BOERDERY IN SY BLOED
Lionel het op die plaas The Glen naby Graaff-Reinet grootgeword waar sy pa, Douglas, ook gebore is en kommersieel met Merino’s geboer het. Douglas het later die plaas Wilgebosch van 5 500 ha aan die suidekant van die Kompasberg gekoop en daar geboer tot met sy dood toe Lionel 15 was.
Nadat hy sy opleiding aan die Landboukollege Grootfontein voltooi het, het Lionel in 1970 op 22 op Wilgerbosch begin boer. “Dit was ’n baie harde omgewing wat tot teen die kruin van die Kompasberg op 8 215 voet (2 504 m) gestrek het en ’n groot deel van die plaas het uit suurpol bestaan.
“Ek het tot 1972 kommersieel met rasegte Merino’s geboer toe my oom, Norman de la Harpe, wat in die Aberdeen-omgewing geboer het, my gevra het om sy Normandy Dohne-stoetery op Wilgerbosch te bestuur. Die skape was gehard en het só goed gevaar, dat ek die Normandy-stoetery bekom het, asook die kudde-Merino’s tot Dohnes geteel het.”
Hy is in 1982 en 1996 aangewys as Bobaas-Dohne-Merino-teler van die Jaar.