Landbouweekblad

Jou storie:

Gerrie swoeg hard vir sy tien pond

-

Sy ma het die môre by die kraal se hek gestaan toe Gerrie en broer Pieter hul mooiste Afrikanero­oie uitvang. Sy het huilstem gepraat, maar hulle wou nie hoor nie. “Julle hardloop mos agter ander mense aan omlat wol nou so vrek duur is, maar ek sê vemôre: Julle sal nog jul gatte sien.”

Haar woorde het hulle soos ’n vloek agtervolg toe hulle met die 200 ooie na Vaalfontei­n trek.

Gampie Roux was besig om te skeer toe hulle daar kom. Saam met Gampie het hulle die 200 kaalgeskee­rde mowwe afgetel. “Is julle tevrede . . . Ons ruil mos gelykop?”

Gerrie het met gemengde gevoelens sy kop geknik.

Nou, twee jaar later, besef hy sy ma se woorde het waar geword, want die mofboerder­y is ’n mislukking. Hy moet bedags soos ’n slaaf vir ander mense damme bou en kampe span, want hulle het byna uitgeboer, en elke ekstra sjieling help.

’N GAWE AANBOD

Een agtermidda­g kom hou ou Swart Willie onverwags op Kameelboom stil. “Gerrie, ek het agtermidda­g na jou toe gekom, want jy’s die enigste man wat my kan help. Jy weet mos van die twee vragte wille bees van die Jood wat ons besede maand mark toe gelaai het?”

Gerrie loer oor sy beker en knik. “Man, dis mos ’n klomp onstreekli­ke goed wat jy nie kan regeer nie. Toe ou Petrie se lorries hulle op Bitterfont­ein se stasie aflaai, spring drie osse oor die kraal en hol weg. Nou wil ek hoor of jy nie vir ons die osse met jou perd wil gaan soek en stasie toe bring nie.”

Gerrie plooi sy voorkop. “Nou wat sil die Jood my betaal? Dis meer as 70 myl.”

Swart Willie merk die onsekerhei­d op Gerrie se gesig. “Man, ek is mos owersiener vir die Jood, en ek het vir hom gesê ons kan jou nie minder as tien pond betaal nie.”

Gerrie stik byna in sy koffie, want dis baie geld. Ou Willie sien hy’t die kol getref, want Gerrie se strak gesig verhelder.

Daardie aand lê en oordink Gerrie die besigheid. Ou Petrie se lorries ry mos elke môre Bitterfont­ein toe. Hy moet gaan uitvind of hulle nie dalkies sy perd vanaf Garies kan oplaai nie.

Later die nag skrik hy wakker. Sê nou hy kry nie die beeste tot by die stasie nie. Sal hy nog sy tien pond kry?

Ligdag hou hy met sy ou motorfiets op Wallekraal stil, en klop. Met sy slaapmus op maak ou Willie verskrik oop. “Hoe’sj dit Gerrie?”

“Oom Willie, ek het vannag gelê en dink: Sê nou ek kry nie die bees nie. Sil ek nog die tien pond kry?”

Ou Willie fluister met sy haasbek: “Ek sjal by die Jood hoor asj hy my weer lui.”

Ná ’n paar dae bring Willie die boodskap dat die Jood hom nog altyd die tien pond sal betaal.

SLEGTE BEGIN

Toe Gerrie op Garies kom, vra hy oom Petrie of hulle die volgende Maandagogg­end sy perd sal oplaai en wat dit sal kos. Ou Petrie het sy brilletjie afgehaal en diep gedink. “Dit sal jou tien sjielings kos.”

“Jimmels gegoedheid, oom Petrie, julle ry dan in elk geval met ’n leë lorrie. Moet dit so baie wees?”

“My lorries moet vroeg ry, en dit sal tyd kos om die perd op te laai. Jy moet sorg dat jy vroegoggen­d hier is, anders ry ons.”

Sondagmôre vroeg het Gerrie Sterling opgesaal en vir hom ’n broodjie in die kossak gesit. Hy’t besluit om by sy oompie Koos op Waterbak te gaan slaap, want daarvandaa­n is dit net ’n uur te perd Garies toe. Hy was bang hy verslaap, want hy wou vieruur opstaan om vir Sterling ’n voertjie te gee voor hy af dorp toe ry.

“Ou Gerrie, man, ik is self ’n wekker, want elke môre raak ik voordag wakker, en dan sit en drink ik koffie tot die dag breek. Ik sal jou kom wakker maak.”

Toe Gerrie die môre wakkerskri­k, raas die voëltjies al. Met ’n skok besef hy hulle het wragtig verslaap. Hy spring op, pluk sy velskoene aan, gryp sy kossak en saal gou vir Sterling op. Hy spring in die saal en lê die sambok in. Sterling hol dat die skuimbolle uit sy bek by hom verbywaai.

Toe hy Garies injaag, staan die wit skuim op die perd, en hy bid net dat ou Wit Gert se lorrie nog daar sal wees. Toe hy voor Petrie se garage uit die saal spring, kom ou Petrie uitgestap. “Ons wag al vir jou. Dis hoekom ek jou tien sjielings gevra het.”

Gerrie het maar sy mond gehou, want verleë het nie bakkies nie. Die lorrie is teen ’n grondwal getrek, en hy’t die bruinkolpe­rd nadergebri­ng. Toe Sterling se hoewe die staalbak raak, snork hy en steier terug, terwyl die lorriemann­e gil en swetsend oor die wal spring. Gerrie het die perd met sy baadjie geblinddoe­k, en dit het mooipraat gekos dat hulle hom weer moes help. Sterling was só verboueree­rd dat sy hele lyf gebewe het. Gerrie het probeer om hom te kalmeer, maar besef hy sal sy stang moes vashou en agterop in die koue wind staan.

’N DUUR STORIE

Toe hy op Bitterfont­ein afklim, was sy lyf stokstyf van die koue en die perd nog net so beneuk. Gerrie sien vir Bont Klaas by die laaikrale staan, en stap soontoe. Hy vra waar hy voer vir sy perd kan kry. Klaas beduie hom terug na waar ou Koos Kammagap bly. Hy ry na sy huis en klop. ’n Opgeskote meisiekind maak oop. “Waar’s jou pa?”

Sy beduie met die vinger. “Sien Oom daar onder op die land, daar waar die stof so draai? Daar word baklei. Dis mos Maandagmôr­e en hy wil oes, en almal is dronk.”

Toe die stof gaan lê, kom ou Koos aangestap huis toe. Gerrie voel souerig, want hoe vra jy ’n hawergerf as die ou man die moer in is? Toe die natgeswete man nader kom, is hy kortasem en rooi in die gesig. Hulle groet, en met ’n onvaste stem sit Gerrie sy storie in.

Koos vee die sweet uit sy oë en beduie na die stal. “Daar’s vir jou hawergerwe. Dit kos nege pennies ’n gerf.”

Gerrie krap in sy beursie en haal die geld uit. “Oom, ek vat twee, want my perd is honger.” Toe hy die sjieling en ’n sikspens in die oom se hand sit, vra hy: “Weet Oom nie miskien van drie osse wat weggehol het nie?”

Hy knik. “Ja, man, die wilde goed loop naby Perdekop op ou Theunis Kotze se grond. Die mense het glo al probeer, maar later uitgeskei. Die een vuilgoed met die wye horings is glo kwaai. Jy moet oppas vir jou perd.”

By die stal kerf Gerrie die gerwe fyn, maar Sterling staan kop in die lug met sy verwilderd­e oë en wil nie sy bek aan die voer sit nie. Teleurgest­eld los hy die gawe voer en saal die perd op. Terwyl die perd deur die mooi blomveld draf, dink hy oor sy sending. Sy tien pond raak ál minder, want hy moes reeds tien sjielings vir die lorrie betaal, ’n daler vir die gerwe en ook vir die vier lorriemann­e elkeen ’n sikspens vir die perd se oplaai.

WARM OP DIE SPOOR

Later sien hy in die verte ’n rokie, ry soontoe en kom by ’n veewagter uit. Hy vra hom of hy miskien van die drie wilde beeste weet. “Ja, my duisman, hulle loop daar op Theunis Kotze se grond, maar ek wil vemôre vir jou aanraai om hulle net so te los, want g’n mens kry hulle geregeer nie. Ou Theunis wou hulle al vrek skiet, want hulle het al van sy proefdrade platgespri­ng.”

Gerrie se moed sak in sy skoene en hy sê moedeloos: “Oujong, ek kom moersam ver om hulle te kom soek!”

Die ou staan en luister na hom, en toe steek hy sy kierie in die lug. “My duisman, ik willie vemôre die liewen Heertjie minag nie, maar dit voorsweer ik my duisman: Jy kan maar los. As Theunis Perdekop uitskei met ’n ding, kan ’n anner man ma los. Ik het voor hom grootgewor­d, en dis sy skaap wat ik elke dag agter loop.”

Gerrie het koers gevat in die rigting wat die veewagter beduie het en later die drie beeste se spore gekry en op vars beesmis afgekom. Toe weet hy hulle kan nie meer te ver wees nie. Toe hy oor die laaste rantjie ry, sien hy die drie beeste onderkant Perdekop wei. Hy het stilgehou, die omgewing bespied en gewonder hoe die proefdraad loop, want hy wou kyk of hy nie ’n wye draai om hulle kon ry nie. As hulle die berg klim, sal hy sukkel om hulle daar af te kry.

Toe hy met die perd omdraai, sien hy die groot, geel Afrikanero­s lig sy kop met die wye horings en gee ’n harde proes. Die ander twee kyk ook in sy rigting. Hulle stap nader aan mekaar en hou hom dop toe hy om hulle ry.

Die volgende oomblik spring hulle met ’n vaart weg dat hul sterte styf staan – gelukkig weg van die ongemaklik­e klipkoppe af. Al raad wat Gerrie toe het, is om hulle flou te jaag terwyl dit nog warm is. Die perd was nie meer so vlugvoetig soos vanoggend nie, want hy het al baie myle afgelê en was teen hierdie tyd honger. Die drie osse was uitgevreet en het geblink in die son. Hy het hulle later teen die proefdraad langs in Bitterfont­ein se rigting probeer jaag. Die een swart os se tong het later uitgehang.

GENOEG IS GENOEG

Die geel os het los voor gedraf. Verlig het Gerrie die sweet uit sy oë gevee. Dit het gelyk of hy besig was om hulle te breek.

Toe hy naby die grootpad kom, spring die geel os soos ’n koedoe los oor die draad en hardloop terug Perdekop toe. Moedeloos moes Gerrie terugry om die hek te gaan soek.

Só het hy die vaderlike dag met die osse gesukkel tot die perd later só pootuit was dat hy hom vir ’n rukkie moes afsaal om hom by ’n dammetjie te laat water drink.

Toe die rante lang skaduwees gooi, het hy die geel os weer saam met die ander twee in die rigting van Bitterfont­ein gejaag. Later spring die vuiles om en wil die perd gaffel.

Dis toe dat Gerrie vir homself sê: “Geld of nie geld nie, nou kan julle in jul maai gaan!” Moedeloos en teleurgest­eld het hy omgedraai en gesukkel om by die grootpad uit te kom sodat hy kon terugry Garies toe. Hy en die perd was albei gedaan, en Kameelboom lê wyd. Die perd was later só voetseer dat hy hom van Meulsteenb­erg af Garies toe moes lei.

Naby die pramkoppe het hy die nag ’n vuurtjie gemaak en met die toom in sy hand en sy rug teen ’n rots ’n bietjie gerus, want dit was pikdonker en hy was baie dors. Gelukkig het die maan later opgekom, en hy het verder begin stap.

Stokflou en gedaan het hy en Sterling die oggend dagbreek deur Garies gestap. Gerrie het by homself gedink: “Jimmels gegoedheid, nou lê Kameelboom nog bitter ver. Hoekom het ek nie gister die ou man geglo toe hy so ernstig gesweer het nie?”

Vaak en moeg het hy met kort treetjies Garies se bergpad geklim en homself getroos as hy nie probeer het nie, sou dit gevoel het of hy die Jood se geld gesteel het.

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa.

net of bel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

Toe hy naby die grootpad kom, raap die geel os hom op en spring soos ’n koedoe los oor die draad.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa