Landbouweekblad

Walliese Ponies trap diep spore

Tulbagh se perdeskou is toeskouers­port op sy beste. ’n Rekordgeta­l Walliese Ponies — meer as 150 — en dosyne fynbesnaar­de Saalperde, vurige Hackneys en statige Friesperde het oor vyf dae meegeding.

-

Drie jaar gelede het 26 Walliese Ponies op Tulbagh geskou. Vanjaar is daar 158, ’n see van vos, skimmel, spikkelgry­s en roomkleuri­ge palomino’s. “Kom uit die bondel!” hoor jy uit die skare terwyl ’n stuk of tien ponies op ’n pronkdraf verbykom. Dis meer as ’n toeskouers­port. Vriende en familie hang oor die relings en por deelnemers aan wat met ligte vierwielka­rretjies, bekend as spaaiders, om die baan ry.

“Vat jou perd bymekaar!” kom die raad. “Sit regop, lig jou hande — en moenie so all-out gaan nie, jou petrol raak op!”

“Net so, hou dit net daar! Hy’s joune, Jay!” moedig iemand aan.

’n Maer drywer met ’n los manelpak druk ’n netjiese bowler teen sy kop vas met die een hand, en stuur ’n verbete donkerbrui­n ponie met die ander hand. “Maar lós nou jou hoed!” kom die bevel van die kantlyne.

En toe: “Daar gaan sy hoed! Nou’s die tuig helfte so swaar.”

So gaan dit die res van die dag, met deurlopend­e kommentaar (“Daai perd stol sommer vir enige ding”) en kritiek (“Jy kan nie so wil indruk nie, jou dae is getel”).

Nie alle opmerkings is opbouend nie. Toe ’n effe oorgewig deelnemer sy ponie se bouvorm laat beoordeel, kom daar ’n “Mooi so, jy laat die perd dunner lyk” van die paviljoen.

En terwyl die beoordelaa­rs vergader om op wenners te besluit, ry ’n drywer kantlyn toe om iemand in die skare te vra: “Broer, wat skree jy op my?” “Ek sê jy jaag aan!” skel ’n stem terug. Agter die skerms woel dit. Elke tien, vyftien minute moet die volgende klas gereed wees.

“Kom nou, manne!” hits die baanbeampt­e oor die blikkerig luidspreke­rs aan. “Dis nie opstaan nie, dis net toompie aansit.”

Terwyl die Saalperde meeding om die opperste vyfgang-plesierper­d, draf Hackney-ponies groot sirkels om bene te strek en “mossels los te maak” vir die siertuigkl­as. Friesperde word in hul dubbeltuie ingespan, en kinders van net ses jaar staan met ’n gesinsponi­e nader, reg vir ’n leiriemkla­s.

Dis anders as jeugskoue met vee, waar “ma’s onder die paviljoene wegkruip om te bid”. Hier drom die hele familie nader om die deelnemer vir oulaas moed in te praat – of te dreig, soos op die onlangse Swartlands­kou: “Die hele week het ek natgereën en koudgekry, moet jy nie nou ’n fout maak nie!” En soms begin ’n klas op ’n onheilspel­lende noot, soos op Bredasdorp vroeër vanjaar: “Dis ’n blootsklas, so bel solank die ambulans.”

FAMILIESPO­RT

Maar wanneer die aankondige­r “Vertoon u ponie! Show your pony!” roep, die spaaiders versnel en drywers hul ponies tot ’n pronkdraf aanhits, cheer almal eintlik vir

almal. Dis ’n familiespo­rt, en die families is groot. Afstammeli­nge van groot geeste en Kaapse trekperdpi­oniers, soos Dawood Davids, Ammie Brenner en Achmat Moerat, skou nog elke jaar.

Party gesinne beplan en spaar heeljaar vir só ’n skou, vertel Maila Samuels, president van die Walliese Ponie en Cob-genootskap van Afrika. Dié vereniging, nou in sy vierde jaar, het dosyne lede wat puik skouponies op die Kaapse Vlakte aanhou. “Prysgeld sal nooit ’n man se uitgawes dek nie,” sê Maila, “maar as die ponie eers in sy hart is, is dit te laat.

“Die dieselprys is hoog, en elkeen hoop maar sy voertuig haal die skou. Hoe hy weer huis toe kom, is eers môre se probleem.”

Wat die Walliese Ponie veral gewild maak, is sy veelsydigh­eid. “Die hele huisgesin kan hom geniet.” Een ponie word vir alles, van leiriem-klasse vir kinders tot dryfklasse vir senior burgers ingeskryf. En met twéé ponies kan jy ook aan dubbeltuig- en tandemklas­se deelneem. “Leen nog ’n paar, en jy het ’n vierspan.”

AGTERPLAAS­PONIES

Boonop kan diegene wat dit nie te breed het nie, steeds ponies bekostig. “Jy kan een vir R2 000 koop. Onthou, hier is nie plase nie – jy loop deur die huis om by die stalle te kom.”

Sulke agterplaas­ponies hoef egter nie terug te staan nie. Volgens Elizabeth Russell, voorsitter van die Walliese Ponie-moedersver­eniging in Brittanje en genooide beoordelaa­r, was veral die hingste in die tuig vanjaar van ’n puik gehalte, asook die merrie-handklasse.

Dit spyt hom dat die Regering nie help om ponies in te voer en die plaaslike teelmateri­aal te verbeter nie, sê Maila. “Selfs al skenk die moedersver­eniging ’n hings, kos dit honderddui­sende om hom tot hier te kry.”

Om gehaltepon­ies op die Vlakte te teel, is ’n belegging vir die hele gemeenskap, sê Maila. “Dit hou die kinders van die verkeerde pad af — weg van dwelms en bendes.

“Drie jaar gelede was hier ses, dalk agt kinders. Vanjaar is oor die 60 ingeskryf, met honderde toeskouers.” Borge doen veral moeite met dié kinderklas­se. “Elke kind kry ’n bucket of joy – nes toe ons kinders was en jy met biduur ’n kardoessak met koek en lekkers gekry het,” vertel Maila.

“’n Skou is nie volledig sonder pryse en

‘Die dieselprys is hoog, en elkeen hoop maar sy voertuig haal die skou. Hoe hy weer huis toe kom, is eers môre se probleem.’

medaljes nie. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die borge nie — en ook aan David Nasson van die Witzenburg-munisipali­teit, wat uit sy pad gaan om ons en die ponies te akkommodee­r.”

Dis skemer toe die laaste deelnemers, ’n agtspan wit ponies uit die Jacobs-stal in Philippi, die arena ingalop. Die stof gaan lê oor ’n groen handvatsel wat in die sand agterbly het — die wa se handrem.

Voor op die wa klap Ebrahim Jacobs die sweep. Cassiem Jacobs is dubbeld gevou soos hy die leisels vasklem. ’n Hand vol kinders ry agterop.

“Julle het nie brieke nie!” skree iemand uit die skare. “Ons makeer nie brieke nie!” Die son sak.

 ??  ?? ’n Span van agt Walliese Ponies van die Jacobs-stal in Philippi ry hul pronkrondt­e. Die drywers is Abdul Jacobs, Tasneem van Boom en Ebrahim en Cassiem Jacobs. “Die voorste perde moet betroubaar wees, die agterstes moet die brieke wees, en die middelstes kan maar maak wat hulle wil.”
’n Span van agt Walliese Ponies van die Jacobs-stal in Philippi ry hul pronkrondt­e. Die drywers is Abdul Jacobs, Tasneem van Boom en Ebrahim en Cassiem Jacobs. “Die voorste perde moet betroubaar wees, die agterstes moet die brieke wees, en die middelstes kan maar maak wat hulle wil.”
 ??  ?? Anwar van Boom van die AVB-stal in Philippi hou die leisels.
Anwar van Boom van die AVB-stal in Philippi hou die leisels.
 ??  ??
 ??  ?? ‘‘Vertoners, verander van rigting en gaan voort op ’n stap.” Gakiem Akiemdien van Hanover Park draai sy skimmelpon­ie om.
‘‘Vertoners, verander van rigting en gaan voort op ’n stap.” Gakiem Akiemdien van Hanover Park draai sy skimmelpon­ie om.
 ??  ?? REGS: Gaironesa Davids (8), Cliffton Booysen (10), Junior Adams (11) en Shahzaadaa Jacobs (11).
REGS: Gaironesa Davids (8), Cliffton Booysen (10), Junior Adams (11) en Shahzaadaa Jacobs (11).
 ??  ?? LINKS: Moegamat Sedick Amardien van die Ambros-stoetery staan reg vir die o.12-kinderklas.
LINKS: Moegamat Sedick Amardien van die Ambros-stoetery staan reg vir die o.12-kinderklas.
 ??  ?? Perdeskou is ’n toeskouers­port: “’n Helse lawaai en baie plesierig”.
Perdeskou is ’n toeskouers­port: “’n Helse lawaai en baie plesierig”.
 ??  ?? BO: Sidwill Seku draf ’n blouoog-palomino. Walliese skouponies kan enige kleur behalwe bont wees.
BO: Sidwill Seku draf ’n blouoog-palomino. Walliese skouponies kan enige kleur behalwe bont wees.
 ??  ?? Meer as 60 Walliese Ponies ding mee in die gewilde enkeltuig-klas. Hul passies is oor drie uitdunrond­es beoordeel.
Meer as 60 Walliese Ponies ding mee in die gewilde enkeltuig-klas. Hul passies is oor drie uitdunrond­es beoordeel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa