Genoeg seleen nodig vir gesonde, vrugbare koeie
Die noodsaaklikheid van spoorelemente vir optimale produksie, reproduksie en immuniteit by vee, en veral intensiewe produksiediere soos melkbeeste, is onontbeerlik. Seleen, ’n belangrike mineraal, is nou in ’n inspuitbare, langwerkende vorm beskikbaar.
Seleen is een van ’n groep spoorelemente wat noodsaaklik is vir die goeie algemene gesondheid van melkbeeste. Seleen (Se) saam met jodium (I), koper (Cu), kobalt (Co), mangaan (Mn) en molibdeen (Mo) is waarskynlik aan die meeste melkboere bekend.
Wat dalk minder bekend is, is hoe ’n gebrek aan enige van dié minerale jou melktjek kan laat krimp of aanleiding kan gee tot onvrugbaarheid of dragtigheidsprobleme.
Immuniteit teen siektes of die vermoë om infeksie te beveg, kan ook deur ’n gebrek aan spoorelemente beïnvloed word.
Die chroniese tekort aan seleen in baie dele van Suid-Afrika, veral waar veegetalle hoog is, beteken boere behoort die nodige toetse te doen om hul diere se seleenstatus vas te stel. Seleentekorte kan onder mense en diere voorkom, en waar dit gevaarlik laag is, kan verskeie gesondheidsprobleme en swak vrugbaarheid die gevolg wees.
By die bekendstelling van ’n unieke, inspuitbare seleenaanvulling, het Landbouweekblad met ’n veearts van Malmesbury, dr. Francois de Villiers, gesels. Hy was een van sowat 20 vooraanstaande veeartse en verteenwoordigers van drie groot landboubesighede wat die geleentheid bygewoon het.
Die nuwe produk, Selovin LA (reg.no. G4160, Wet 36 van 1947), is deur Bayer buite Johannesburg by die Sterkfonteingrotte bekend gestel.
De Villiers praktiseer in Malmesbury, Durbanville, Philadel- phia, Stellenbosch, Ceres en Tulbagh waar van die land se grootste melkerye (volvoerstelsels) voorkom. Die plase wat hy bedien, melk van 500 tot 2 000 koeie, met ’n stalgemiddelde van meer as 40 liter per koei per dag.
“Ek is meer betrokke by die kuddes se gesondheidsprogramme en bestuur as die daaglikse kliniese werk. Ons kyk veral na die rol wat spoorelemente, vitamiene en ander produkte in koeie se gesondheid speel en hul langlewendheid bevorder. Dit sluit ook die bestryding van parasiete, soos steekvlieë en lewerslak, in.”
De Villiers kom saam met die boere in sy gebied te staan voor die probleme wat ’n wanbalans in minerale in veerantsoene – hetsy volvoer of weiding – tot gevolg het op die gesondheid en produksie van diere.
“In ons gebied word melkbeeste tipies volvoerrantsoene gevoer, verkieslik onder dak, aangesien hier geen weiding in die somer is nie en die temperatuur ontsettend hoog is. Die gebied is ook arm aan elemente, soos seleen, koper en sink, en dit moet gereeld aangevul word met inspuitings of orale aanvullings,” sê De Villiers.
“Die water is brak en bevat baie sout (NaCl), kalsium en yster, wat dit moeilik maak om die ander nodige spoorelemente aan te vul.”
WAT DOEN SELEEN?
Melkboere kan op die uitkyk wees vir sekere simptome wat op ’n tekort aan seleen dui.
De Villiers verduidelik: “Seleen speel ’n groot rol by die immuniteit en vrugbaarheid van alle diere. Die hoeveelheid antibiotika wat ’n melkery gebruik, korreleer met die immuniteit van ’n kudde wat aan inentingsprogramme deelneem en aanvullings van spoorelemente en vitamiene kry.”
Waar swak immuniteit in die kudde heers, is daar tipies ’n hoër voorkoms van mastitis en die aantal mastitisgevalle wat selfs met behandeling nie herstel nie.
Lang tussenkalfperiodes, meer kunsmatige inseminasies, pootprobleme, hoë vrektesyfers by kalwers en oogprobleme is alles voorbeelde van die neweeffekte van ’n seleentekort.
SELEEN IN SUID-AFRIKA
Dr. Barry Schoombee, bestuurder van tegniese ondersteu-
ningsdienste by Bayer Dieregesondheid, sê navorsing wys dat seleentekorte in groot dele van SuidAfrika voorkom.
Die biobeskikbaarheid van dié spoorelement hang van verskeie faktore af, waaronder die seisoenale beskikbaarheid van seleen in plantegroei en veral voer en weidingsgewasse.
Diere se spesifieke seleenvereistes wissel na gelang van verskillende dieresoorte, verskillende rasse en ook die fisiologiese staat waarin die dier verkeer (soos dragtig en lakterend).
Dié faktore beïnvloed die seleenstatus en die beskikbaarheid of opname daarvan:
■ GrondpH (’n laer pH beteken laer opname).
■ Grondbelugting.
■ Jaarlikse reënval (meer as 500 mm per jaar kan loging veroorsaak).
■ Antagoniste, soos yster en kalsium, wat natuurlik in die omgewing voorkom.
■ Lug en waterbesoedeling verminder die biobeskikbaarheid van seleen. “Seleen is ’n ekonomies belangrike spoorelement. ’n Opname in 2000 in SuidAfrika en Namibië het gewys seleen en fosfor is die twee aanvullende minerale wat die meeste in beeskuddes voorgeskryf word.”
Nie alle streke in die land het beskikbare inligting oor die seleenstatus nie, maar die KwaZuluNatalse Middelland, groot dele van die WesKaap en sy kusgebiede, die OosKaapse kusgebiede, waaronder die Tsitsikamma asook die voormalige Transkei en Ciskei, wys dit is gebrekkig aan seleen.
Die Gautengse Hoëveld, noordelike dele van die Vrystaat en Mpumalanga se seleenstatus wissel aansienlik. Boere moet dus met behulp van ’n dierevoedingkundige en veearts werk om die rantsoen en/of aanvullende inspuiting toe te dien in die geval van ’n tekort.
TOETSE EN OPLOSSINGS
Die spoorelementstatus van ’n melkbeeskudde kan met toetse vasgestel word.
“Seleen is een van die min spoorelemente wat deur bloedtoetse bepaal kan word. Verder kan die kuddestatus deur middel van ’n melkmonster uit die grootmaatmelktenk getoets word. Lewerbiopsies en lewermonsters by vrektes of nadoodse ondersoeke word alles gebruik om die verskillende spoorelementvlakke te monitor,” sê De Villiers.
Aanvullings vir spoorelemente, soos seleen, word in De Villiers se bedieningsgebied onder melkkuddes hoofsaaklik in die voer aangevul omdat die kuddes almal op volvoerrantsoene is.
“Die koeie se behoeftes raak egter groter voor kalftyd, want die kalf het ook spoorelemente nodig.”
Vóór dekking is dit belangrik dat die koei ’n gesonde voedingstatus het. In hierdie stadium word die diere met ’n spoorelementaanvulling ingespuit, sê De Villiers.
“Weens struikelblokke wat die water en die voer, soos die kuilvoer en hooi, betref, is dit nodig om die kuddes aan te vul met verdere inspuitings of orale doserings waarvan ’n paar nuwe produkte onlangs op die mark gekom het.”
De Villiers is opgewonde oor die bekendstelling van Bayer se langwerkende, inspuitbare seleenaanvulling.
“Noudat ons weer ’n langwerkende produk in die mark het, glo ek dit gaan die moeite werd wees om die seleenvlakke in kuddes gereeld te monitor en aan te vul. Die gevorderde rekenaarprogramme wat deesdae gebruik, sal baie gou vir ons sê wat die voordele is.”
TOEDIENING
Die korrekte toediening van die inspuitbare aanvulling is onderhuids, sê dr. Clint Austin, veearts en hoof van kliniese ontwikkeling en regulatoriese sake by Bayer Dieregesondheid.
“Oordosering is baie ongewoon, maar dit is die beste om eers jou veearts te raadpleeg voor toediening. In melkkuddes is dit eintlik makliker om te toets vir seleentekorte omdat melkmonsters uit die grootmaattenk ’n goeie aanduiding is van die kuddestatus.
“Neem ook die dragtige koei en haar kalf se gesondheid in ag. Die nageslag van koeie met ’n seleentekort ly makliker aan geboorteafwykings. Navorsing wys die kolostrum van ’n koei wat ’n seleenaanvulling ontvang het, is twee keer ryker aan seleen as dié wat geen aanvulling ontvang het nie.”