OORLEWING
Die groot droogte van 1983 is van kindsbeen af in my geheue geprent. Die reën wou net nie kom nie. My pa het al hoe stiller geword. Uiteindelik het ons die laaste forelle in die groot dam bo in die kloof gaan vang voor dit finaal sou opdroog. Die dam kon daardie jaar nie eens ’n hektaar lusern besproei nie.
Oukersaand het my tannie-hulle van Bloemfontein af op die verkeerde grondpad beland om by ons uit te kom. My pa het hulle gaan soek, en terwyl ons ongeduldig gesit en wag het (ons wou ons geskenke oopmaak!), het ons die eerste druppels op die dak hoor val.
Vanjaar gaan ons ’n bloedig warm Februarie in met skaars 30 mm van ’n goeie seisoen se 510 mm. In ons wêreld is dit ondenkbaar om die winter te trotseer met byna geen reën nie en gras wat nie eens behoorlik kon saad skiet nie. Elders in Suid-Afrika, soos in die Karoo, speel ongekende rampe voor ons oë af. Nuwe rekords van uiterstes word oral opgestel.
Australië gaan gebuk onder die ergste hittegolf sedert 1939, met die kwik wat gereeld by 50 °C gaan draai. In Amerika is dit op sommige plekke tot -60 °C. Op die jaarlikse ekonomiese saamtrek in Davos, Switserland, is die wêreld se topsakelui gewaarsku dat uiterste weerverskynsels vanjaar die grootste bedreiging vir die wêreld-ekonomie gaan inhou.
Dalk was die Griekse wysgeer Plato reg toe hy meer as 2 000 jaar gelede gesê het: “As jy vrede wil hê, maak reg vir oorlog.” Ons behoort vir erge klimaatsverandering te beplan. Op kort termyn moet ons die reuse-impak van die droogte versag. Die georganiseerde landbou moet geprys word vir sy werk om die tragedie onder die owerhede se aandag te bring. Dit help dat die President én die Minister van Finansies boere is, want die landbou benodig minstens R3 miljard om kop bo water te hou. Buiten voedselsekerheid behoort die landbou se bydrae tot die land se ekonomie genoeg te wees vir dringende en omvattende hulp.
Die landbou het nie net die afgelope paar jaar twee keer SuidAfrika van ’n ressesie gered nie, dit onderhou ook die platteland. Vir elke rand wat die landbou verloor, kos dit die plattelandse ekonomie R4. Die landbou is ook die laaste deel van die land se ekonomie wat nog werklik van wêreldgehalte is.
Aanpassings op lang termyn is ook nodig. Waar sal boere nog mielies kan plant? Hoe kan ons oeste beskerm teen intense weerverskynsels, soos haelstorms wat oor ’n front van 50 km beweeg? Hoeveel doeltreffendheid kan boere nog uit hul besproeiingstelsels wurg?
Alle navorsing, hetsy privaat of in die openbare sektor, sal beter gekoördineer en benut moet word.
Ons sal ook dieper moet dink oor wat die natuur wil hê, en nie net wat maklik is vir ons nie.
Gelukkig het die landbou al taamlik ver gevorder met herlewingslandbou. Ons verstaan hoe belangrik dit is om deur die natuur se behoeftes gelei te word, asook die deurslaggewende rol van koolstof in die grond ten opsigte van vrugbaarheid en waterhouvermoë. Ons verstaan hoe belangrik diversiteit is in wát ons verbou en hóé ons dit verbou. Ons het voorbeelde van hoe verstommend vergewensgesind die natuur kan wees, as ons haar net ’n kans wil gee. Dalk moet ons baie deegliker na haar begin luister.
— CHRIS BURGESS