GEBREK AAN BELEGGING VERERGER HONGERSNOOD
AFRIKA het ’n groot probleem wat voedselonsekerheid betref, en dit word vererger deur ’n tekort aan belegging en waardetoevoeging in die landboubedryf.
Prof. Umezuruike Linus Opara van die Universiteit Stellenbosch sê daar is goeie bedoelings en ondernemings om Afrika se landboubedryf te hervorm, maar ’n tekort aan belegging.
Opara het op ’n gesamentlike konferensie van vier verenigings (tuinboukunde, gewasproduksie, onkruidwetenskap en grondkunde) by die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein gesê Afrika se voedselnood word vererger deur die tekort aan belegging in waardetoevoeging en die verwerking van landbouprodukte, wat selfs minder is as die belegging in gewasproduksie.
“Afrika het ’n baie beperkte vermoë rakende waardetoevoeging en produkverwerking, veral op die vlak van sy mense, infrastruktuur, instellings, navorsing en vernuwing,” het hy gesê. “Die proses van produkverwerking ná die produksieproses moet deel uitmaak van Afrika se landbouhervormings-agenda.”
GELEENDE KAPITAAL
Opara sê sy kritiek teen Afrikalande se neiging om voedselprodukte in te voer teenoor eie produksie is nie die ergste nie, omdat baie lande in verskillende wêrelddele dieselfde doen.
“Die probleem is egter wanneer Afrika voedsel met geleende kapitaal aankoop.” Volgens hom word van die wêreld se snelgroeiendste ekonomieë in Afrika aangetref. “Maar hoekom sal jong mense geleenthede aangryp in dié gebiede waar hongersnood heers?
“Die probleem van voedselonsekerheid is nie uniek nie, maar in Afrika duur dit te lank,” het hy gesê. Hy het die Afrika-voorbeeld vergelyk met 1995 toe die wêreld bekommerd was oor hoe China sy bevolking sal voed.
“Vandag is China ’n vooruitstrewende moondheid.”
NAVORSING
In sy openingsrede het prof. Danie Vermeulen, dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe aan die UV, hom op bedryfskenkings beroep om die navorsing aan universiteite te bevorder.
“Dit sal verseker dat ons die vraag na voedsel die hoof kan bied, en daardeur ’n voedselsekeromgewing vir al ons mense kan verseker,” het hy gesê.
Volgens hom beskik Suid-Afrika oor die navorsingsmannekrag én die ondernemingsgees om dit te verwesenlik.
Vermeulen het gemaan dat wetenskaplikes versigtig met data moet omgaan.
“Ons beskik oor wonderlike navorsingsmodelle, maar ’n model is net so goed soos die data wat daarvoor gebruik word. Wetenskaplikes moet realisties wees in die verwerking van data, en die vertolking daarvan is ’n kuns,” het Vermeulen gesê.