Klimaatsverandering en natuurrampe grootste risiko’s
Die onlangse beraad van die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos-Klosters, Switserland, het lig gewerp op kwessies wat ’n nadelige invloed op wêreldgebeure in die nabye toekoms gaan hê. Die landboubedryf bevind hom in die oog van dié storm, en boere en ander sakelui sal móét belê in gebeurlikheidsplanne om die aanslae suksesvol af te weer.
In aanloop tot die jaarlikse ekonomiese beraad van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos-Klosters, Switserland, word ’n wêreldrisikoverslag vrygestel. Dié verslag maak die resultate van omvattende navorsing deur vooraanstaande akademici en wêreldsakeleiers bekend en ontleed die grootse risiko’s met die hoogste waarskynlikheid en impak vir die wêreld waaraan dringend aandag gegee moet word.
Die landbou en die verwagte risiko’s vir dié bedryf staan pens en pootjies midde-in die grootste risiko’s wat vir 2019 geïdentifiseer is. Dit móét ernstig opgeneem word.
Die risikoverslag vir 2019 moet beoordeel word teen die agtergrond van ’n wêreldekonomie wat stadiger groei, en armoede en ongelykheid wat toeneem. Geopolitiese spanning bereik voortdurend nuwe hoogtes, en die risiko’s verbonde aan klimaatsverandering en die mens se onvermoë om daarby aan te pas, neem aansienlik toe in erns.
Heelwat tyd is by dié beraad afgestaan aan besprekings oor die uitwerking en bestuur van die sogenoemde vierde industriële revolusie (digitale en internet-ekonomie), wat besighede én die landbou op hul koppe gaan keer. Hoewel ekonomiese en geopolitiese kwessies belangriker geword het, is omgewingsrisiko’s geïdentifiseer as dié met die grootste waarskynlikheid om te realiseer, en met die nadeligste gevolge.
KLIMAAT EN WEERVERSKYNSELS
Die meegaande TABEL bied ’n opsomming van die waarskynlikste risiko’s wat in die WEF-verslag bespreek word. Insiggewend is dat die eerste drie gebeurtenisse/risiko’s in 2019 klimaat- en weerverwant is, wat die landbou op ’n baie hoë risikovlak plaas. Indien die beoordeling van wêreldrisiko’s oor die afgelope vyf jaar bestudeer word, is dit duidelik dat klimaatverwante risiko’s vinnig opgang gemaak het in dié rangorde.
In die dokument word veral gewag gemaak van sakeleiers se vertoë dat nie genoeg ge-
doen word om by klimaatsverandering aan te pas nie, en dat dít die risiko’s en nadelige gevolge van natuurrampe en uiterste weerverskynsels in die toekoms verhoog.
Daar kan maar net na toestande in Suider-Afrika gekyk word, met voorlopige aanduidings dat die droogte van 2018-’19 in die somerreëngebiede erger is as die droogte van 2015-’16, wat voorheen die laagste reënvalsyfers op rekord gehad het.
Indien ag geslaan word op wetenskaplikes en inligting in die WEF-verslag, moet baie meer aandag gegee word aan die feit dat uiterste weerverskynsels soos vloede, rampspoedige droogtes en hittegolwe gaan toeneem. In Suid-Afrika word, na my mening, baie min toepaslike en praktiese navorsing op ’n gekoördineerde wyse gedoen oor hoe om betyds hierby aan te pas. In Australië is baie werk al gedoen en nuwe riglyne vir boere opgestel oor hoe om byvoorbeeld plantdatums en kultivars aan te pas.
Een van die grootste tekortkominge van landbounavorsing in Suid-Afrika is die gebrek aan ’n sentrale koördinerende struktuur om die skaars navorsingshulpbronne van universiteite, die Landbounavorsingsraad en private maatskappye te koördineer en uitsette te optimaliseer. Dit is noodsaaklik dat die landbousektor saam met insetverskaffers meer aandag skenk aan klimaatsverandering en die voorkoms van uiterste weerverskynsels en natuurrampe. Dit is duidelik dat die Regering nie gaan help nie, en baie meer gesprekke moet plaasvind oor aanpassings en voorkomende optrede.
Die risiko’s in die vierde en vyfde plek vir 2019 dui op die snelle ontwikkeling van rekenaaren internettegnologie(die sogenoemde vierde industriële revolusie), waar rekenaargedrewe aktiwiteite besig is om die wêreld te oorheers. Mense is afhanklik van internettegnologie vir selfoonseine, e-posse, bankbetalings, die gebruik van hommeltuie, en vele meer. Die landbousektor is besig om baie vinnig te beweeg in ’n tegnologiese omgewing waar data al hoe meer ingespan word in die boerdery. Dink byvoorbeeld aan presisieboerdery in die saaibedryf.
Die risiko dat jou onderneming of vennote (soos banke) lamgelê kan word deur kuberaanvalle wat sélfs ’n land tot stilstand kan
dwing, is groot. Daarom word dit, náás die weer en klimaat, beskou as die ander groot risiko waarop ondernemings én regerings uiters bedag moet wees.
VOORBEELDE VAN TOEKOMSSKOKKE
’n Hele afdeling word afgestaan aan voorbeelde van tien moontlike toekomstige skokke wat die wêreld kan tref. Die doel is om ondernemings en boerderye aan te moedig om moontlike skokke of risiko’s te identifiseer en voorkomende maatreëls te tref. Dis blykbaar nie óf nie, maar wánneer die skokke gaan voorkom.
Die uitbreking van bek-en-klouseer, waarop Suid-Afrika nie voorbereid was nie, was die groot skok vir die rooivleisbedryf, met die gepaardgaande ontwrigting en finansiële verliese. Net so het voëlgriep en listeriose die hoender- en varkbedryf in die afgelope twee jaar byna lamgelê.
Dit is goeie voorbeelde van hoe die risiko’s vir byvoorbeeld siektes en infeksies toeneem. Die landboubedryf móét aandag skenk aan die identifisering van dié risiko’s en hoe die nadelige gevolge daarvan bestuur kan word, met gebeurlikheidsmaatreëls wat vroegtydig gereed is.
Talle aspekte van die moderne wêreld is indirek gekoppel, en ’n skok of risikogebeurtenis in een land kan ’n breë ongunstige impak of skok in ander wêrelddele veroorsaak. Enkele toekomsskokke wat as onafwendbaar beskou word, word onder bespreek.
Weeroorloë, waar tegnologie ingespan word om reënval of klimaat te ontwrig en te manipuleer in ’n gebied, word gesien as ’n toenemende moontlike risiko namate die gevolge van klimaatsverandering vererger, water skaarser raak en stedelike bevolkings groei. Die verwagting is dat ongeveer twee derdes van die wêreldbevolking binnekort in ’n stedelike omgewing gaan woon, wat toekomstige risiko’s/skokke van water- en voedseltekorte, asook ernstige siektes en epidemies, vergroot.
Die risiko’s van moontlike skokke verbonde aan toenemende verstedeliking (stedelike armoede en verdigting) bring nie net siekte- en epidemierisiko’s nie, maar maak die skok van ’n weerverskynsel of natuurramp soveel groter. Daar word verwys na die groeiende gaping op verskeie vlakke tussen die stedelike en plattelandse bevolking, wat tot spanning en risiko’s by politieke stelsels
lei. Dit is tans in Suid-Afrika ook sigbaar. Die ontwrigting van voedsel- en handelsroetes word as ’n ál groter risiko beskou. Hier dink mens byvoorbeeld aan Amerika se handelsoorlog met China, wat die handel in graan en sojabone ontwrig, óf die sanksies teen Rusland ná hy die Oekraïne binnegeval het, waarvan die newe-effekte vandag nog ontwrigting saai. Verstedeliking, die just in time-voedselvoorsieningsketting uit oorsese lande en die ontwrigting van die platteland hou aansienlike risiko’s in vir stede en politieke stelsels. Dit kan ook die weg baan vir ’n beleid van groter selfvoorsiening, soos China wat byvoorbeeld besluit om minder afhanklik te wees van sojainvoer, wat weer ’n invloed op Suid-Afrika het.
Waterskaarste word as ’n toenemende risiko of skok beskou wat saamhang met klimaatsverandering en natuurrampe. In Suid-Afrika is dié moontlikheid toenemend ’n realiteit.
Elke bedryf of onderneming móét moontlike skokke en risiko’s bespreek, en gebeurlikheidsplanne gereed hê. Volgens die WEF is die skokke en risiko’s ’n gegewe; al waaroor daar nie sekerheid is nie, is wanneer presies dit gaan plaasvind.