Landbouweekblad

VERBOUINGS­PRAKTYKE

-

In Australië word katoen hoofsaakli­k binnelands in die state Nieu-Suid-Wallis (NSW) en Queensland verbou. Die totale aangeplant­e oppervlakt­e wissel na gelang van die reën van 200 000 ha tot 600 000 ha. Sowat 80% tot 95% daarvan word besproei.

Australië se gemiddelde opbrengs van katoen onder besproeiin­g is tans die hoogste van alle katoenprod­userende lande en byna drie keer die wêreldgemi­ddelde. Die top-20% Australies­e katoenboer­e behaal opbrengste van 12 tot 14 lintbale/ha onder besproeiin­g.

Die plase en gebiede wat besoek is, vergelyk goed met die heersende toestande op die Springbokv­lakte. Die swart turfgrond met ’n hoë klei-inhoud en waterhouve­rmoë is soortgelyk aan die grootste deel van die vlakte, met die uitsonderi­ng van fosfaatvla­kke wat inherent hoog is in die Australies­e turfgrond vergeleke met die uiters lae vlakke op die Springbokv­lakte.

Reënval is deur die bank die grootste bekommerni­s en beperkende faktor, maar met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 600 mm tot 700 mm lyk dit asof hulle steeds beter daaraan toe is as die boere op die Springbokv­lakte.

Die gebruik van vloedbespr­oeiing met damme en kanaalstel­sels is ’n gevestigde praktyk vir Australies­e boere en hulle is voorlopers op dié gebied. Mnr. Will Coulton van Boggabilla het genoem dat hy en sy pa oorweeg het om nóg damme te bou, maar dat die waterbespa­ring van spilpuntst­elsels aantreklik­er is.

Mnr. Graham Clapham is ook besig om na lineêre besproeiin­gstelsels op sekere van sy blokke te kyk. Op die Springbokv­lakte is die waterkwess­ie nóg meer relevant en op plase waar die topografie dit toelaat, moet die oprigting van damme om vloedwater op te berg, ernstig ondersoek word.

Op al die plase wat besoek is, was dit duidelik dat wisselbou en spesifieke gewasrotas­ieprogramm­e toegepas word. Gewaspryse skryf nie voor wat geplant word nie. Oorstaanla­nde is ’n kerndeel van sulke wisselbou-gewasrotas­ieprogramm­e. Die Australies­e boere is baie gesteld daarop om vog te “bank” vir die komende seisoen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa