Ratwerk vir onteiening draai stadig
’n Belangrike aspek van grondonteiening wat verlore raak in die huidige debatvoering oor grond, is dat dit ’n uitgerekte proses is. As ’n besluit om te onteien sonder vergoeding in die Parlement deurgevoer word, kan dit jare duur voordat die nodige wetsra
Minstens drie jaar kan verloop voordat die land ’n bestel van onteiening sonder vergoeding gaan sien.
Die onteieningsproses vind nie oornag plaas nie en een waarin geen vergoeding betaal word nie, kan jare duur om afgehandel te word, sê me. Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA. Die enigste wetsraamwerke wat tans in Suid-Afrika bestaan vir onteiening, is die Onteieningswet (Wet 63 van 1975) en artikel 25 van die Grondwet (sien KASSIE hiernaas). Om ’n wetlike raamwerk vir onteiening sonder vergoeding op te stel, verg meer as om net die Grondwet te verander.
Ander wetgewing en regulasies moet ook opgestel word om die meganismes vir onteiening sonder vergoeding te skep. Verder kan ál hierdie prosesse in die howe betwis word.
DIE HUIDIGE PROSES
Wanneer die staat besluit om grond te onteien, moet hy ’n onteieningskennisgewing aan die eienaar beteken. Die kennisgewing moet óf persoonlik aan die eienaar oorhandig word óf per geregistreerde pos gestuur word. Die kennisgewing moet ’n duidelike beskrywing van die eiendom bevat, asook die ligging en grootte, en die datum van onteiening.
Die reg tot die betrokke eiendom skuif op die datum van die onteiening oor na die staat. Tussen die datum waarop die kennisgewing beteken word en wanneer die staat werklik besit van die eiendom oorneem, moet die eienaar van die grond voortgaan om dit in stand hou en alle belastings en ander heffings (soos eiendomsbelasting, water en elektrisiteit) daarop betaal.
Die eienaar kan egter intussen voortgaan om die grond te gebruik en inkomste daaruit te kry tot die staat die grond in besit neem.
VERGOEDING
Soms word ’n vergoedingsbedrag reeds in die onteieningskennisgewing aangebied. In só ’n geval moet die eienaar binne 60 dae ná die datum in die onteieningskennisgewing aandui of hy die vergoeding aanvaar of nie. As hy nie met die aanbod tevrede is nie, moet hy aandui hoeveel geld hy wil hê en hoe sodanige bedrag bereken is. As geen vergoeding aangebied is nie, moet die eienaar ook binne 60 dae die bedrag aandui wat hy as vergoeding wil hê.
Die eienaar moet volledige besonderhede gee van alle verbeterings op die grond en van enige huurkontrakte op die grond.
Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming kan die eienaar versoek om binne 60 dae sy titelbewys aan die minister te lewer.
As die eienaar ’n bedrag vergoeding eis wat nie vir die minister aanvaarbaar is nie, kan die minister ’n ander bedrag aanbied. As die eienaar nie daarmee tevrede is nie, moet hy binne ’n tydperk in die kennisgewing wat die minister bepaal, by die Hooggeregshof aansoek doen om ’n vasstelling van vergoeding. Versuim om dit te doen word geag as aanvaarding van die bedrag wat aangebied is.
Indien geen ooreenkoms bereik kan word nie, moet die Hooggeregshof die vergoeding
vasstel. Enige van die partye kan steeds ’n skikkingsaanbod aan die ander party maak, voor die hof uitspraak gee.
Wanneer die staat en die eienaar wel ooreenkom oor die vergoedingsbedrag, moet die minister op die dag waarop die staat besit van die grond neem, minstens 80% van die ooreengekome bedrag aan die eienaar betaal, of dit by die Meesterskantoor stort as die grond onderhewig is aan ’n fideikommis.
BEPALING VAN VERGOEDING
Die Onteieningswet bepaal dat vergoeding nie meer mag wees as wat ’n gewillige koper sou betaal nie. ’n Bedrag van werklike geldelike verlies wat deur die onteiening veroorsaak word, kan ook toegestaan word. As daar geen ope mark vir die spesifieke eiendom bestaan nie, moet die verbeterings minstens vergoed word, of kan vergoeding op ’n ander geskikte wyse bepaal word.
Die wet maak ook voorsiening vir sogenoemde tranegeld – ’n vergoeding vir emosionele verlies. Omdat die Grondwet egter nie voorsiening maak vir tranegeld nie, sal dit waarskynlik nie meer in die toekoms betaal word nie. Verder word ook voorsiening gemaak vir die betaling van rente teen die standaardkoers volgens die skatkiswet. (Sien KASSIE vir nog inligting.)
ANDER WETTE OOK GEWYSIG
Dit is belangrik om kennis te neem dat geen wetgewing tans bestaan om grond sonder vergoeding te onteien nie. Baie werk moet nog gedoen word om ’n wysigingswetsontwerp vir die Grondwet op te stel, en as deel van hierdie proses sal die Parlement boonop weer deur prosesse van openbare kommentaar en verhore moet gaan.
Benewens die grondwetswysiging sal die wetsontwerp op onteiening ook afgehandel moet word. Dié wetsontwerp is reeds tien jaar in die parlementêre proses, en die Departement van Openbare Werke het dit onlangs onttrek hangende die hersiening van die Grondwet wat tans onderweg is.
Ander wette wat aan die staat onteieningsmagte verleen – soos die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994) en die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) (Wet 62 van 1997) – sal ook gewysig moet word om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.
Benewens die tydsduur om al dié wetsveranderings deur te voer, is dit ook waarskynlik dat ’n aantal belanghebbende groepe hofaansoeke kan bring om die geldigheid van sulke wetgewing en onteienings te bevraagteken.
’n Wilde raaiskoot is dat minstens drie jaar kan verloop voordat die land ’n bestel van onteiening sonder vergoeding gaan sien.
Die moderne benadering tot vergoeding is gegrond op die beginsel van gelykheid om openbare laste te dra. Billikheid rakende openbare aanspreeklikheid is ’n beginsel wat deur die Franse, Duitse en Amerikaanse reg aangeneem is. Volgens hierdie benadering “waar een of meer individue ’n opoffering moet maak (die verlies van eiendom) in die belang van almal”, moet hul individuele en oormatige las deur die staat vergoed word.