Verroeste koringplanter nou dekgewasyster
’n Koringplanter en erfstuk uit die 1960’s wat onder ’n boom staan en roes het, word nou as dekgewasplanter ingespan — alles teen ’n fraksie van die koste van ’n nuwe werktuig.
Die sakeman en deeltydse boer mnr. Mynhardt de Bruin glo nie daarin om die wiel te herontwerp nie. Groot gewasboere nader hom gereeld om oplossings te kry vir saaiprobleme, en sy jongste aanpassing is ’n koringplanter uit die 1960’s wat teen R7 000 herbou is en gebruik word om dekgewasse in ’n pekanneutboord te plant.
Gewasboere van die distrik Hoopstad druk gereeld op De Bruin se nommer. “Dis lekker as die groot ouens my om praktiese oplossings nader. Ek kikker eerder ou werktuie op en vra boere altyd uit oor watter ou werktuie op hul plaaswerwe beskikbaar is.”
Hy het ’n ou Monosem-koringplanter van
mnr. Fanie van Vuuren van die plaas Herbou tussen Hoopstad en Hertzogville omgebou om dekgewasse te plant en saad van verskillende groottes op een slag te plant.
STAP VIR STAP AANGEPAS
Die ou planter, wat Van Vuuren se oupa in die 1960’s gebruik het, het ’n saadbak wat ook vir kunsmis voorsiening maak.
Die sleepmodel het plek gehad vir ’n operateur agterop wat die kouters meganies met ’n hefboom opgelig het as die trekker aan die einde van die plantrye omdraai, asook vir dieptebeheer. Die operateur kon die valdeur van die saadbak ook by die hefboom beheer.
Die ou werktuig is vroeër al aangepas deur die sleepas te verwyder om op die trekker se driepunt te pas, wat die hefboomwerking uitskakel.
De Bruin se onlangse restourasie het onder meer die vervanging van geslyte buste, laers en die uitgooipype uit die saadbak behels.
Die planter se staalwiele het nie voldoende druk op die saadbedding toegepas om die saad behoorlik vas te druk nie. Gevolglik het De Bruin vier staafdrukwiele, elk met sy eie geveerde raamwerk, in die saadrye geplaas om die koutervoor te bedek. “Fyn saad is geneig om makliker op te kom as dit behoorlik bedek is,” sê hy.
BREËR RAAM
Die planterraam is wyer gemaak om vir die oorspronklike speekwiele aan weerskante plek te maak en steeds die ketting-aandrywing van die saadbak te behou. ’n Moderne ketting en ratte het die oues vervang. “Fanie kan nou die voorste saadbak vir fyn saad gebruik, terwyl die agterste kunsmisbak vir growwe saad, soos akkerbone, gebruik word.”
Die opkikkering van die planter het sowat R7 000 gekos, bykans 12 keer goedkoper as ’n moderne werktuig in die handel.
De Bruin het sy onderdele-onderneming, Groep 5, in 2001 op Hoopstad begin nadat hy weens regstellende aksie ’n nuwe loopbaan moes aanpak.
Om ’n leemte in ysterwerk op die dorp te vul, het hy ’n plasmasnyer aangekoop, gevolg deur ’n staaldraaibank en ’n vleesmasjien. “As jy vir my ses jaar gelede vertel het dat ek die kapitaaluitgawe sou aangaan om ’n draaibank te koop, sou ek jou uitgelag het. Nou gebruik ek twee.”
Baie van sy yster-inspirasie put hy as deeltydse boer op ’n besproeiingsperseel by Hartswater van sy afgetrede pa, mnr. Jannie de Bruin. Mynhardt se 22-jarige seun, MJ, bedryf die pekanneut- en lusernverbouing van dié boerdery heeltyds. “Daar is genoeg praktiese vraagstukke op dié 22 ha wat my aan die dink laat sit.”
De Bruin ontwerp tans ’n werktuig waarmee ’n boer in die Vaalhartsbesproeiingskema sy leivore kan skoffel. Dit bestaan uit ’n wielagtige staalstruktuur waaraan staaltande gesweis is. Die wiel word plat op die grond gesleep en die tande skoffel die onkruid. Die struktuur word só geplaas om die trekker in staat te stel om langs die leivoor te ry.
NAVRAE: Mnr. Mynhardt de Bruin, e-pos: mjdb@lantic.net, mynhardt81@gmail.com, sel 082 572 0403.