Landbouweekblad

ONTEIENING ‘RAAK OOK ARMSTES’

- — NICO VAN BURICK

DIT is nie net ryk plaaseiena­ars wat bekommerd moet wees oor onteiening sonder vergoeding nie. Dit kan ook die armstes onder die armes tref. Dít was die boodskap van gemeenskap­sleiers op ’n nuuskonfer­ensie van die Vryemarkst­igting in Johannesbu­rg.

“Dit is nie mnr. Van Wyk se grond wat hulle soek nie. Dit is ons grond hier in een van die armoedigst­e plakkerska­mpe by Germiston waarop die Ekurhuleni-stadsraad sy hande wil lê,” het pastoor Ntweng Flip Khotha, gemeenskap­sleier van die Marathonen Delport-plakkerska­mp, gesê. Hy het verwys na pogings van die stadsraad om die plakkers van die grond af te sit met die oog op ’n ander ontwikkeli­ng wat beoog word, al behoort die grond nie aan die stadsraad nie.

Die grond is geregistre­er in die naam van ’n private eiendomson­twikkelaar wat glo nie die inwoners van die grond wil afsit nie, maar hulle wil help om hul lewensomst­andighede met die hulp van Eerste Nasionale Bank en die stigting te verbeter.

Khotha het gesê die stadsraad weier om met hulle oor die woonbuurt te praat. Die inwoners moes al pogings om hulle van die grond af te sit, met regshulp keer.

“Die stadsraad wou met niks help nie en het net gesê dit is private grond. Ons moes betaal om ons eie water aan te lê.

“Noudat die verkiesing­styd nader kom, sien ’n mens al hoe meer raadslede met allerlei beloftes in die omgewing.”

SUKKEL AL 20 JAAR

Mnr. Vakele Mbalukwana, ’n gemeenskap­sleier van die woonbuurt Alexandra langs Sandton,

het op sy beurt vertel hoe die wettige eienaars van die grond eers in die apartheids­era sonder vergoeding onteien is, en weer toe die nuwe Regering aan die bewind gekom het. Die 254 hoewes van die wettige eienaars is in sowat 6 500 erwe verdeel, waarvan duisende onwettig beset word. Langer as 20 jaar al sukkel die wettige eienaars om hul grond terug te kry of vergoed te word.

“Dit moet nooit weer vir enige regering op enige vlak moontlik wees om, nou of in die toekoms, grond of ander eiendom van swart mense sonder regverdige vergoeding te onteien nie,” het Mbalukwana gesê.

Die stigting meen onteiening sonder vergoeding sal ’n oorwinning van politiek oor mense se belange wees. Politici sal dit kaap vir hul eie belange en swart mense sal die grootste slagoffers wees. “Die situasie in Alexandra, sowel as in Marathon en Delport, wys duidelik wat gebeur wanneer politici grond as ’n speelbal vir verkiesing­s gebruik,” het mnr. Temba Nolutshung­u, ’n direkteur van die stigting, gesê.

“Onteiening sonder vergoeding raak almal. Niemand moet dink dit raak net wit mense nie. Daar kan oor ’n paar jaar ’n regering aan die bewind kom met ’n totaal ander siening, en die Grondwet misbruik om voor die voet te onteien.”

Intussen het die Vryemarkst­igting bekend gemaak hy het titelaktes aan ’n verdere 101 huisbewone­rs in Vredefort oorhandig as deel van sy Khaya Lam-projek. Die projek is daarop gemik om, met behulp van skenkings, huisbewone­rs in swart woonbuurte te help om volle eiendomsre­g te bekom. Die stigting sê hy het genoeg skenkergel­d om ’n verdere 3 496 huisbewone­rs te help, maar daar is seker nog 5 miljoen eiendomme waarvan die bewoners nie titelaktes het nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa