Die gevoel van verwerping
‘Alleshettogsy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar tyd’
Verwerping is een van daardie glibberige woorde wat jy kan aantrek sodat dit in verskillende situasies kan pas. As jy nie ’n ding reguit wil sê nie, doen jy dit op ’n genuanseerde manier. Dan kan jy die ongunstige effek versag.
Hier is ’n voorbeeld: Mnr. A is ’n ambassadeur wat ons Regering verteenwoordig in ’n land met wie ons ’n voordelige, maar ook delikate, verhouding het. Mnr. A het in ’n oomblik van ongekende dwaasheid ’n ding gedoen wat hom totaal ongeskik gemaak het vir sy pos. Hy kon nie langer aanbly nie. Op die vraag wat met mnr. A gebeur het, volg daar dalk twee verskillende antwoorde. Op die keper beskou, impliseer albei verwerping.
Die eerste antwoord is dat hy teruggeroep is om herontplooi te word. Die tweede antwoord is meer op die man af: “Mnr. A het lelik klei getrap en is herroep.”
Verwerping – of dit op ’n mooi manier of blatant gebeur – is nie lekker nie. Die een met wie dit gebeur, voel sy tyd is verby. Hy voel dalk self nog nie so nie, maar ander het die besluit geneem en hom die trekpas gegee. Jou raklewe is verby. Iemand anders sal jou plek inneem en die wêreld sal nie vergaan sonder jou nie. Jy is nie langer die ‘‘meneer in bevel’’ nie. Jy sal in die tou moet staan en jou identiteit is weinig meer as ’n nommer.
Jy sal self hierdie ‘‘verwerping’’ moet bestuur. Wanneer jou tyd aanbreek, doen dit sonder om jou waardigheid en die goeie karaktertrekke van jou menswees prys te gee.
Jou uitskakeling hoef nie verwerping te beteken nie – dis net die uurglas wat leegloop en jy moet dit aanvaar met jou kop omhoog.
Die wyse Prediker het met goeie rede gesê: “Alles het tog sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar tyd” (Pred. 3:1).