Besproeiing
Danksy presisie besproeiing kan boere hul kosbaarste hulpbron, water, beter benut sodat hulle elke seisoen hoër en beter opbrengste kan behaal. Netafim verduidelik hoe.
Suid-Afrika is ’n halfdorre, waterskaars land met ’n gemiddelde reënval van sowat 450 mm per jaar. Dit is ver onder die wêreldgemiddelde van sowat 860 mm. Boere moet dus baie doeltreffender met die beskikbare water omgaan.
Die landbou gebruik sowat 60% van die beskikbare water. Byna 70% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk word ondersteun deur water uit slegs vier riviere (die Limpopo-, Inkomati-, Pongola- en Oranjerivier), wat gesamentlik twee derdes van die grondgebied dreineer.
Goeie bestuur van besproeiingswater beteken die hoeveelheid en verspreiding daarvan, asook die tydsduur van die besproeiing, word so doeltreffend moontlik aangepas volgens die gewas se spesifieke waterbehoeftes. Dit hang nie net af van die korrekte tegniese en landbou-ontwerp nie, maar ook van die bestuurstandaard en instandhouding van die stelsel. Goeie bestuur is ook noodsaaklik vir die doeltreffende gebruik van energie en grond.
’n Goeie besproeiing stelsel voorsien die korrekte hoeveelheid water op die regte tyd, op die regte plek (die wortelsone van die plante) en op die beste manier. Verskillende besproeiing stelsels lewer water op verskillende maniere aan die plant se wortels, en dit is die belangrikste aspek wat die doeltreffendheid van die stelsel bepaal.
VERDAMPING
Die doeltreffendste stelsel is drupbesproeiing omdat die water direk op die grond gelewer word, met minimale verdampingsverlies weens water wat deur die lug beweeg en ’n kleiner gebied wat benat word.
Ander besproeiingstelsels, soos spilpunte, sproeiers of mikrosproeiers, gebruik ’n meganisme wat die water deur die lug laat beweeg en op ’n veel groter grondoppervlak val. Dit lei tot groter verdampingsverlies en minder doeltreffendheid. Die gevolg hiervan is dat die besproeiingsboer ’n groter volume water moet gee om in die plant se waterbehoeftes te voorsien.
Die toediening van water deur spilpunte of ander groot sprinkelaars veroorsaak ’n enorme verdampingsverlies. As die boer met een van hierdie stelsels besproei, verdamp 15-30% van die water tydens die proses van die spuitkop na die grond en bereik nooit die gewas se wortelsone nie.
Deur water met drupbesproeiing direk aan die wortelsone te lewer, kry die water nie kans om te verdamp nie. Dit verseker water word optimaal benut en daar is ’n opbrengs op elke druppel water. Die boer kan dus tot 30% meer grond met dieselfde hoeveelheid water besproei.
GEEN KORTPAAIE
Die einddoel en meting van ’n suksesvolle besproeiingstelsel is opbrengs en gehalte. Om hierdie doel te bereik, moet boere ’n
Waterskaarste gaan toeneem, en ons het dus ’n manier nodig om produktiwiteit en hulpbrondoeltreffendheid te verhoog.
holistiese benadering tot gewasproduksie volg. Dit help nie hulle gebruik die beste besproeiingstelsel, maar kies kortpaaie met grondvoorbereiding of plantmateriaal van swak gehalte nie.
Goeie en doeltreffende besproeiingsbestuur begin met ’n goeie ontwerp wat die volgende in ag neem: Grond, gewasse, watergehalte en beskikbaarheid, klimaat en die soort besproeiingstelsel.
Die stelsel moet behoorlik in stand gehou word, waaronder die instandhouding van die spuitkopppe en die herstel van lekkasies of ander verliese in die stelsel.
Nog faktore wat tot doeltreffende watergebruik bydra, is om te weet wat in die grond aangaan – om te meet is om te weet. Danksy grondvogmetings kan die beste besluite geneem en die doelwitte bereik word wat jy gestel het. Dit is ook belangrik om te weet hoe diep jou gewasse se wortels is, want dan weet jy hoe veel jy moet besproei.
WATER IN WORTELSONE
Presisiebesproeiing lewer water en voedingstowwe direk aan die wortels van elke plant in afgemete hoeveelhede. Dit hou dus die wortelsone op optimale vogvlakke – nie meer nie en ook nie minder nie as wat die gewas nodig het.
Omdat water nie oormatig toegedien word nie en die vloeitempo matig is, sluit presisiebesproeiing die afloop van oppervlakwater en diep deursyging uit.
Die ontwerp van presisiebesproeiingstelsels word gedoen volgens die grond se wateropname-vermoë en die plant se verbruik, wat verseker dat water in die aktiewe wortelsone bly en deur die gewas gebruik word. Gevolglik kweek die boer groter, beter oeste as voorheen, terwyl hy minder water gebruik om dit te doen.
HERWIN AFVALWATER
Afvalwater hoef nie afval te wees nie. Dit kan ’n bate word. Patogeendraende water is egter nie ideaal vir voedselproduksie nie. Dit kan jou gewasse besoedel wanneer vloed-, spilpunt- en sprinkelstelsels gebruik word.
Met drupbesproeiing word water direk aan die plant se wortels gelewer. Die gewas kom dus nooit in aanraking met smetstowwe nie, maar elke plant kry steeds presies die regte hoeveelheid water wat dit nodig het om te floreer. Só skakel die boer voorheen nuttelose water in ’n waardevolle hulpbron om.
GRONDTOESTAND
Besproeiingstelsels, soos spilpunte of vloedstelsels, dien groot hoeveelhede water in ’n kort tyd toe en skep uiterste versadigingstoestande in die grond. Dit lei tot slegte belugting en skep stresvolle toestande vir die plantwortels, wat ’n balans tussen water en lug nodig het. Oormatige water spoel ook voordelige plantvoedingstowwe onder die aktiewe wortelsone uit, wat minder voedingstowwe vir die gewasse en grondwaterbesmetting tot gevolg het.
Presisiebesproeiing help dat jy met perfekte hoeveelhede en tydsberekening besproei volgens die grondsoort en gewasbehoeftes, sodat die lug-waterverhouding in die grond perfek is, en voedingstowwe bly waar dit nodig is.
PASGEMAAK
Danksy drupbesproeiing kan boere hoër opbrengste lewer, terwyl hulle water, kunsmis, energie en gewasbeskermingsprodukte bespaar.
Water en voedingstowwe word oor die veld gelewer in pype wat bekend staan as “drupperlyne”, met kleiner eenhede bekend as “druppers”. Elke drupper stel druppels vry wat water en kunsmis bevat. Water en voedingstowwe word eweredig toegedien, direk aan elke plant se wortelsone, op ’n hele land.
Plante is produktiewer onder drupbesproeiing vanweë die beskikbaarheid van water en voedingstowwe; die dosis water en voedingstowwe is pasgemaak vir die plant se ontwikkelingsbehoeftes; daar is geen versadiging nie en goeie grondbelugting; dit vermy hoë soutgehalte wat veroorsaak word deur oormatige kunsmistoediening; en daar is geen benatting van blare wat tot swamsiektes kan lei nie.
TOEKOMSBLIK
Teen 2050 sal 10 miljard mense op die aarde woon, met 20% minder bewerkbare grond per persoon om genoeg voedsel te kweek. Waterskaarste gaan toeneem, en ons het dus ’n manier nodig om landbouproduktiwiteit en hulpbrondoeltreffendheid te verhoog. Drupbesproeiing verander die ekonomie van wêreldlandbou deur boere te help om meer kilojoules per hektaar en kubieke meter water te produseer.
Doeltreffende bestuur behels veel meer as die oopmaak van ’n klep of die aanskakel van ’n pomp. Die boer moet ’n duidelike plan hê van wat hy wil bereik en watter hulpbronne vir hom beskikbaar is – nie net water en energie nie, maar ook bestuur. Elke plaas is anders. Daarom moet die boer ’n besproeiingstelsel volgens sy behoeftes kies, wat die beste by sy bestuurstyl en situasie pas.