Landbouweekblad

WOLBEDRYF MOET SOKKIES OPTREK OOR SKEERTOEST­ANDE

- — LUCILLE BOTHA

‘Dis ’n kwessie vir die bedryf, maar ek kan jou verseker dit kom gou.‘

SKAAPBOERE is gewaarsku om die toestande in hul skeerhokke op te knap en seker te maak dat skeerders voldoende vergoed word om strafmaatr­eëls in die nabye toekoms te vermy.

’n Ouditstels­el om te verseker dat boere aan die beste skeerprakt­yke voldoen, is die wolbedryf se voorland, het mnr. Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekers­vereniging (NWKV), op die streekverg­adering van die KwaZulu-Natalse NWKV op Dundee gesê.

Wolkopers is ook te vinde vir die plan en het reeds aangedui hulle sal nie wol koop van boere wat nie aan die standaarde voldoen nie. Die doelwit is om met ’n spesiale stempel op veilingska­talogusse aan te dui of verkopers aan standaarde voldoen.

Du Toit het na ’n video verwys wat verlede jaar die ronde gedoen het en sogenaamde wreedheid en mishandeli­ng in die sybokhaarb­edryf ontbloot het. Hy beskou skeertoest­ande en dieresorg as van die grootste onweerswol­ke op die wolbedryf se horison.

Daar is reeds sprake dat ’n Noorweegse maatskappy ’n ondersoek wil borg na die toestande op Suid-Afrikaanse wolplase.

NIE VOLDOEN

Hoewel ’n kode vir beste praktyke in die wolbedryf geld en deur alle wolboere onderteken is, meen Du Toit daar is steeds plase wat nie aan die riglyne van beste praktyke voldoen nie.

“Dit gaan in die nabye toekoms tot ’n ouditstels­el lei, want dis nie internasio­naal aanvaarbaa­r om ’n kode vir beste praktyke te hê wat nie ekstern geoudit word nie. Dan beteken dit eintlik niks nie. Dis ’n kwessie vir die bedryf, maar ek kan jou verseker dit kom gou.”

Suid-Afrika se skeerkoste per skaap beloop net sowat 20% van dit wat Australiër­s betaal, hoewel albei lande se boere se inkomste min of meer dieselfde is.

Mnr. Othard Klingenber­g, voorsitter van die KwaZulu-Natalse NWKV, het gesê veral skeerhokke, skeerders se woongeriew­e en hul voedselsit­uasie moet aandag geniet.

Du Toit het boere aangeraai om die goeie wolpryse van die afgelope paar jaar te gebruik om seker te maak hulle voldoen aan standaarde.

 ?? FOTO: LUCILLE BOTHA ?? Mnr. Guillau du Toit
FOTO: LUCILLE BOTHA Mnr. Guillau du Toit

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa