DIE ANDER SÊ
KAN ons dieet lei tot beter gesondheid én ’n gesonder planeet? Dis die vraag wat die EAT-Lancet Commission on Healthy Diets from Sustainable Food Systems bespreek het op die bekendstelling van sy wêreldwye aanbevelings oor dieet by die Verenigde Nasies.
Ongelukkig skiet die kommissie se voorgestelde dieet wat chroniese siektes en aftakeling van die omgewing moet voorkom, om drie redes tekort. Dit is gegrond op verouderde, swak dieetkundige wetenskap. Die kommissie het nie daarin geslaag om internasionale wetenskaplike konsensus oor sy dieetkundige teikens te bewerkstellig nie, ondanks sy bewerings dat hy dit reggekry het. Laastens word dit ondermyn deur bevooroordeelde, of op sy minste, leierskap wat nie verteenwoordigend is nie.
Ál meer prominente wetenskaplikes en dokters dring aan op ’n getuienisgebaseerde hersiening van Amerika se dieetkundige beleid. Vorderings in epigenetika, mikrobioomnavorsing, neurologie, endokrinologie, psigiatrie en ander velde werp nuwe lig op die deurslaggewende invloed van dieet op die ontwikkeling van spesifieke chroniese siektes, en die laevet-hoëkoolhidraat-dieet word by heelwat metaboliese en inflammatoriese siektes van ons tyd betrek – onder meer vetsug, hartsiektes, diabetes, alzheimersiekte en depressie.
Die voedingswetenskap ondergaan tans ’n tydperk van wetenskaplike verligting, soortgelyk aan wat 30 jaar gelede in klimaatwetenskap gebeur het. Die ou paradigma is besig om weg te val, en dis nog nie duidelik wat dit sal vervang nie. Met ander woorde, ’n “wetenskaplike konsensus” oor wat ’n gesonde dieet is, is eenvoudig nie nou moontlik nie.