Kry suur sandgrond só produktief
Deur pH te beskou as ’n aspek wat deurgaans monitering verg, is mnr. Robert Paterson besig om suur sandgrond in die Sandveld in produktiewe landbougrond te omskep.
In die hart van die Sandveld is ’n suksesvolle onderneming met enigiets buiten aartappels en sitrus ’n opdraande stryd. Mnr. Robert Paterson, wat eintlik dieper die binneland in boer en die Twaktuin-boerdery tussen Clanwilliam en Citrusdal besit, beoog om winsgewende avokado’s te vestig op grond waarvan die pH drasties reggestel is.
Met dekgewasse en ’n weeklikse pHbehandeling vestig Paterson gesonde grond met ’n organiese materiaalinhoud van 1% op sy plaas Wittedrift naby Redelinghuys. Die pH van die grond was 4,5 – en plek-plek selfs laer. Met die regte behandeling kon hy die pH verhoog tot tussen 6 en 7, naby die mikpunt van 7,5. Sodoende het hy stewiger groei en ‘n hoër uitpakpersentasie bewerkstellig. Só hoop hy om sy avokadoproduksie uit te brei (sien ook “Kan Wes-Kaap nuwe avomekka word?”, LBW, 3 November 2017).
Nadat Paterson Wittedrift in 2016 gekoop het, het hy 21 ha Mor-mandaryne, ’n sagte- skilsitrus, gevestig. Die boord het gesond begin, maar die groeitempo was nie na wens nie. Die bome het klein blaartjies gemaak, en die lengtegroei van die takke was vertraag.
“Daar was ’n stukkie van 0,25 ha wat veral swaargekry en gelyk het of dit gaan vrek. Ons het die pH van die hele 21 ha voor planttyd volgens grondontledings met kalk reggestel. Ons was oortuig dit kon nie die pH wees nie.
“Ons het mnr. Jaco Visser van die oesbeskermingspesialis Viking gevra om raad te gee, en hy het me. Heather Raymond van Tsama Agriculture se hulp ingeroep. Blaarontledings het heelwat voedingstoftekorte getoon, maar die bemestingsprogram op Wittedrift was voldoende en op skedule. Ná veldtoetse en grondmonsters is die probleem gediagnoseer as ’n lae pH, en die weeklikse pH-behandelings het begin,” sê Paterson.
OPBRENGS OP BELEGGING
Daar word weekliks 2 liter CalSap per hektaar op Wittedrift toegedien (sien ook die
“Só werk vloeibare kalsium”). CalSap is ’n vloeibare, alkaliese kalsiumbron met ’n pH van 12,5. Volgens Raymond, wat die produk uit Australië invoer, sal die produk die pH van neutrale water in ’n 1:1000-oplossing tot 9,5 verhoog. Hierdie toediening kos sowat R3 500 per hektaar per jaar.
Die oprigting van skadunet kos ongeveer R250 000 per hektaar. “As ons keer dat ’n oes weens windskade verlore gaan, betaal die nette, wat hoofsaaklik vir windbeskerming aangebring word, binne een produksiejaar vir hulself. As ons die uitpakpersentasie van die sitrus met 10% kan verbeter danksy minder windskade, betaal die nette binne twee jaar vir hulself.
“Indien dieselfde redenasie gebruik word vir die weeklikse behandeling van die pH, is laasgenoemde baie lonender as skadunette. As ons die bome ’n jaar vroeër in drag kan kry omdat voedingstowwe beter benut word, betaal die intensiewe bestuur van die pH in ’n enkele jaar vir tien jaar se toediening. As ons die opbrengs met slegs 5% kan verbeter deur die pH beter te beheer en dus meer voedingstowwe in die boom kan kry, lewer hierdie belegging ’n 100% opbrengs op die belegging in ’n enkele produksiejaar,” sê Paterson.
RESULTATE BINNE TWEE WEKE
Volgens mnr. Jared Murphy, plaasbestuurder op Wittedrift, was die beterskap byna dadelik sigbaar. “Binne twee weke het ons pragtige nuwe uitloop in die sitrusbome begin sien. Jy kan steeds die 2016-’17-somer se blare op die bome sien, en hulle is nie eens die helfte so groot soos die blare van die 2017-’18-seisoen nie.
“Baie van die blare in die vorige produksiejaar was ook misvorm weens die voedingstoftekorte. Omdat ons die pH nou op 6 tot 7 in die wortelsone kan hou, is die voedingstowwe in die grond baie meer opneembaar. Die boomwortels kan ook die
voedingstowwe beter benut. Daar is dus minder vermorsing van voedingstowwe, en beter groei,” sê Murphy.
Die strategie om CalSap weekliks toe te dien, spruit nie net uit die feit dat die grond op Wittedrift van nature baie suur is nie. “Die toediening van sommige kunsmis, veral ammoniak-gebaseerde stikstof, versuur die grond deurgaans. Ons moet dus weekliks die pH van die grond bestuur om die optimale omgewing vir wortelontwikkeling en voedingstofopname te verseker. Ons het nou ’n gereedskapstuk waarmee ons die pH in die grond kan bestuur soos wat ons grondvog met besproeiing bestuur,” sê Paterson.
Op Wittedrift kry die sitrusbome die eerste jaar 100 kg stikstof, 30 kg fosfaat en 26 kg kalium per hektaar, en in die tweede jaar onderskeidelik 150 kg, 30 kg en 40 kg. Ongeveer twee derdes van hierdie kunsmis word net voor die somer eenmalig as stadig vrystellende kunsmis toegedien. Die res word deur die jaar deur die besproeiingstelsel toegedien.
Raymond beklemtoon dat CalSap nie ’n plaasvervanger vir volle oppervlaktekalktoediening is nie. “CalSap word deur die besproeiingstelsel toegedien. In Robert se geval, waar drupbesproeiing gebruik word, sal die CalSap dus die pH net in die wortelsone, waar die besproeiingswater bykom, kan reguleer. Om voloppervlakte-regstelling op lang termyn te doen, sal daar steeds kalktoedienings moet plaasvind.
“Die feit dat versuring weens kunsmistoediening deur CalSap voorkom word, sal daartoe lei dat kalktoedienings afneem en later selfs nie meer nodig sal wees nie. Die tradisionele pH-regstellings is steeds noodsaaklik.”
BOU DIE GROND
Die lae pH is egter nie Paterson se enigste bekommernis in die Sandveld nie. “Die grond hier is arm, met ’n organiese koolstofinhoud van minder as 0,3%. Ons mik daarna om ons grondorganiese koolstofinhoud tot 1% te verhoog, maar dit is makliker gesê as gedaan.”
Die droë, warm somers brand vinnig enige dooie organiese materiaal wat op die grond lê tot niet, en dan is die oostewind ook nie
mak op Wittedrift nie. “Ons het tans ’n dubbele strategie om windbrekers tussen die jong bome te vestig en terselfdertyd die grondorganiese inhoud op te bou,” sê Murphy.
In elke tweede werksry het hy ná die eerste reën in 2018, net ná Paasnaweek, 30 kg rog per hektaar gesaai. Die rog sal onaangeraak in die werksrye bly staan om uit te droog en in die somer as ’n windbreker te dien.
“In die afwisselende werksrye het ons ook 30 kg kanola per hektaar gesaai. Ons sal die kanola net tot in blomtyd laat gaan en dan die helfte van die bedding aan elke kant met die bossiekapper op die bankies onder die bome insny. Die doel is om organiese materiaal op die bankie te vestig. Ons hou die bankies met kontakdoders skoon van onkruid om mededinging met die bome te keer,” sê Murphy.
Paterson het kanola ook gekies omdat dit ’n diep penwortelstelsel het. “Die redenasie is dat dit voedingstowwe diep onder die grond hersirkuleer en nader aan die oppervlak bring in die vorm van organiese materiaal, wat ons op die bankies opkap.”
Hy het ook in die eerste 18 maande nadat die boord gevestig is, sorghum tussen die bome in die boomry gevestig. Die sorghum is drie maal deur die jaar afgesny, en die snysels is om die bome op die bankie gepak as ’n grondbedekking en om die organiese materiaal in die grond aan te vul. “Die bome se wortels begin egter die spasie vul, en die sorghum sal met die bome begin meeding om water en voedingstowwe. Ons sal daarom nie weer saai nie.”
Al die moeite wat gedoen word, is om gesonde grond en ’n beter habitat vir mikroorganismes te skep. “Ek glo die pH van grond met ’n hoër organiese materiaalinhoud sal stabieler wees en die grond sal nie so vinnig en maklik versuur nie. Indien die grond wel effens suur is, sal ’n hoër organiese materiaalinhoud die beskikbaarheid van voedingstowwe verhoog.”