Kyk nuut na voeromsetting en metings van karkasse
Die evaluering van diere vir produksiedoeltreffendheid is van onskatbare waarde by die teling van plaasvee.
Groeidoeltreffendheid is ’n belangrike eienskap ten opsigte van doeltreffendheid, en geniet baie aandag Die ander eienskappe is kuddevrugbaarheid, koeidoeltreffendheid en produkgehalte.
Diere is winsgewender as hulle voer doeltreffender na vleis kan omskakel. Die voeromsettingsverhouding (VOV), of die vermoë van ’n dier om voer in ’n verkoopbare produk om te skakel, word uitgedruk as die hoeveelheid voer wat die dier ingeneem het vir ’n toename van een kilogram in liggaamsgewig.
Die VOV het van 7,1 kg voer per 1 kg liggaamsgewigtoename in die laat 1970’s tot ’n gemiddelde VOV van 5,5 kg verbeter. Die meting van voerinname vereis egter spesiale toerusting, waar elke bul se individuele inname akkuraat gemeet word.
Plaaslike geriewe vir die meting van voerinname is aanvanklik opgerig by die bultoetssentrums op Irene, Vryburg en Queenstown, en later uitgebrei na Cedara, Glen en Elsenburg. Deur private inisiatiewe word meer bulle (en verse) per jaar by toetssentrums in private besit getoets. Vandag pluk vooruitstrewende telers die vrugte van volgehoue deelname en word
dit doeltreffend aangewend in seleksieprogramme.
TEELWAARDES
SA Stamboek stel teelwaardes vir voerdoeltreffendheid (in verskillende vorme) tot die beskikking van rasse met voldoende metings. Dit word ingesluit in teeldoelwitte sodat die totale produksiedoeltreffendheid in die waardeketting verhoog kan word. Die aantal diere met metings in ’n ras was tot dusver die grootste beperking. Gevolglik wil heelwat telers belê in geriewe om die aantal voerinnamemetings vir alle rasse te verhoog.
SA Stamboek se Logix
Vleisbeesforum wou meer aandag gee aan die aantekening en genetiese verbetering van voerdoeltreffendheid by vleisbeeste vanweë ’n groter vraag by telers om meer private groeitoetssentrums op te rig of deel te word van die bestaande netwerk.
Dit het daartoe gelei dat belanghebbendes in Augustus 2018 by die Sernick-groep naby Edenville in die Vrystaat byeengekom het. Die geleentheid is bygewoon deur verteenwoordigers van SA Stamboek, agt van die nege toetssentrums in private besit wat reeds bedryf word, telers wat van voorneme is om sentrums in die toekoms te bedryf, verteenwoordigers van twee vleisbeestelersgenoot- skappe, die Landbounavorsingsraad (LNR) en voermaatskappye wat voer aan sentrums verskaf, asook die vervaardigers van die toestelle wat voerinname meet.
INTERNASIONALE STANDAARDE
SA Stamboek se aantekenings- en verbeteringsdienste voldoen aan die Internasionale Komitee vir Diere-aantekening (ICAR) se internasionale standaarde. Dit is belangrik dat die sentrums en meting van voerinname aan die saamgestelde riglyne voldoen.
Aspekte waarvoor riglyne opgestel is, sluit in:
■ Die akkreditasie van sentrums;
■ Voedings- en behandelingsregimes;
■ Outomatisering van voerstelsels;
■ Data en rekenaarverwerking;
■ Eienaarskap van data en inligting;
■ Toekennings vir prestasie; en
■ Brandmerke. Private inisiatiewe lui ’n nuwe era in, en SA Stamboek se nuwe diens wat genomiese inligting gebruik om die akkuraatheid van teelwaardes vir vleisbeeste te verhoog, gaan hand aan hand hiermee.
In die res van die wêreld word ook gekyk na alternatiewe maniere om voerdoeltreffendheid te definieer. Een so ’n definisie is residuele voerinname (RFI), wat ook netto voerdoeltreffendheid genoem word.
SA Stamboek bied ook genetiese waardes aan vir RFI, asook residuele toename (RG, (verskille in daaglikse toename ondanks voerinname en onderhoudsbehoefte) en residuele voerbenutting (’n kombinasie van RFI en RG).
Telers kan dus selekteer vir verskillende maatstawwe van doeltreffendheid sonder om die onderhoudsbehoeftes van teeldiere se nageslag te benadeel.
KARKASMETINGS
In Suid-Afrika word die meeste vleisraskalwers in voerkrale afgerond. Karkasgewig en vetheidsgraad is belangrike faktore in die bepaling van die wins per dier. Karkasse wat byvoorbeeld te swaar of te lig is, word gepenaliseer.
Karkasgewig is onder genetiese beheer en kan dus verander word deur vir lewende gewig, raamgrootte en groei te selekteer. Dié eienskappe behoort
dus belangrik te wees by die seleksie van vleisrasbulle. Vir akkurate seleksie van toekomstige ouers is dit egter ook belangrik dat karkaseienskappe akkuraat by lewende diere gemeet moet word.
Histories is karkasdata bekom met nageslagtoetse, waar ’n aantal van ’n bul se kalwers in ’n voerkraal geplaas en geslag is om groei en karkaseienskappe te meet. Dit is egter ’n duur, stadige en selfs onakkurate manier om inligting in te samel, en boonop kon slegs ’n paar bulle op dié manier geëvalueer word.
SKANDEER SPIERE
Die algemeenste metode wat wêreldwyd gebruik word om karkaseienskappe by lewende diere te meet, is met intydse ultrasoniese klankskandering of RTU- (real time ultrasound) tegnologie.
Voordele van hierdie tegnologie sluit in dat dit goedkoop is en toestelle maklik vervoerbaar is – diere op afgeleë plekke kan dus ook geskandeer word. Geen straling is betrokke nie en diere hoef nie verdoof te word nie omdat die proses pynloos is. Met RTU-skanderingstegnologie is dit dus moontlik om objektiewe karkasmetings van lewende diere te kry.
Die nadele van RTU-skandering sluit in minder akkurate anatomiese resolusie (tegnici moet dus opgelei wees), beeldontledings wat nie geoutomatiseer kan word nie, en vleissagtheid wat nie direk gemeet kan word nie.
Benewens eienskappe soos groei, voerdoeltreffendheid, gewig, hoogte en lengte wat in bulgroeitoetse gemeet word, word karkaseienskappe soos oogspieroppervlak, rug- en kruisvetdikte en marmering ook met RTU-tegnologie gemeet.
Oogspieroppervlak (EMA) is die oppervlak van die longissimus dorsi-spier (oogspier of ribeye) en word, soos die rugvetmate en marmering, tussen die 12de en 13de ribbes met RTU gemeet.
VET EN VLEIS
Wetenskaplike navorsing dui aan dat EMA-mates gebruik kan word as ’n akkurate aanduiding van rooivleisproduksie, karkasgewig en dus uitslagpersentasie. Die onderhuidse vet is ook belangrik omdat ’n voldoende vetlaag die karkas ná afkoeling beskerm en ’n produk van hoër gehalte verseker.
Daar is ook gunstige genetiese korrelasies tussen onderhuidse vet en vrugbaarheid (vroeë geslagsrypheid), maar ’n ongewenste genetiese korrelasie tussen onderhuidse vet en gewigstoename bestaan ook.
Kruisvetdikte is ’n vetdepot wat goed korreleer met rugvetdikte (>70%) en voordelig is by die skandering van maer diere.
Marmering (binnespiersevet) is die moeilikste van alle RTUeienskappe om akkuraat te meet, veral as die dier nog jonk is en nog nie veel binnespiersevet neergelê het nie. Marmering is ’n aanduiding van die vleisgehalte en het ’n direkte verband met vleissagtheid, sappigheid en geur.
Plaaslike boere word net betaal vir vleissagtheid gegrond op die ouderdom van die dier, en kry nie noodwendig ’n direkte voordeel vir karkasse met sagter vleis nie. Verskeie belangrike markkragte is egter van toepassing om vergoeding vir gehalte-eienskappe in die vergoedingsmeganismes in te sluit.
Teelbulle kan deur middel van karkaseienskappe geselekteer word omdat vetdikte, oogspieroppervlak en marmering 20-25% oorerfbaar is.
In Suid-Afrika word teelwaardes vir EMA en vetdikte verwerk in genetiese seleksiewaardes vir rooivleisproduksie en uitslagpersentasie, terwyl ’n teelwaarde vir marmering ook beskikbaar gestel word.
Diere is meer winsgewend indien hulle voer meer doeltreffend na vleis kan omskakel.