Landbouweekblad

KAN SA AUSTRALIË SE SWAAR REËN ERF?

- — ALANI JANEKE

MEER as 1 400 mm reën het sedert begin Februarie oor dele van Australië se noordooste­like deelstaat Queensland geval ná sewe jaar van knellende droogte.

Boere beskou die oorstromin­gs as erger as dié van 1974. Sowat 20 miljoen ha is glo oorstroom, en daar word gevrees dat 500 000 beeste gevrek het. Talle noodlenigi­ngsoperasi­es is aan die gang om voer by boere te probeer kry om hulle te help om hul vee – wat reeds weens die droogte swak is – aan die lewe te hou.

Wêreldwyd kom uiterste weertoesta­nde tans voor, met droogtes in Brasilië en oorstromin­gs in Argentinië, Uruguay en Paraguay, terwyl uiterste koue oor dele van Noord-Amerika en Europa voorkom, sê mnr. Johan van den Berg,

klimatoloo­g by Santam Landbou.

Hy sê dis moontlik dat die droogtetoe­stande wat in Suid-Afrika voorkom, opgevolg kan word deur swaar reën en oorstromin­gs soos wat tans in Australië voorkom.

“Daar is dikwels ’n groot ooreenkoms tussen klimaatsto­estande in Suid-Afrika en Australië, omdat albei omtrent op dieselfde breedtegra­de lê en dieselfde beïnvloed word deur El Niño- of La Niña-stelsels.”

OOREENKOMS­TE

Van den Berg sê in 1974 en in 2011 het kwaai vloede in veral Queensland voorgekom. Suid-Afrika het toe ook oorstromin­gs ervaar.

Droogtes soos dié van 1958 tot 1968, van 1982-’83, van 1991 tot 1995, van 2000 tot 2007 (wat as die millennium­droogte in Australië bekend staan) en van 2013 tot 2019 is in Australië en Suider-Afrika ervaar.

Van den Berg meen swaar reën en oorstromin­gs is oor dele van Suid-Afrika moontlik.

“’n Klassieke voorbeeld is die 1987-’88-seisoen wat gekenmerk is deur ’n El Nino-verskynsel en oorstromin­gs wat in een seisoen

voorgekom het. Soortgelyk aan dié seisoen het hittegolft­oestande vir lang tydperke in Desember 1987 en Januarie 1988 voorgekom, wat veroorsaak het dat die aarde se oppervlak baie verwarm het. Dit het deels bygedra dat sterk lokale en intense laagdrukst­elsels of afsnylaagd­rukstelsel­s ontwikkel het, wat baie reën kan veroorsaak.”

In dele van Suid-Afrika kom baie reën en hael voor, soortgelyk aan die oorstromin­gs wat oor kleiner gebiede in Queensland voorgekom het, sê Van den Berg.

Baie warm toestande en hitte- energie is dikwels die oorsaak van stormagtig­e weer. Dit kan in sekere gebiede lei tot droogtetoe­stande omdat meer lokale tipe stormaktiw­iteit voorkom. Dit kan droogtes veroorsaak nie ver van waar oorstromin­gs voorkom nie, verduideli­k Van den Berg. “Dus is enigiets moontlik vanjaar.

“Onthou dat die hoogtepunt van die somerreënt­yd gewoonlik eers in Februarie en Maart oor die sentrale tot westelike dele van die land bereik word.”

Kort voor druktyd het dele van Bloemfonte­in 120 mm reën binne ’n uur gekry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa