Skoue: Is die skrif aan die muur? ‘Net die grotes het toekoms’
Met ekonomiese, tyds- en arbeidsbeperkings gaan skoue soos dit tans aangebied word minder gewild word, en net die groter skoue sal bly voortbestaan. Jaarlikse skoue en veilings van nie-haltermak bulle en verse sal gewilder word, voorspel die stoetteler en beesbeoordelaar mnr. Llewellyn Angus.
Wat doen ’n nuwe stoetteler om sy diere te bemark? Gewoonlik skou hy hulle (indien sy ras wel aan skoue deelneem), maar is dit die regte ding vir ’n ras en ’n teler om te doen? Die vraag ontstaan dan ook wat die alternatief is.
Die skou van diere om te bepaal watter een fenotipies die “beste” dier is, vind al vir honderde jare plaas. Mense is baie lief om met mooi diere te teel en met hulle te boer. Natuurlik moet hierdie diere vir die telers geld maak. Telers en kopers heg om twee hoofredes ’n ekonomiese waarde aan diere: hul genetiese teelwaarde en wat hulle finansieel kan bydra tot produksie, en hoe hulle lyk.
Hoe hulle lyk het te make met strukturele korrektheid en funksionele doeltreffendheid en kenmerke wat die dier mooi laat vertoon, soos haarkleed en -kleur, karakter, manlikheid en spierontwikkeling, of vroulikheid in die geval van vroulike diere. Beraamde teelwaardes vir sekere geneties meetbare eienskappe gee ’n aanduiding van hul genetiese waarde vir daardie eienskappe soos geboortegewig, maklike geboorte of speengewig.
Sekere telers van beeste (of ander plaasdiere) is baie lief om te skou. Wat daarmee gepaardgaan, is die hoofsaaklik visuele vergelyking en kompetisiefaktor tussen diere, asook die sosiale bymekaarkom van mense met dieselfde belangstelling. Die ou vraag met die skou van beeste is of die mooi diere en wenners noodwendig ook ekonomies gesproke die beste diere is om mee te teel. Die mooiste dier is ekonomies gesproke eintlik die een wat elke jaar ’n goeie kalf onder normale plaastoestande speen. Indien jy skou as ’n stokperdjie, is niks daarmee fout nie, maar as skou deel van jou besigheid is om produktiewe en doeltreffende diere te teel, vermeng jy moontlik jou doelwitte. Party telers betaal nog baie geld vir skouwenners of kampioene, selfs al het die diere swak teelwaardes of ekonomiese randindekse (gegrond op teelwaardes). Die vraag is: Hoe lank gaan dit nog aanhou?
Indien jy vir ’n stokperdjie skou, is niks daarmee fout nie, maar as skou deel van jou besigheid is om produktiewe en doeltreffende diere te teel, vermeng jy moontlik jou doelwitte.
FENOTIPE EN GENOTIPE
’n Mens moet in gedagte hou dat die fenotipe, of hoe ’n dier lyk, ’n kombinasie is van genotipe (of die genetiese samestelling van die dier) en die omgewingsfaktore waaraan die dier blootgestel is. Uit hierdie oogpunt neem ’n mens aan dat skoubeeste onderworpe was aan “beter” omgewingstoestande sodat hulle goed kan uitgroei, in ’n goeie kondisie is en mooi is om na te kyk. Maer beeste is nie innemend om na te kyk nie. Neem ook in ag dat daar ’n dun lyn is tussen diere in ’n goeie kondisie en oorvet diere.
’n Mens besef die skoudiere of skoustring is ’n bestuursgroep op sy eie, met ’n hoër vlak van voeding en bestuur as die gewone plaasdiere. Dit is problematies in dié sin dat hulle nie direk met die groter groep beeste op die plaas wat éintlik die geld maak, vergelyk kan word nie.
Hulle is feitlik ’n geïsoleerde groep diere wat veronderstel is om die “beter” diere van die teler te wees. Hoeveel beter? Volgens voorkoms of fenotipe as jonger diere toe hulle vir die skoustring geselekteer is? ’n Mens neem so aan.
Nadat hierdie diere uit die groter groep gehaal is, kan hulle nóóit weer deel van die groot groep uitmaak nie, omdat almal vir ’n sekere tydperk nie dieselfde behandeling gehad het nie.
Die skoudiere is “bederf” en word rondgery, terwyl die plaasdiere onder plaastoestande moet produseer en geld vir die teler moet maak. Die plaasdiere is gewoonlik die “brood en botter”-diere wat die geld inbring. Die uitgawes van skou en die skoudiere kan maklik R10 000 per dier per jaar beloop, en selfs meer as die diere dwarsdeur die jaar geskou of op ’n hoë voedingsvlak gehou word.
VISUELE WAARNEMING
Skoudiere word deur beoordelaars gefynkam vir strukturele en funksionele korrektheid en vir raseienskappe. By bulle plaas ons groot klem op manlikheid, skrotum en skede, bene en loopvermoë, en kapasiteit en bespiering. By vroulike diere kyk ons hoofsaaklik na vroulikheid en wigvorm, teelorgane en uiers, voldoende kapasiteit en bene en loopvermoë.
Die volgende eienskappe kan net visueel of hoofsaaklik visueel bepaal word: Growweof fynbeendiere, visueel té groot of rankerig of ponieagtig, goeie of té min breedte of kapasiteit, min of té veel bespiering en definisie van bespiering in bulle, korrekte of ongewenste tipe wat meeste van bogenoemde insluit, en die gewenste raseienskappe. Daar is natuurlik teelwaardes soos uitslagpersentasie wat ’n aanduiding van bespiering sal gee, of volwasse gewig wat ’n aanduiding van grootte sal gee.
Visuele waarneming bly dus belangrik vir skoudiere asook plaasdiere, omdat ons in ’n groot mate op strukturele foute en funksionele doeltreffendheid let wanneer ons na diere kyk. Die ou gesegde van “vorm volg funksie” bly waar. By die inspeksie van stoetdiere (selfs kommersiële diere) op die plaas gaan ál die diere deur hierdie visuele assessering of waardebepaling.
Hou in gedagte dat “syfers” of teelwaardes van stoetdiere deesdae terselfdertyd by plaasinspeksies aandag moet kry.
SYFERS EN SKOUBEESTE
Die vraag is dan wat die rol van die syfers is wat skoubeeste betref. Ons weeg en meet die diere vir sekere eienskappe, soos geboorteen speengewig, skrotumomvang, jaargewig, gewig op 600 dae, heuphoogte en nog meer. Ná speen kry die skoudiere gewoonlik beter behandeling, maar tot speen is almal in dieselfde bestuursgroep.
Sekere vrae duik gereeld op oor ’n skoukoei se kalwers: Wat van sekere kalwers wat voor speen kruipvoeding gekry het omdat hulle die teler se oog gevang het? Wat van die gebruik van teelwaardes in die skouring om die diere met mekaar te vergelyk? Wat as die bestuursgroepering van skoudiere nie akkuraat gedoen is nie? Dan is opgeblaaste gewigte en teelwaardes vir groei die resultaat.
Wanneer senior koeie (ouer as drie jaar) beoordeel word, is dit noodsaaklik om die aantal kalwers wat sy gehad het in ag te neem, om sodoende te diskrimineer teen minder vrugbare diere.
Die grootste probleem is steeds die baie kleiner bestuursgroep waarin die skoudiere hulself bevind. Dit lei tot verlaagde akkuraatheid van hul teelwaardes in vergelyking met die groter groep plaasdiere.
Op die plaas sou tipies 60 of 100 kalwers van ’n drie maande lange kalfseisoen vergelyk word tydens 45 dae-groepering. Hulle word in twee kontemporêre groepe verdeel, dus van die eerste 45 dae en die tweede 45 dae, met bulle en verse ook weer in hul onderskeie groepe. Uiteindelik is daar 15 of meer diere in ’n kontemporêre groep wat direk vergelyk word om teelwaardes te skep. As voorbeeld: altesaam 80 kalwers gebore/2 groepe kalwers = 40. Bulle is sowat 20 en verse naastenby 20 per groep. Die ou-
derdom van die koeie maak die groepe nog kleiner, byvoorbeeld eerstekalfkoeie se kalwers word saam gegroepeer.
Met skoubeeste kan daar net twee of drie diere in só ’n groep wees, wat nie genoeg is vir akkurate prestasietoetsing nie. Neem in ag die vyf of ses skoukoeie se kalwers kan nie deel van die groot groep uitmaak nie omdat hulle op ’n hoër voedingspeil is.
WAT IS DIE OPLOSSING?
Selekteer diere vir skou nadat die hele groep op die ouderdom van ’n jaar geweeg en skrotums gemeet is. Sodoende is ál die diere tot op jaarouderdom dieselfde hanteer. Almal moet tot op ’n jaar goeie voeding kry, anders sal dié wat vir skou geselekteer is, nie goed teen beter gevoerde diere opweeg nie. Nou kan al die diere in die groot groep op grond van geboortedata, speengewig, jaargewig, skrotumdata en skanderingsdata direk met mekaar vergelyk word. Net 600 dae-gewig en volwasse gewig sal nou in ’n baie kleiner groep wees. Dit is baie voordelig vir die akkuraatheid van data. Onthou dat verse wat vir skou geselekteer en gevoer is, áltyd kalwers in hul eie, klein, beter gevoerde bestuursgroep sal hê, wat beteken dat hul kalwers uit voorheen bevoordeelde diere kom.
Al hul kalwers sal dus nie deel van die groot groep uitmaak nie.
KOMBINEER SYFERS EN VOORKOMS
Wat van die saamvoeg van syfers en visuele voorkoms? Voorbeelde van klasse by skoue waar syfers en visuele beoordeling saamgevoeg word: Die Simmentaler, Simbra en ander rasse se superkoeiklas. Dit is vir koeie wat minstens drie keer gekalf het. ’n Simdex-vrugbaarheidsindeks word op ’n 50-50grondslag met ’n visuele punt gekombineer om die algehele wenner te bepaal. Die BLUP-bulklasse van verskeie rasse waar sekere teelwaardes op ’n 50-50-grondslag met ’n visuele punt gekombineer word, is ’n ander voorbeeld van oorkruistipe
(cross-over) klasse, wat baie sin maak. In die interrasklasse word die Breedplan-interrasbulkampioen visueel geselekteer uit die verskillende rasse se BLUP-kampioene. Die Landbounavorsingsraad se jaarlikse fase C-prestasietoetsklas is soortgelyk daaraan, waar daar binne elke rasgenootskap visueel bepaal word watter bul wen. So ook SA Stamboek se jaarlikse fase C-klas, waar die wennerbul visueel geselekteer word uit verteenwoordigende bulle van elke genootskap. ’n Interras-superkoei word ook uit die verskillende rasse se superkoeiwenners gekies.
HANDHAAF BALANS
’n Mens wil ook nie hê syfers moet só ’n groot rol speel dat die dier met die “beste” syfers amper outomaties wen nie. Daar moet ’n balans tussen visuele voorkoms en syfers wees, volgens die internasionale beoordelaar dr. Thomas Grupp van Bayern Fleckvieh Genetics. Hy beskou dit as ’n kwessie wanneer Fleckvieh-koeie (Duitse Simmentalers) in Duitsland beoordeel word, omdat die klem te veel op melksyfers val en te min op strukturele aspekte, uier en tipe dier. In Duitsland en die meeste Europese lande word die Fleckvieh hoofsaaklik vir melkproduksie geteel, hoewel vleis ook ’n groot rol speel.
Die internasionale Suid-Afrikaanse beoordelaar mnr. Martin Seyffert is dit eens dat, indien syfers beskikbaar is, dit gebruik moet word, maar in samehang met voorkoms. Dit kan moeilik wees om in die skouring toe te pas as daar nie duidelike reëls en riglyne is nie.
Wanneer bulle egter vir die plaas gekoop word, moet die boer eers na die syfers kyk om te bepaal watter diere se teelwaardes in sy kudde sal werk. Daarna kyk hy visueel na die diere met die gewenste teelwaardes.
Die beskouing van teelwaardes (wat met sekere ongewenste eienskappe soos hoë geboortegewig verband hou) van diere in die skouring voordat die diere finaal geplaas word, is ook ’n goeie ding, maar wat van teelwaardes met minder akkuraatheid? Miskien is die dier nie eens by geboorte geweeg nie, en word sy geboorteteelwaarde vanuit sy stamboom afgelei. Die saamvoeging van visuele assessering en syfers het dus ook tekortkominge.
RISIKO SONDER SYFERS
As ’n beoordelaar bereid is om ’n dier ’n grootkampioen of selfs ’n nasionale kampioen te maak sonder om na die syfers te kyk, loop hy ’n groot risiko. Ek het al nasionale kampioene van rasse gesien met ’n geboortegewigteelwaarde wat onder die swakste 5% van die ras val.
Sekerlik teel ons ook diere om lewende kalwers en vleis te produseer. Sekere aspekte kan bepaal word deur visueel na ’n dier te kyk, en ander kan in syfers en teelwaardes gesien word. Dit maak tog sin om alle hulpmiddels tot jou beskikking te gebruik wanneer diere geïnspekteer of beoordeel word.
Koeie met laer vrugbaarheid wat hoog geplaas word, is nog ’n probleem wat kan opduik as die getal kalwers in verhouding tot die koei se ouderdom nie beskikbaar is of in aanmerking geneem word nie.
MARKAANDEEL
’n Ras wat skou eerste stel, plaas die ras laaste. Dis wêreldwyd duidelik dat rasse wat die klem op beoordeling van visuele aspekte geplaas het, markaandeel verloor het. Die rasbesture wat die klem op genetiese neigings van die hele ras plaas en raspromosie doen gegrond op die hele ras, het markaandeel gewen. Party rasse het die fout agtergekom en ’n klemverskuiwing aangebring, met ’n gevolglike verbetering in markaandeel.
In Suid-Afrika skou ’n aantal rasse en die meeste van die sintetiese rasse glad nie. Dit het nie noodwendig hul markaandeel nadelig beïnvloed nie. Die Bonsmara het soms ’n statiese demonstrasie op groot skoue, met reklamemateriaal. Dié ras staan bekend as die wetenskaplike ras en is numeries verreweg die grootste in Suid-Afrika (stoet en kommersieel). Die Brangus het ’n jaarlikse, gekombineerde nasionale skou en veiling waar nie-haltermak diere meeding. Die meeste van die rasse wat nie skou nie, hou wel inligtingsdae of ope bul- en versinspeksiedae.
Die Brahman is in Suid-Afrika en Namibië ’n voorbeeld van ’n rasgenootskap wat ’n sterk skou-aspek én ’n sterk tegniese en genetiese kant het. Hulle handhaaf ’n balans tussen die tradisionele skou- en tegniese aspekte van rasverbetering deur aandag te gee aan genetiese evaluasies en neigings, en genomiese projekte. Hulle is ook deel van ’n interkontinentale, genetiese evaluasie. Hierdie sukses is te danke aan ’n sterk tegniese
komitee en ’n raad wat bereid is om tyd en geld in genetiese evaluasies te belê.
TOEKOMS VAN SKOU
Met beperkings wat tyd, arbeid en finansies betref, sal skou soos ons dit tans ken minder gewild word en net die groter skoue sal bly voortbestaan. Daar is ook ’n beweging na haltermak en nie-haltermak skoue vir spesifieke rasse, gekombineer met ’n veiling en raseie aktiwiteite en lesings. Jaarlikse nie-haltermak skoue en veilings, soos die Brangus, of nie-haltermak bul- en versdae sal gewilder word. Dit is indien ekstra voeding van net sekere diere nie die norm word nie, en diere korrek geassesseer word deur middel van visuele beoordeling en data of teelwaardes.
Oop inspeksiedae van diere op plase sal ook gewilder word. Sodra telers minder begin betaal vir tradisionele skouwenners en meer vir visuele, korrekte diere met die gewenste teelwaardes en ekonomiese indekse (wat skou- of plaasdiere kan wees), sal die beesbedryf in die regte rigting beweeg.
Op ’n persoonlike vlak: Ons Wisp-Willstoeterye het langer as 35 jaar geskou, met talle nasionale kampioene, skoukampioene en vyftien goue bekers (interraskampioene op groot skoue). In daardie tyd was dit finansieel die moeite werd en ook ’n groot voorreg om te kon skou. Ons het opgehou om voltyds te skou met die aanbreek van die BLUP- en teelwaarde-era gedurende die vroeë 2000’s. Ons skou nog soms (elke drie tot vier jaar) een of twee bulle op ’n nasionale kampioenskapskou – net met bulle wat tot op jaarouderdom in groot bestuursgroepe was.
TEELWAARDES EN GENOMIKA
Akkurater teelwaardes en genomiese teelwaardes word in die vooruitsig gestel. Ons moet dié teelwaardes in samehang met visuele aspekte gebruik om te bepaal watter bulle ons vir ons eie stoetkuddes nodig het en om aan kommersiële telers te verskaf.
Uit ’n finansiële oogpunt heg tradisionele skoue té veel waarde aan visuele aspekte. Die assessering van diere vir strukturele korrektheid en ander eienskappe sal altyd belangrik bly. Ons brood en botter is die kommersiële telers aan wie ons 90% of meer van ons stoetbulle verskaf. Sal hierdie bulle die kommersiële kuddes vorentoe laat beweeg of nie? Hulle sál, mits die bul die gewenste teelwaardes vir die spesifieke kudde het en visueel en struktureel korrek is.
My raad aan genootskappe en nuwe en ou telers is om, indien moontlik, tradisionele skou te beperk. Soek nuwe maniere om jou ras en diere te bevorder wat die visuele voorkoms met syfers kombineer, soos oop inspeksiedae, jongbuldae en nie-halterskoue. Sosiale media speel deesdae ’n groot rol om diere te adverteer, en gevolglik het die advertensiewaarde van skoue verminder. Indien wel op die konvensionele, tradisionele manier geskou word, probeer om die skoudiere eers ná ’n jaar te selekteer sodat alle gewigte en eienskappe tot op ’n jaar direk vergelykbaar is in groot bestuursgroepe. Indien daar net met bulle geskou word, word die kwessie van klein bestuursgroepe vir vroulike diere, en hul nageslag wat weer in húl eie klein groepe moet wees, uitgeskakel.
DEEL VAN DIE PRENTJIE
Moenie te veel klem op skou en skoudiere plaas nie. Jou beste diere is dié wat die beste langtermynproduksie onder jou plaastoestande het. Tradisionele skou het wel sy plek in die bedryf. Skou gaan grotendeels oor die plasing van die beste diere op sigwaarde. Hulle word vir strukturele korrektheid en ander visuele aspekte beoordeel, wat belangrik is. Dit is egter net ’n deel van die prentjie. Die diere het ook genetiese en ekonomiese eienskappe wat byvoorbeeld net gedeeltelik in hul teelwaardes raakgesien kan word.
Ek het nie ’n beswaar teen skou as telers besef skoudiere is nie die hele prentjie nie, en rasse nie op loop gaan met skou nie. Rasse wat skou, moet die telers wat wél skou, bedank vir die blootstelling op skoue en in die landboumedia. Die jeugskoubeweging, waar voeding en gesondheidsaspekte ook deel van die kurrikulum uitmaak, is ’n gunstige ontwikkeling in die veebedryf.
Wanneer ’n ras of sommige telers skou hul eerste prioriteit maak, vergeet hulle om die ras en sy doelwitte te balanseer. Geen ras word geteel vir die skouring nie, maar vir die plaas. Skoudiere is ook numeries ’n baie klein deel van enige ras. Konsentreer eerder op die hele ras en sy genetiese neigings en goeie en swak punte. Dit is vir my ’n groot voorreg om diere te beoordeel, maar hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat die tradisionele skou net ’n deel uitmaak van die groter geheel. Uiteindelik sal finansiële faktore die toekoms van rasse en skou bepaal, en hoe dit vorentoe gaan ontvou.