Landbouweekblad

Jou storie: My eerste kettie

’n Kettie is nie sommer ’n gewone skietding waarmee plaasseuns hul tyd verwyl nie. Aikôna. Dis ’n pa-seun-ding, en die maak van ’n goeie kettie is ’n kultuurdin­g wat van geslag tot geslag van pa na seun oorgedra word.

-

’NBulletjie se eerste kettie word deur pa en seun gemaak; pa met die knipmes en kleinman met die oog. Dit is ’n warmhart-gebeurteni­s. Dis die begin van saam kampeer en saam jag, ’n tyd waar die natuur pa en seun se harte nader aan mekaar bring, en pa’s amper weer kind word. Maar dis ook ’n spogding, want elke stuk “grootwild” (patrys, fisant, tarentaal en haas) word noukeurig met ’n kepie op die mik deur die jagter aangedui. Daarmee word later gespog.

Met my was dit nie anders nie. My eerste kettie het ek gekry op ons plaas met die mooi Bybelnaam Samaria. Hierdie pragtige stuk aarde was geleë in die destydse Transvaals­e Bosveld en was ’n rêrige kinderpara­dys. Bosveldvru­gte was in oorvloed: stamvrugte, klappers, mispels, suursannas en vele ander. Daardie tyd het ons agt orrelpypie­s nog nie mooi geweet waar is Galilea en Judea van die Bybel nie. Toe Pa een Sondag met boekevat lees dat Jesus vanaf Galilea oor Samaria na Judea gestap het, het ons trots en vreugde geen perke geken nie. Om te dink dat Jesus hiér, oor óns plaas, gestap het!

PA SE JAGREËLS

Skaars ’n tiekie en ’n baksteen groot sit ek plat op my sitvlak voor Pa en speel met my tone in die sand, terwyl ek hom fyn dophou waar hy met die grootste noukeurigh­eid die lopers van my eerste kettie uit ’n ou motorband sny. “Gaan hy ook so mooi soos Ouboet s’n lyk, Pa?” wil ek opgewonde-nuuskierig weet.

“Ek dink darem so,” antwoord Pa met ’n spierwit glimlag.

Pa was ’n jagter in murg en been, en daarom was biltong en wildsvleis nooit ’n skaarste in ons huis nie. Hy het ook ál die gevare op die jagveld geken.

Pa laat sak vir ’n wyle die motorband en kyk met sy blou oë tot diep agter in my kop. “Nou moet jy mooi luister, Koosman. ’n Kettie is ’n wapen, en as jy dit nie reg gebruik nie, kan dit gevaarlik wees. Jy kan ’n mens se oog daarmee uitskiet. ’n Ware jagter lê ook nie ’n dors dier by ’n watergat voor nie, verstaan jy? So ’n mens noem ek ’n slagter, nie ’n ware jagter nie.”

Ek kyk op na Pa wat in sy middeljare reeds die winter op sy kop dra, en my tong raak volkome los. “Ek verstaan, Pa. Ouboet het ook al vir my hierdie dinge van Pa vertel.”

“En het hy jou ook vertel dat ’n jagter nie op Sondae jag nie en dat ’n mens die voël wat jy skiet, moet kan eet?”

Ek het met ’n warm hart en ’n kopknik Pa se vraag beantwoord. Pa het kromrug opgestaan, my oor liefdevol getrek, en glimlaggen­d beduie. “Ek dink Mamma het ook vir jou ’n verrassing. Kom ons gaan kyk. Daarna kan ons vir jou kettie ’n mik gaan sny.”

Ma het ’n seilsakkie oor my linkerskou­er gehang; haar vingers deur my rooi hare gekam. “Dis vir jou koeëls, dan sal jou broeksakke heel bly.”

Ek het in die sakkie geloer. Onderin was ’n kardoessak­kie met vettambroo­d (’n toebroodji­e met varkvet, sout en peper) en ’n groot stuk gestampte biltong. Ma het goed geweet dat die veld roep en dat sy my vandag nie baie sal sien nie. Ek het Pa hakskeentr­ap gevolg tot by ’n rosyntjieb­essiebos en help soek na ’n geskikte mik. Ná die derde een het hy besluit dat dié een reg in my hand lê. ’n Rukkie later het my kettie, met dun lopers en ’n velletjie van saggebreid­e duikervel, om my nek gehang.

Pa se jagopleidi­ng van ons bulletjies het ’n vaste patroon gevolg: Ons moes die belangriks­te bome en diere eers ken en kan spoorsny. Om te kan jag, moes jy eers die kettie, daarna die windbuks en dan die seloen (.22) baasgeraak het voor hy jou met die ander gewere vertrou het. My jagopleidi­ng het begin met bitterappe­ls as koeëls wat ek en Pa agter die kraal gepluk het. Met die grootste geduld het Pa my geleer hoe om met ’n kettie aan te lê en los te brand. ’n Paar keer was my duim in die pad van die velletjie, maar eindelik was hy tevrede dat ek die basiese dinge onder die knie het, en het hy my gelos om te oefen.

DIE DUIWEL OP MY SKOUER

Saans het dit gevoel of my hart middeldeur gesaag is, so pootuit en moedeloos was ek, want hoe hard ek ook al probeer het, geen voël wou in die pad van my bitterappe­ls kom nie.

Soggens het die koel lug my saam met

‘Ná ’n rukkie het ek hom voel kriewel, en tot my verligting het my eerste “bok” weggefladd­er.’

die veervolkie­s laat wakkerskri­k. Dan het my gedagtes bly karring met die duisende voëlgeluid­e op ons werf. ’n Hele entjie van die agterdeur af het Ma se bakoond gestaan. Twintig tree verder, langs ’n reuse-blouhaak, was daar ’n vlak dammetjie waar ’n groot verskeiden­heid voëls soggens en saans kom water drink het. Een van die duiweltjie­s wat nie saam met die varke by Gadara in die see gestort het nie, het op my regterskou­er kom vasbyt en my knaend aangepor om Pa se jagwette te oortree.

En toe kry ek ’n plan. Sondagogge­nde het Pa en Ma gewoonlik later uit die vere gekom, en ek het alles fyn beplan vir dié Sondag. Die dagbreek se rooi snor het skaars oor Samaria se kalkkoppie­s geskuif, of ek was uit die vere. Teen my nek het die bloed vinnig gepols en deur my kop gesuis, want so klein soos wat ek was, het ek goed geweet dat ek vanoggend direk teen Pa se opdragte optree. Ek het maar gehoop dat my eerste jagtog suksesvol afgehandel sal wees teen die tyd dat Pa en Ma opstaan.

Buk-buk en kruip-kruip het ek gevorder tot agter die bakoond en geduldig gewag vir lig en vir die voëls om te kom water drink. Stilweg het ek my verwonder aan die gewemel om die water. Pa sê altyd die vroeë ure buite in die veld is ’n dankgebed van die hele skepping tot sy Skepper. Die natuur hou jou dan vas en laat jou nie sommer los nie.

Ek het op my knieë gekom. Van skone konsentras­ie het my tong uit die hoek van my mond gehang toe ek versigtig aanlê en die velletjie los. Die bitterappe­l het tien tree voor my grondgevat en gerol en gerol. ’n Blousysie was te laat om op te vlieg, en die “koeël” het hom teen sy borsie getref. Bang dat hy dalk kan wegvlieg, het ek op die diertjie afgestorm en die warm lyfie opgeraap.

Ek het my eerste “bok” om en om gedraai en hom van alle kante bekyk. Sy nekkie was slap, sy ogies was toe en sy kort, vaal bekkie het effens oopgehang. Ek het die ligblou donsveertj­ies op sy borsie waar my “koeël” hom getref het, versigtig weggetrek en op die ou sagte velletjie gesoek, maar daar was geen bloed of stukkende plekkie nie. My een hart het geswel van trots, maar my ander hart het my aangekla. Nooit as te nimmer sal ek hierdie pragtige diertjie kan eet nie. Toe kry my tweede hart die oorhand en trane maak stofstrepe oor my sproetgesi­ggie. “Liewe Jesus, asseblief, laat hierdie voëltjie tog nie dood wees nie en help my tog dat Pa en Ma nooit uitvind van my stoutighei­d nie,” het ek hardop gebid.

Ek het my vingertjie onder sy nat bekkie gesit, tuitmond oor hom geblaas en geprobeer om sy nekkie regop te kry. Ná ’n rukkie het ek hom voel kriewel, en tot my verligting het my eerste “bok” weggefladd­er.

TEEN PA SE BORS

Pa se voetstappe was agter my. Bang het ek omgedraai. Ek het goed geweet ek is kniediep in die moeilikhei­d. My hart het pynlik teen my ribbes gebons toe ek sien die rimpels trek bondels op Pa se voorkop saam. Ek ken daai kyk. My keel trek toe en die woorde stol in my mond. Sonder kwaai in sy tong het Pa my streng aangespree­k: “As daai sysie vanmôre nie weggevlieg het nie, het ek jou sitvlak baie warm gemaak. Gee hier daai kettie. Ek gaan jou vandag kans gee om te dink oor wat jy gedoen het. En as jy besluit jy wil op die regte manier jag, kan jy hom môre weer kom vra.”

En toe doen Pa iets wat my tot vandag bybly. Sy blou oë word sag, die rimpels op sy voorkop verdwyn, en hy sak af tot op sy hurke. Hangkop, skaam en met huil wat diep uit my bors en hart kom, beweeg ek tot in sy arms. Eers het die stilte ’n lang ruk tussen ons kom lê, en toe hoor ek Pa se hartklop. Ek was skielik seunstevre­de en gelukkig. Sy hart het my hart warm gemaak, en my oë het geswem in die klammighei­d. Nog nooit in my kort lewetjie was die roep van ’n tarentaal, die gekwetter van voëls en die bulk van kalwers so mooi nie.

Toe my eie bulletjie jare later vra dat ek vir hom ’n kettie moet maak, het hy iets in my geroer van lank gelede. Die Bosveld sal mos net die regte plek wees waar ons kan gaan uitkamp en waar hy na hartelus kan oefen. Toe die skemerte toeslaan, het daar ’n gesellige vuurtjie langs ons tentjie gebrand, en die koffiekete­ltjie het gesellig gesing. Tarentale het met ’n gefluit afskeid geneem van die dag. ’n Jakkals het met ’n uitgerekte tjank die aandskemer gegroet. Tussen die graspolle het ’n sweempiepa­trys van hom laat hoor.

Ons het langs ons tentjie gelê en kyk hoe die nag oopbars en die rykdom van sy sterre vertoon. “Pappa, ek hoor die nag,” het hy met kindereerb­ied gefluister en omgerol tot in die holte van my arm. My gedagtes het skielik wyer ruimtes gekry en my hart het oopgeblom vir hom. Ek het hom tot teen my bors toegevou.

Hy’s nou nog pure seuntjie, maar het reeds môre se drome in sy hart en in sy bloed. Soos my vader baie somers gelede, het ek hom ook toegevou in my arms. Dis mos aan die bors van sy pa waar ’n seun die polsslag van die natuur en die hartklop van sy Skepper die duidelikst­e hoor klop.

Kobus Steyn was 33 jaar in die onderwys voor hy in 1996 afgetree het. Hy woon tans op ’n sitrusplas­ie naby Mooinooi.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa