OM RIGTING TE KRY
1 000 000 000 000. Oftewel R1 biljoen. Dít is hoeveel oudpres. Jacob Zuma se wanbestuur Suid-Afrika se ekonomie gekos het, volgens die Universiteit Stellenbosch. Dit is natuurlik buiten die miljarde rande wat binne die staatsdiens en staatsbeheerde maatskappye verdwyn het. Die enigste troos in hierdie patetiese petalje is dat R1 biljoen se belasting ook van Zuma se plunderbende weerhou is.
Nou, ná die jare lange partytjie waartydens na hartelus gesteel is, moet die belastingbetaler egter die rekening betaal. Die land hang oor die afgrond. Staatskuld, soos by Eskom, is nou meer as die helfte van die nasionale inkomste. Graderingsagentskappe dreig met nog afgraderings indien dié skuld nie stabiliseer nie. Maar omdat die ekonomie nie aan die gang kom nie, sukkel ons om die skuld te betaal.
Om sout in die wonde te vryf, is brandstof duurder tuis as in die buurlande wat deur Suid-Afrika voorsien word, en werkloosheid is erger as ooit (meer as 50% van ons jong mense sit sonder werk). Namate die geld skrapser word, kwyn voedselsekerheid. Byna ’n kwart van die land se huishoudings gaan slaap deesdae honger.
Hierdie situasie skep ’n teelaarde vir allerlei populisme, veral oor grond. Namate die strop nouer getrek word, word vingers gewys om enige aandadigheid aan die gestelery te verswyg, en beloftes word gemaak wat nooit nagekom sal kan word nie.
Net ekonomiese groei kan die land red. Soms voel dit egter soos ’n klomp hamels wat doelloos in die ooikamp rondstrompel. Ons ken die teorie, maar ons is polities gekastreer om iets daaraan te kan doen.
Kommuniste bestuur belangrike ekonomiese portefeuljes, vakbonde verlam die skoolstelsel, en groot dele van die staatsdiens het lankal vergeet wat dit beteken om te werk. Intussen versmoor ál meer arbeidswetgwing en ander regulasies die klein besighede wat werk behoort te skep.
Maar dalk verander dinge tóg. Op die onlangse Aldam-veeskool het dr. John Purchase, Roelf Meyer en Dan Kriek almal gesê dit lyk of die Regering uiteindelik die erns van die saak besef en toelaat dat van ons beste mense begin help. Ná pres. Cyril Ramaphosa se pleidooi om hulp het dr. Johan van Zyl, een van die land se beste sakelui (hy is hoof van Toyota Europa en een van net drie nie-Japannese uitvoerende hoofde in ’n span van 32), op ’n vlug van Tokio af ’n plan begin beraam oor hoe om Suid-Afrika Bpk. se ou Listerenjin weer aan die gang te skop. Groeiplanne, wat teen Januarie aan die President voorgelê sal word, word vir elke ekonomiese sektor saamgestel.
Intussen is ’n adviespaneel met van Suid-Afrika se beste boere en landboudenkers saamgeroep om Ramaphosa met die grondkwessie te help. Die mynmagnaat Patrice Motsepe het ook R100 miljoen bewillig om ’n landbou-ontwikkelingsfonds op die been te bring, terwyl hy vergaderings belê tussen belanghebbendes in die landbou.
Te midde van die ekonomiese gemors bly die landbou ’n trotse bedryf. Ondanks rekorddroogtes, wat ons erg gepootjie het, byna geen ondersteuning van die staat nie, die rand wat aanhou verswak, en tragiese landelike veiligheid, is ons vandag netto uitvoerders van 24 van die 36 produkte wat ons boere produseer. Dit is alles broodnodige inkomste vir ’n land wat smag na harde buitelandse valuta.
Alles is egter nie maanskyn en rose nie. Die droogtes se skade was erg en landbouskuld (hier naby R200 miljard) styg vinniger as die inkomste. Die planne kan dus nie vinnig genoeg in werking gestel word nie. Maar minstens kry ons rigting. — CHRIS BURGESS