SABOEREISNIE VERVANGBAAR
Op baie plekke is die reën wat nou uitsak, ver onder die jaarlikse gemiddelde, maar dit maak nie saak nie. Dit is reën en dit val in skaflike hoeveelhede. ’n Mens is maar net te dankbaar! Vir veeboere is dit ’n openbaring om te sien hoe vergewensgesind die natuur kan wees. Die wêreld begin plek-plek regtig mooi lyk, ondanks die lelike droogte wat elders sy kloue nog diep inslaan. Vir graanboere, veral in die weste, is dit ongelukkig ’n verhaal van twee oeste — vroeë en laat mielies. Die eerste sarsie het meestal lelik seergekry. Die tweede sarsie lyk aansienlik beter, maar die ryp wag nog.
Mense besef nie altyd watter merkwaardige bate Suid-Afrika se boere is nie. In 2016, toe die reën eers vroeg in die nuwe jaar geval het, het ons boere 700 000 ha in net 10 dae beplant. Dit is 1,26 miljoen pitte per minuut, elke uur van die dag en nag. Nêrens in Afrika (en bitter min plekke ter wêreld) bestaan sulke vermoëns.
Vanjaar is daar weer stories van buitengewone doeltreffendheid binne bitter kort plantvensters. In Noordwes het ’n boer ná die onlangse reën sy agt 24 ry-planters uit die skure getrek en dag en nag geplant. Aan die einde van die lande het hy sommer oor sy drade gery om so vinnig moontlik die saad in die grond te kry. Tyd vir hekke soek was daar nie!
Só probeer ons boere om ’n nukkerige klimaat te pak. Mense moet dus nie té verbaas wees oor die Oesskattingskomitee se onlangse bevindings oor beplante hektare nie.
Stadsjapies dink dalk boere doen dit vir hul eie sak, maar sonder wins is daar nie boere nie en ook nie die goedkoop kos wat die stede laat funksioneer nie. Niemand waardeer voedselsekerheid tot die winkelrakke leeg is nie. Met uiterste klimaattoestande wat wêreldwyd kop uitsteek, is leë winkelrakke ook nie meer so vergesog nie.
In Australië het 500 000 beeste gevrek ná 1 500 mm reën binne ’n paar dae. Die diere, erg verswak deur rekordhittegolwe en ’n strawwe droogte, kon nie die nat, koue weer trotseer nie. Dit was ’n eerste op dié skaal.
As net ’n paar sulke uiterste gevalle op dieselfde tyd in verskillende wêrelddele plaasvind, het ons groot moeilikheid — die tipe moeilikheid wat hongersnood kan ontketen. Met die huidige weerstoestande is dit heeltemal moontlik.
Vir China, waar ’n verbysterende 55 miljoen mense tot so onlangs as 1961 van hongersnood omgekom het, lê voedselonsekerheid vlak in die nasionale geheue. Van die wêreld se mielievoorraad van sowat 300 miljoen ton lê 200 miljoen ton in Chinese silo’s.
Hopelik begin dié harde werklikheid by Suid-Afrika se jammerlike politici insink. Ons boere, met hul kundigheid van wêreldgehalte en nywerheidsdoeltreffendheid, is nie daar vir simpel, kortsigtige politieke speletjies nie. Hulle is die land se skans tussen ’n funksionele samelewing en totale verval. Kyk maar net na Zimbabwe. Of Eskom, waar duisende kundige ingenieurs in die pad gesteek is om plek te maak vir rassekwotas. Maar nou stort die land se kragsentrales in duie en probeer ons naarstiglik om die ou manne van oor die wêreld heen terug te lok.
Suid-Afrika kan eenvoudig nie bekostig om sy uitstekende boere óók te verloor nie. Dit is maklik genoeg om die politiek te vermy. Die klimaat is egter moeiliker, en die gevolge veel, veel erger.