BRAAI TER WILLE VAN DIE BOERE, VRA RPO
Suid-Afrikaners kry die beste gehalte vleis teen die laagste pryse ter wêreld, en hoe meer hulle braai, hoe meer kan hulle boere help. Dít is die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se boodskap aan verbruikers.
Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, sê die vleisbedryf beleef tans ’n perfekte storm. “Dit is nie net die droogte wat knel nie. Boere ondervind ernstige kontantvloeiprobleme weens voerpryse wat styg en vleispryse wat daal. Daar is politieke onsekerhede, soos onteiening sonder vergoeding, en ingevoerde hoendervleis maak die bedryf seer. By dit alles is daar nou die terugslag met beken-klouseer wat uitgebreek het. Dit alles dra by tot die ooraanbod op die mark. Kom ons braai en eet die probleem op.”
SANDRA VAN WYK skryf: Dis alles goed en wel, maar vleis is onbekostigbaar in die slaghuise en winkels. Niemand kan dit bekostig om sommer net te braai nie. Boere gee hul vleis omtrent verniet aan die slagplase (verlede week R58/kg), maar die pryse daal nie in die winkels en slaghuise nie.
MATTHYS JOHAN SWART skryf: Al vir meer as vier weke ’n verlaging van 30% in die prys vir die produsent, maar nie vir die verbruiker nie?
JANINE TAYLOR antwoord: Presies, ons kyk kwylend na vleis.
CHRISTEL STRAUSS skryf: Dieselfde met melk. Waar kry jy vandag nog egte beesmelk direk by die melkboer? Sakkies melk en langlewemelk is al wat ons kry. Melkboere kry ook nie behoorlik hul geld per liter nie. Die middelman(ne) glimlag breed, terwyl die boer en verbruiker aan die kortste ent trek. As ons as verbruikers boere in ons omgewing het wat direk aan ons kan verkoop teen heelwat goedkoper as die winkels en slaghuise, sal die boer én die verbruiker daarby baat vind. Ongelukkig verkoop vleisboere nie direk aan die publiek wat die publiek nodig het nie. Vleisprodusente verkoop net in grootmaat (heel of lewend). Nie almal van ons kan ’n heel of halwe karkas bekostig nie. Nie almal het vrieskaste waarin al daardie vleis kan pas nie. Met groenteboere dieselfde storie. Waar is die padstalletjies by wie die verbruiker eerder gekoop het? Vars groente en vrugte teen bekostigbare pryse. Ons kan nie meer gesonde, vars groente en vrugte koop sonder dat die pryse ons wurg nie. Dís waar die probleem tussen die boer en verbruiker lê. Sny die middelman(ne) uit.
ELSA STEYN skryf: Mense verstaan nie. Daar is mense wat nie die hoë pryse kan bekostig nie. Verkope en omset is laer.
JUDITH SWANEPOEL skryf: Boere sal maar, soos altyd, aan die héél kortste ent trek.
JAN HENDRIK JOUBERT skryf: Met alle respek, die boer het tot onlangs nog R30-R42 per kg lewende gewig op die veilings gekry. As jy daarna kyk, is die pryse in die slaghuise in die algemeen nie buitensporig nie. Ek stem saam dat laer aankooppryse aan die verbruiker deurgegee moet word. Daar is egter ’n persepsie by sekere boere dat die verbruiker voortdurende stygings in voedselpryse kan absorbeer en net aangaan om die produkte te koop. As voedselpryse te hoog raak, sal die verbruiker noodgedwonge sy verbruik moet verminder.
ERNA ROUX skryf: Volgens mnr. Dewald Olivier, uitvoerende direkteur van die Voerkraalvereniging, was daar in die Kerstyd ’n bottelnek by abattoirs en ’n hoë aanbod, en is dít die rede vir die lae vleispryse. Nou wanneer gaan daardie vleis op wees sodat ons vleispryse weer kan styg? Daardie diere wat gedurende die Kerstyd geslag is, behoort mos teen dié tyd al opgeëet te wees. Vleis het tog net ’n sekere raklewe in die winkels en slaghuise.