EIENAARSKAP NIE ENIGSTE OPSIE VIR BEMAGTIGING
Die staatsdepartemente het grootliks misluk met landelike ontwikkeling. Dit is die rede wat vir onteiening sonder vergoeding aangevoer word. Dit is dus duidelik dat die toekoms van boere beinvloed kan word deur die mislukking van grondhervorming.
Daarom moet ons begin optree. Ek weet as kommersiële boere hulle daartoe verbind, sal hulle daarin slaag om opkomende boere te help om in die hoofstroomlandbou te beland.
Hierdie skrywe stel metodes voor waarop hulle dit kan bereik, terwyl hulle hul inkomstebronne verhoog.
Dit sluit in verhuring, kontraktering en mentorskap, en veral ekwiteitsaandele, waar die kommersiële boer en die opkomende boer elk aandele in ’n projek plaas en winste in hierdie verhouding verdeel. Die grondeienaar kan die waarde van die grond as aandele in ’n boerdery insluit, maar met oesinsette is dit moontlik om geld daarvoor te vra of ’n ekwiteitsaandeel van die oes in te sit.
Oor verhuring is min agtergrondinligting nodig. In wese is dit die verdeling van winste tussen grondeienaar en huurder.
Mnr. Hein Potgieter van Dundee het twee plase aan die staat verkoop en mentor dit nou. Die insette vir die eerste oeste is deur die staat betaal, en Potgieter het aanbeveel dat die mense wat gementor word, van die winsinkomste neem en genoeg in vaste deposito’s by hul banke vir die volgende jaar se insette belê. Op hierdie manier het hulle ’n goeie idee gekry van ’n normale jaar en kon hulle lenings aangaan teen die beleggings, wat hulle in staat gestel het om ’n goeie kredietgradering te kry – ’n noodsaaklikheid vir boere.
Potgieter het ook met hulle ooreengekom op ’n datum waarteen werksaamhede voltooi moet word. Indien dit nie teen daardie datum voltooi is nie, sal hy kom help en dit voltooi, maar kontrakpryse hef.
Boereverenigings moet ’n toeganklike persoon aanstel wat verantwoordelik is vir die skakeling met opkomende boere. Hulpbronarm opkomende boere moet in kennis gestel word dat hy beskikbaar is en dat hulle hom om hulp kan nader. Hy kan dan ’n gewillige boer vind wat kontrakwerk sal doen, soos grondvoorbereiding en vervoer, of met insette sal help teen betaling of deur ’n deel van die oes te neem.
Hierdie skakelpersoon kan ook probleme in die plaaslike gemeenskap ondersoek deur uit te vind wie die leier is en te kyk of hy hulle met raad of kontakte kan help. Die werk behoort nie vir hulle gedoen te word nie. Hulle moet eerder ’n stokvel stig en geld spaar tot voordeel van hul gemeenskap. Die installering van pompe, die bou van klinieke, ensovoorts, kan hul doelwitte wees.
Sommige Wes-Kaapse boere het aandele in hul plaas aan hul werkers verkoop. Die geld is gebruik om nuwe kultivars aan te plant, maar die werkers was mede-eienaars en die winste is in verhouding met die aandeel verdeel, inaggenome dat die grondeienaar die waarde van die grond in sy aandele ingesluit het. Die storie lui dat sommige vernielsugtige en lui werkers vanself geloop het, sonder enige papierwerk.
Ekwiteitsaandele is ’n nuttige hulpmiddel vir ’n kommersiële boer wat net vir ’n paar jaar wil help, aangesien hy sy aandele aan opkomende boere kan verkoop (waarvoor hulle met hul deel van die winste kan betaal). Die kommersiële boer kan met sy geld uitstap.
’n Groot probleem met ekwiteitsaandele is vertroue. Dit is belangrik om ’n betroubare boekhouer te hê wat gereeld terugvoer aan albei partye gee. Dit kan selfs raadsaam wees om twee boekhouers te hê, selfs al kontroleer een die boeke net af en toe.
Mentorskap is nie om die werk te doen nie, maar om weeklikse beplanning te doen en verantwoordelikhede toe te ken, mense aan te moedig, konstruktiewe terugvoer te gee, doelwitte te stel en die mense wat gementor word, te help groei.
Die staat het in ’n stadium mentors betaal, maar doen dit nie meer nie. Kommersiële boere kan ’n ooreenkoms bereik met die mens wat gementor word om beeste op die plaas te plaas (slegs volgens die erkende drakrag), of te betaal vir insette, die wins te verdeel en só sy koste te verhaal.
Daar is in feitlik elke landelike gebied groot gebiede met potensieel goeie grond wat in onbruik lê. Sommige daarvan word deur probleemgemeenskappe beset, maar sommige word bewoon deur huurders wat nie voldoende ondersteun word nie en nie lenings kan kry nie omdat hulle nie die grond besit nie.
Daar is ’n reusegeleentheid vir beleggers in die landbou wat met landelike gemeenskappe kan werk. Groot dele van hierdie grond benodig heinings en watervoorsiening vir diere. Die staat behoort met beleggers
saam te werk en die kapitaalinsette te verskaf wat nodig is om die grond in ’n produktiewe toestand te kry en beleggers in staat te stel om met die besettersgemeenskap te werk vir ontwikkeling.
Die staat moet alle beskikbare landbougrond aanteken en ’n lys maak van moontlike skenkers, en dan die twee met mekaar in verbinding bring. Boereverenigings kan dit ook ondersoek en beleggers vind om sodoende meer werk te skep en die maatskaplik-ekonomiese situasie in hul omgewing verbeter.
Boere se gades kan ook ondernemings begin, soos artikels wat deur die gemeenskap gemaak word vir verkoop aan toeriste. Dit sal ook bydra tot die verbetering van maatskaplik-ekonomiese toestande in hul gebied en moontlik die risiko van misdaad verminder.
Dit is raadsaam om ’n stokvel te stig om vir gemeenskapsprojekte te spaar. Wanneer gemeenskappe hierdie stap doen, is dit ’n belangrike mylpaal in landelike ontwikkeling.
’n Belowende teken het in verskeie landelike gebiede verskyn: “Die Regering is vol beloftes. Ons wag nie, ons gaan aan.”
Ek is beskikbaar om met enige ontwikkeling te help. JIMMY LONSDALE E-pos: jlons@telkomsa.net