Daar sal ’n manier gevind moet word om uitstel vir skuld te gee, en dit te konsolideer.
Die jongste beskikbare verdeling van landbouskuld (2017) toon dat kommersiële banke sowat 61% van die uitstaande landbouskuld besit, die Land Bank 28% en landboubesighede 7%. Landboubesighede in die westelike somersaaigebied, waar boere veral swaarkry, se balansstaat is nie baie sterk nie. Dié besighede sal dus moeilik die probleem alleen kan oorkom.
Hierteenoor besit die Land Bank en kommersiële banke saam sowat 89% van die uitstaande landbouskuld – die meeste daarvan word deur die sekuriteit van eerste verbande gedek. Daar sal dus ’n manier gevind moet word om uitstel vir skuld te gee, en dit verder te konsolideer in langertermyn-afbetalings waarvan die rentekoerse gesubsidieer word, soos met ’n vorige droogtehulpplan.
Dit is wensdenkery dat die Regering miljarde rande beskikbaar gaan stel vir direkte subsidies vir die kommersiële landbou. As dit egter, soos vorige kere, deur die finansiële instellings hanteer word, is daar nie net minder staatsgeld betrokke nie (rentesubsidie oor ’n aantal jare), maar die kanse vir korrupsie is ook baie minder as wanneer die staat dit administreer.
VEEPRYSE EN VOERKOSTE
toon die verloop van klas A-lamsvleis-, speenkalf- en Safex-geelmieliepryse. Die uitwerking van die skielike oorskot in die binnelandse aanbod van bees- en varkvleis het skerp afwaartse druk op alle produsentpryse geplaas.
Die redes is reeds genoem, maar die feite is skokkend. Die prys van geel mielies (die basis van veevoer) het van Januarie 2018 tot Januarie 2019 met 40% gestyg. Intensiewe veeboerderye en voerkrale trek swaar om sulke koste te dra, en die verbruiker sal ook kwalik so ’n drastiese styging kan trotseer.
Gevolglik het die speenkalf- prys in Januarie 2019 met sowat 30% gedaal vergeleke met Januarie 2018, die prys vir klas Alammers was 27% laer en varkboere kry sowat 20% minder. Varkboere se mark het boonop verlede jaar in duie gestort met die listeriose-uitbreking van Maart tot Augustus. Melkboere kry nou naastenby 20-25% minder as ’n jaar gelede. Dit is duidelik dat die somme nie klop nie, en veeboere is onder geldelik druk.
Die mielie-oes gaan na verwagting vanjaar sowat 25-30% kleiner wees as verlede jaar, met baie boere wat glad nie ’n oes gaan hê nie en ander wat nie hul koste sal kan dek nie. Dis feitlik seker dat mielies ingevoer gaan word, soos reeds weerspieël in die prysstyging van geel mielies.
HELP JOUSELF
Die georganiseerde landbou en bedryfsorganisasies is besig met gesprekke en versoeke aan die Regering, maar die Regering gaan myns insiens, soos in 2015-’16, nie hulp aan kommersiële boere verleen nie. Daarom sal boere saam met landboubesighede en banke met “selfhelp”-skemas vorendag moet kom om die negatiewe uitwerking van die “perfekte storm” te probeer bestuur.
Die plattelandse ekonomie word groot skade berokken wanneer inwoners wegtrek en saam met nog ’n golf Zimbabwiërs in die stede ’n bestaan probeer maak. In Zimbabwe het die ineenstorting begin met “grondhervorming” en “besetting”. Die nuwe stroom onwettige Zimbabwiese immigrante is skynbaar nie ’n groot genoeg afskrikmiddel vir die ANC om te herbesin oor sy grondonteieningsplan nie.
Suid-Afrikaners moenie die impak van die huidige ekonomiese krisis in ’n groot deel van die land onderskat nie. Dis tyd dat boere, banke en landboubesighede saamstaan en planne beraam sodat kommersiële boere op die plaas kan bly. Dit is iets wat dringend noodsaaklik is.