WORTEL VAN DIE KWAAD
Steinheist is verrassend toeganklik en gee ’n onthutsende geheelbeeld van wat agter die Steinhoff-skerms broei.
Skreie Steinheist: Markus Joos e, nhoff and SA’s biggest corporate fraud deur Rob Rose. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R295. Elke dag sedert die openbare bom op 5 Desember 2017 oor Markus Jooste se kop gebars en meer as R200 miljard op die JSE ingeplof het, boer die Steinhoff-sage in die nuus. Die beslissende woord oor die hoërgraadgekonkel is nog lank nie geskryf nie. Maar met die beskikbare inligting oor die ingewikkelde web van oneerlikheid is die finansiële joernalis en redakteur van die Financial Mail, Rob Rose, se Steinheist wel die enigste gesaghebbende ondersoek na ’n skandaal wat tereg met dié van Enron vergelyk kan word.
Die deeglik nagevorste boek bied ’n verontrustende geheelbeeld van transaksies waarmee Jooste en ’n klein groep lakeie aandeelhouers en makelaars met finansiële oëverblindery gerusgestel en hulself mateloos verryk het.
Steinheist skets eers die week lange aanloop voor Jooste se bedanking toe sy ontwykende boelietaktiek hom nie langer uit die warm water kon hou nie. Dié spannende begin en vinnige pas word regdeur die boek volgehou.
Jooste se opgang en drang na sukses word daarna nagespoor, waarna die selfverryking stuksgewys begin ontvou. Die vernuftige rekenkundige toertjies begin ’n patroon aanneem, en saam met ’n snelle oorname van maatskappye, balansstaatskommelings en skuldwaarborge wat aangewend is om die likiditeit van elke filiaal te stu, kon Steinhoff ’n beter winsvoet voorsit.
Die boek lê ’n gulsigheid bloot wat die kern daarvan kan wees en, belangriker, dat net ’n klein binnekring bewus was van die gekonkel.
Jooste se werkwyse, hoe hy met sy sjarme sakereuse ’n rat voor die oë kon draai en as opperste manipuleerder ’n ongekende strooptog kon voortsit, is kil en berekend.
Die skreiendste voorbeeld van onderduimse selfhandel is toe bosbouplantasies in 2003 via ’n middelman of frontmaatskappy vir R159,7 miljoen – meer as agt keer die verkoopprys agt maande tevore – van eienaar verwissel het.
Ná ondersoekwerk deur die SAID is dit duidelik wie baat gevind het by die meevaller: Jooste (wie anders?), wat bewimpel het dat hy aan albei kante van die transaksie staan, iets wat nooit verklaar is nie. Daarna lyk dit of die oornames en finansiële versluierings vinnig momentum gekry het.
Steinheist is toeganklik, hoogs verstaanbaar en onderhoudend ondanks die magdom rekenkundige bewyse teen Jooste en onderhoude met belangrike rolspelers wat Rose kon opdiep. Hoewel ongetwyfeld niefiksie, kan jy jou selfs plek-plek verbeel jy lees ’n spanningsroman en dit is moeilik om dit nie in een sitting te probeer klaar lees nie.
Rose roer belangrike vrae aan sonder om teregwysend te wees. Christo Wiese is byvoorbeeld ’n paar keer gewaarsku. Die gerekende beleggingsbestuurder Craig Butters het Wiese in Desember 2009 oor ontbyt met ’n 40-bladsy-voorlegging op slaggate en onreëlmatighede in Steinhoff gewys. “Die prentjie wat voorgehou is, was ’n verflenterde besigheid wat al jare lank die boeke bekook het.” Dit slaan ’n mens dronk waarom dit nietemin geïgnoreer is.
’n Mens wonder ook wat die rol van direksies is, in Steinhoff se geval een met talle doktorsgrade tussen ’n bewese sakeleierskorps.
Hopelik het die hoof van die Valke se ondersoekspan ook ’n eksemplaar onder sy of haar Kersboom gekry. Dit sal die ontrafeling van die onrusbarende finansiële skandaal net soveel vergemaklik.