STAATSINMENGING BEDREIG BOERE SE WINSTE
DIE kleinveebemarkingskema en die regering se planne om ’n soortgelyke maatreël in die speenkalfbedryf in te stel, is die grootste probleem vir die winsgewendheid van die Namibiese lewendehawebedryf in die nabye toekoms.
Dít was mnr. Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibiese Landbou-unie (NLU), se boodskap by die veeparade op die Windhoekse landbouskou.
Hy sê daar is ’n dringende behoefte aan groei in die Namibiese lewendehawebedryf, wat R4,2 miljard tot die ekonomie bygedra het in 2017. Die beesbedryf het van 2014 tot 2017 gemiddeld 180 000 slagbeeste en 208 000 speenkalwers vir lewende uitvoer geproduseer. Hierdie getalle bly egter al sedert die 1990’s konstant.
Venter sê die bedryf steun plaaslike waardetoevoeging, mits dit ekonomiese groei aanwakker, nuwe werkgeleenthede skep en vir almal in die waardeketting winsgewend is. As die koste van waardetoevoeging egter hoër as die inkomste is, kan dit die hele bedryf vernietig.
DRIE PILARE
Die drie pilare van die lewendehawesektor is uitvoerslagplase, slag vir plaaslike verbruik en die uitvoer van lewende vee. Al die pilare is noodsaaklik vir volhoubaarheid. Mededinging tussen die drie is noodsaaklik om ’n regverdige mark vir alle primêre produsente te verseker. Daarom praat die NLU deurgaans met die president se kantoor en relevante staatsdepartemente, sê Venter.
Hy sê om groei in die lewendehawebedryf aan te moedig, is beleidsekerheid oor grond en eiendomsreg noodsaaklik, want primêre produsente moet deurgaans in grond belê om hul produktiwiteit te bevorder.
“Beleggings sal nie plaasvind as die grondeienaar onseker oor toekomstige beleide is nie,” sê hy. Die skaapbedryf se ondervinding toon dat uitvoerperke winsgewendheid laat krimp, wat lei tot ’n gebrek aan vertroue en verarming.