye oorgeënt of geökuleer word. “Ons identifiseer elke jaar die bome in ons boorde wat die beste neute lewer en gebruik dit in die kwekery.”