Landbouweekblad

China se stadige groei: Moet SA bekommerd wees?

- — VIDA BOOYSEN

DIE nuus dat China die stadigste ekonomiese groei in 28 jaar aangeteken het, het in Januarie skokgolwe deur wêreldmark­te gestuur.

Weliswaar het die land in 2018 steeds ’n gemiddelde groeikoers van 6,6% gehandhaaf – die soort groei waarvan Suid-Afrika net kan droom. Maar omdat die aanvraag uit China na alles, van ystererts uit Suid-Afrika tot luukse horlosies uit Switserlan­d, die dryfkrag agter die wêreldekon­omie is, is die verlangsam­ing kommerwekk­end.

China se ekonomie is naas Amerika die grootste ter wêreld. Dit het deur die loop van 2018 voortduren­d stoom verloor (sien .GRAFIEK hiernaas). Die wêreldmark­te is ook senuagtig oor China se groeiende skuldlas en die gevolge van die uitgerekte handelsoor­log tussen China en Amerika.

China is Suid-Afrika se grootste handelsven­noot, en Suid-Afrika is dus afhanklik van sterk ekonomiese groei in dié land, sê die landboueko­noom prof. Johan Willemse. Suid-Afrika voer veral hulpbronne soos ystererts, koper, platinum en mangaan daarheen uit, en China is steeds belangrik vir die sukses van die mynbedryf. Daar kan egter nie meer net op dié land gesteun word om superopbre­ngste vir Suid-Afrikaanse hulpbronne te genereer nie, sê Willemse.

“Die Chinese ekonomie word nou meer in balans gebring. Dit beweeg weg van ’n vervaardig­ingsekonom­ie na een wat op dienste gegrond is, dus sal daar nie sommer weer ’n reusevraag na kommoditei­te ontstaan nie.”

HANDELSOOR­LOG

Mnr. Mike Schüssler, ekonoom van economists.co.za, beaam dit. “Die trae Chinese groei het reeds die afgelope paar jaar begin wys in swakker syfers vir maatskappy­e soos Kumba en Arcelor Mittal, wat nou stywe kompetisie van Chinese staalfabri­eke kry.”

Die Wêreldbank verwag dat China se groeikoers vanjaar tot 6,2% sal verswak, veral omdat die land (deels weens die handelsoor­log) minder kan uitvoer. Die verwagting is ook dat dié daling die wêreldekon­omie met 0,2 persentasi­epunte sal rem. Tog is ’n wêreldekon­omie wat water trap, nie noodwendig net sleg vir Suid-Afrika nie, sê Willemse.

“Wanneer die wêreldekon­omie stadig groei, bly die olieprys meer stabiel. Elke keer as die olieprys styg, is dit ’n doodskoot vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, veral vir die landbou, want insetkoste styg elke keer drasties as die brandstofp­rys styg.”

Die Chinese regering het die afgelope jare sy verbruiker­s aangemoedi­g om skuld te maak, veral in die vorm van huisverban­de en kredietkaa­rte. Hy het self sy besteding aan infrastruk­tuur soos behuising verhoog in die hoop dat dit ekonomiese groei sal aanwakker. Daardie beleid word nou omgedraai, en die Chinese regering beoog nie grootskaal­se stimuluspl­anne nie, sê mnr. Herman van Papendorp en me. Sanisha Packirisam­y, onderskeid­elik navorsings­hoof en ekonoom van Momentum.

“Die fokus verskuif van hoëspoed-groei na ’n groeikoers wat op lang termyn volhoubaar is.”

LANDBOUPRO­DUKTE

Ontleders meen die groeiende Chinese middelklas sal steeds die land se groot vraag na landboupro­dukte bly aanvuur. Dis goeie nuus vir Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerder­s, wat gretig is om groter vastrapple­k daar te kry.

“Ondanks die trae ekonomiese groei is China steeds ’n baie groot mark en dit lyk nie of die aanvraag afneem nie,” sê Willemse.

Omdat voedsel verbruik word en daar voortduren­d ’n aanvraag is, word Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer in ’n mate teen die verlangsam­ing beskerm, sê Schüssler.

“As die landbousek­tor wel geraak word, sal dit waarskynli­k enkele produkte wees en nie die hele uitvoermar­k nie.”

China en Amerika het in Desember ’n skietstils­tand in die voortslepe­nde handelsoor­log bereik. Onlangse opmerkings deur pres. Donald Trump van Amerika dat die samespreki­ngs oor ’n nuwe handelsoor­eenkoms goed vorder, temper die slegte nuus oor laer groeisyfer­s.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa