Hoëveldboer slaan slag met vogbewaring: ‘Dekgewasse maak net sin’
’n Denkskuif was nodig om van konvensionele landboupraktyke na herlewingslandbou oor te skakel, sê mnr. Carel Kriek van Heidelberg. Begin by grondregstellings, gebruik die werktuie wat jy het, en plant proewe, is sy raad.
Alles rakende herlewingslandbou begin en eindig by die grond, sê mnr. Carel Kriek, boer van Heidelberg, nadat hy drie jaar gelede met herlewingslandboupraktyke begin het. “As jou grond reg is, is alles reg. En om daarmee te begin, moet jy eerstens kalk strooi. Sodra jou grond se magnesium- en kalsiumvlak reg is, het jy ’n uitstekende grondslag waarvandaan jy kan wegspring.”
Vir Carel het die herlewingslandboupad begin nadat hy die winsgewendheid van sy sojaboonaanplantings bevraagteken het.
“Ek het vier jaar lank sojabone geplant nadat ek aanvanklik slegs mielies ná mielies geplant het. Sojabone is egter ’n riskante gewas omdat dit baie afhanklik van reën op die regte tyd is. Boonop verwyder sojaboon heelwat kalium en fosfaat uit die grond. Dit plaas wel stikstof terug. Jou hoër mielie-oes volgende jaar betaal dus vir die duurder kunsmis wat jy in die grond moet terugplaas.
“Sojabone was dus nie die volle antwoord vir my nie, hoewel ek vermoed het dit sou deel van die antwoord wees.”
Ook geenbewerking het nie heeltemal sin gemaak nie. “Vir geenbewerking moet jy jou hele stelsel verander, wat natuurlik jou risiko verander omdat jy duur toerusting, soos nuwe spuite, moet aankoop en op spesifieke tye moet spuit.
“Baie boere spring geesdriftig weg met geenbewerking, sien binne twee jaar nie die resultate waarna hulle gesoek het nie, en beweeg terug na konvensionele praktyke. As hulle die volgende jaar weer ’n groot oes kry, dink hulle geenbewerking het nie nut gehad nie, maar intussen het hulle op die verkeerde manier daarmee begin.”
Die geheim, sê hy, lê in die Amerikaanse landboukundige mnr. Gary Zimmer se gunsteling-sêding: “You have to earn the right to no-till.”
Daamee bedoel Zimmer die grond moet eers reggestel word voor ’n mens geenbewerking kan begin oorweeg, sê Kriek.
“Dit beteken beperkende lae moet met ’n skeurploeg opgehef word, die regte kalktoediening moet gedoen word en grondmonsters moet geneem word. Wanneer ál hier-
die faktore gereed is, kan jy voortgaan met geenbewerking.
“Dit gaan nie daaroor om ’n planter te koop en teen ’n spoed weg te spring nie. As jy ’n beperkende laag op 400 mm in jou grond het, moet jy ’n skeurploeg insit om eers daardie laag op te breek. Daarna moet jy grondontledings laat doen. Hoewel baie boere oor die grondontledingskoste van R200 mor, moet jy darem eers kyk wat aangaan voor jy met geenbewerking begin.”
NIE ALFA EN OMEGA
Vir Kriek was geenbewerking nie die kitsoplossing nie. “Geenbewerking kan maklik baie tegnies raak. Planters kan oneweredig plant weens ’n probleem met materiaaldeurvloei of omdat die grond nie homogeen is nie. Dit verg ook baie meer bestuursinsette, wat beteken ek moes die praktyk as deel van die antwoord sien, maar nie as die hele antwoord nie.”
Hy gebruik byvoorbeeld ’n Rubin 9-werktuig van Lemken om eers die vorige produksiejaar se materiaal in die grond in te sny voor hy begin plant.
“Dit is nie 100% geenbewerking nie, maar die impak op my lande is daadwerklik. Die grond is sagter met ’n sponsagtige tekstuur omdat daar soveel organiese materiaal ingewerk word en nie op die lande gelaat word om weg te waai nie.”
DEKGEWASSE VOLTOOI LEGKAART
Ten spyte van die veranderings het Kriek gevoel dat ’n laaste komponent in die herlewingslandboulegkaart kortkom.
“Die oomblik toe ons dekgewasse begin plant het, het alles sin gemaak. Dit gaan daaroor om die son van die grond af weg te hou. Dit is waaroor die beginsel gaan – om soveel moontlik vog te bewaar.”
Kriek sê hy het die beginsel vanjaar in praktyk gesien met ’n droëland-aanplanting van mielies. “Gestel jy plant 76 cm-rye teen 35 000 plante per hektaar. Waar die land gesoom word, gaan jy nie 35 000 plante kry nie – dit is nader aan 70 000 plante per hektaar. Daar waar die plantdigtheid hoër is, is die grond beslis natter as waar die plantdigtheid laer is. Dit is die geheim van dekgewasse: Om dwarsdeur die jaar daardie wortels in die grond te hê.”
Hy plant tans jaarliks sowat 1 000 ha mielies en 70 ha sonneblomme, terwyl 40 ha lande gebruik word om tef te verbou en dekgewasse te vestig.
SÓ BEGIN KRIEK SE PROSES
Om die verskillende dekgewasse te plant, het Kriek aanvanklik ’n gewone grootsaadplanter se sojaboonplate vervang met kanolaplate, en daarna ’n tefsaadplanter ingespan om sy lande te beplant.
Hy benadruk dat hy geen nuwe werktuie aangekoop het om met sy herlewingslandbouproewe te begin nie.
“As jy werktuie moet aankoop vir die eksperiment, gaan jy lelike pryse betaal. Daar is wel planters wat bekostigbaarder is en wat die werk amper so goed kan doen soos die duur Rolls-Royce’e op die geenbewerkingsmark. Vir die wegspring het jy nie duur, nuwe werktuie nodig nie. Begin eerder met wat jy het en pas dit aan,” is Kriek se raad.
Hy het reeds ’n tefplanter vir die fyn saad gehad, maar moes ’n plan prakseer om die middelgrootte saad te plant.
Kriek het dus van die sojaboonplate uit sy bestaande Equalizer-planter gehaal en dit met kanolaplate vervang om die kleiner grootsaad te plant. Sodoende kon hy sy rye gewasse afwissel.
“My eerste stap was om die fyner saad, soos die geelblomlusern, met die tefplanter breedweg oor die land te saai, waarna ek die kanolaplate en groter sojaboonplate in my grootsaadplanter afgewissel het om die gro-
ter saad, soos die weiwieke, te plant. Dit beteken dat ek byvoorbeeld rye 1, 4, 7, 10 en 12 met middelslagsaad beplant het en rye 2, 3, 5, 8 en 11 met groot saad. Die grootsaadplanter is ingespan om sade dwarsoor die land (en oor die fynsaadaanplanting) te plant.”
Om te verseker dat die regte verhouding van gewasse as weiding aangebied word, plant Kriek vyf verskillende plantfamilies aan. “Ons aanplanting bestaan uit ’n graan-, ’n peul-, ’n Chenopodioideae -en’n Brassica-gewas, asook Raphanus sativus (Japannese radys). Die radys maak ’n baie klein deel van die aanplanting uit omdat die Meatmasterskape wat ek gebruik om die dekgewasse te bewei, dit nie soveel vreet soos die ander dekgewasse nie.”
Kriek bly ook weg van klawer, wat nie in sy omgewing aard nie.
Die Meatmasters is aanvanklik in drukbeweidingstoestande in kampe op die lande met dekgewasse geplaas, maar Kriek het vinnig gesien die skape benut die dekgewasse só deeglik dat dit nie meer nodig was om drukbeweiding toe te pas nie. Nou word slegs twee groot kampe pleks van ’n groter
hoeveelheid kleiner kampe gebruik. Die weer speel ’n groot rol in die beplanning van sy rotasiestelsel.
“Jy kan nie mielies plant, dit teen Mei wil stroop en daarna opvolg met ’n dekgewas nie, want dan plant jy ál jou saad op ’n droë stuk grond. Begin aanvanklik op uitvalstukke en op swakker lande waarop jy tef plant wat teen Februarie klaar gesny kan word, en waarop jy later winterdekgewasse kan plant. In die daaropvolgende somer plant jy mielies of sojabone. Daarna volg jy dit op met tef en winterdekgewasse. Sodoende kan ’n sinvolle rotasiestelsel gevestig word.”
PLANT PROEWE!
Sonder proewe gaan jy nêrens kom nie, glo Kriek. “Dit hoef nie verskriklik professioneel te wees nie, maar ek glo daaraan om presies te weet wat gebeur.
“Vanjaar het ek proewe met elke gewas gedoen. Ek het 30 lyne van 30 m x 6 m getrek, die saad geplant, en dit duidelik gemerk. Dit het my gewys hoe die plantjie lyk, hoe vinnig hy ontkiem, en watter saad laaste uitkom. Daarna het ek ’n onderskeid getref tussen meerjarige en enkeljarige gewasse met ’n proef van 2 m vir elk. Die enkeljarige plante het baie vinniger ontkiem as die meerjariges, terwyl die klawer glad nie opgekom het nie. Dit help met die seleksie van gewasse.”
Aanvanklik het hy net op somerdekgewasse gekonsentreer, maar verlede jaar is proewe begin om winterdekgewasse in te bring. “Ek plant ’n mengsel van stoelrog, korog, weiwieke en ’n klein hoeveelheid radyse as winterdekgewas. Ons sal dit beslis in die toekoms toepas.”
Kriek wil ook rye dekgewasse tussen rye van ’n kontantgewas plant. “Dit kan veral nuttig wees in sonneblomlande, maar dan moet jy die regte planter daarvoor hê.”
Dit kan volgens hom nie op hoëpotensiaalgrond gedoen word nie. “Ek sou dit eerder by weimielies toepas.”
Kriek glo daarin om proewe op groter grondoppervlaktes uit te voer om bymiddels te beproef. “Ek het verlede jaar sewe proewe uitgevoer met biostimulante om die uitwerking op die opbrengs te bepaal. Op my Equalizer-planter het ek drie tenks waarin die plaagdoder, die vloeibare kunsmis wat tydens plant toegedien word, en die groeistimulant geplaas word. Die vloeibare groeistimulant word dan met pypies na die mieliesaadbakke geneem en toegedien.”
Die proewe beslaan sowat 47 ha elk met kontroles van 2 ha tussenin wat geen groeistimulante ontvang het nie. “Op dié grootte kan ’n mens ’n geheelbeeld kry, en elemente soos grondverskille as moontlike veranderlikes uitskakel. Wanneer ek middels beproef, meen ek groter proewe lei tot meer akkuraatheid.”
Twee van die produkte, Furrow Life van Laeveld Agrochem en Fertiactyl GZ van Timac Agro, het ’n opbrengsverhoging van 250 kg tot 500 kg per ha mielies gelewer, terwyl die res nie werklik ’n verskil gemaak het nie.
NUWE DENKE NODIG
Vir Kriek was die grootste aanpassing met herlewingslandbou die denkskuif. “Jy moet die aanpassing tussen die ore maak, dan volg die res baie makliker.” Die invloed van herlewingslandbou op sy boerdery kan nog nie gemeet word nie, maar hy sê dit gaan in die toekoms ’n reuse-impak hê. “Ek is baie tevrede met die resultate tot dusver, veral omdat ek ’n oplewing in die biodiversiteit van my grond begin sien het. Dit is ’n aanduiding dat die grondgesondheid beslis verbeter het. Op ekonomiese vlak sal ons verder moet meet om die voordele te sien, maar ek is optimisties. Ek het reeds die meeste skoolgeld betaal en is gemaklik om vorentoe te beweeg met die praktyk.”
Die grootste kwessie is om meer boere bewus te maak van die voordele van die stelsel, sê Kriek.
“Dit gaan nie daaroor om meer geld te maak nie, maar eerder oor ’n volhoubare, sinvolle manier van boerdery. As ons kyk hoe die klimaat verander, moet ons meer begin doen om die grond teen die son te beskerm. Die Amerikaanse spesialis Gabe Brown praat van die grond se armour . Ons moet daardie idee uitbou.”
Die ander kwessie is om ’n sinvolle beleggingsmodel vir dekgewasse en herlewingslandbou te vestig. “Dit help nie ek skakel skielik die helfte van my lande na dekgewasse om, en nou moet ek genoeg vee koop om dit te bewei nie. Die finansiële inset wat dit gaan verg, sal jou koöperasiebestuurder jou uit sy kantoor laat lag. Dit moet stadig, maar seker gebeur met ’n sinvolle rotasiestelsel van jou lande. Ons moet baie meer gebalanseerd begin boer.”
Hoewel Kriek nie ’n mentor het nie, bly hy deurentyd op die hoogte van die jongste herlewingslandboupraktyke deur meer oor dié onderwerp na te lees en internasionale neigings te volg.
“As jy bereid is om jou ore uit te leen, is daar heelparty kundiges wat bereid is om jou meer te leer.”
Kriek se raad aan boere wat herlewingslandbou oorweeg? “Skuif die ses duim in jou kop, gooi kalk en neem waar, al is dit op 20 m-proewe. En plant proewe, keer op keer. Pleks van ’n koppie suiker, gaan leen ’n halwe koppie saad by jou buurman. Saad is duur. Plant dan proewe, bekyk die resultate en beplan jou stelsel daarvolgens.”