Arbeidswetgewing:
Wees bewus van dié veranderinge
Vir ’n vaartbelynde produksieproses moet boere op die hoogte bly van arbeidswetgewing. Me. Marelize Roets, bestuurder van ASAMBO-arbeidskonsultante, sê arbeidswetgewing is onlangs gewysig. Boere moet hulle vergewis daarvan en die groot impak wat dit kan hê. DAGGA IN DIE WERKPLEK
Wetgewing oor die gebruik van dagga vir persoonlike doeleindes het einde verlede jaar verander. Boere moet hulself afvra wat hul verantwoordelikheid is indien hulle bewus is daarvan dat hul werknemers dagga gebruik. Die werkgewer moet die volgende vrae beantwoord: Is die werknemer in staat om sy of haar take te verrig? Wat is die aard van die werknemer se werk? Is daar ’n beleid in die werkplek ten opsigte van die besit en/of gebruik van dagga? Watter bewyse het die werkgewer om te staaf dat die werknemer wel dagga in die werkplek gebruik? “Indien die werknemer ná werktyd dagga gebruik, maar aanmeld vir diens en in staat is om werk te verrig, behoort jy hom te monitor. Die veiligheid van jou werksmag moet ten alle tye eerste gestel word,” sê Roets.
Die werkgewer word aanspreeklik gehou vir die dade van die werknemer terwyl hy of sy in die werkgewer se diens is, en die realiteit is dat daardie werknemer ’n risiko vir die werkgewer kan wees indien hy of sy in beheer is van toerusting wat ’n gevaar vir ander werknemers kan inhou.
ALKOHOL IN DIE WERKPLEK
Ook ten opsigte van die gebruik van alkohol by die werkplek is daar ’n verandering in die sakereg. “’n Werkgewer moet kan bewys dat die werknemer nie in staat is om sy take te verrig nie. Om slegs na alkohol te ruik, gaan nie die beëindiging van dienste regverdig nie.”
Roets raai boere aan om gereeld inligtingsessies met werknemers te hou om hulle in te lig oor die werkgewer se reëls en beleid. Tydens inligtingsessies moet die werkgewer ’n notule en ’n bywoningsregister neem.
“Indien jy vermoed die werknemer het ’n alkoholprobleem, stel ondersoek in om vas te stel of die persoon werklik hulp benodig. Indien die werknemer onder die invloed van alkohol aanmeld vir diens, moet jy toesien dat ’n getuie teenwoordig is. Moet ook nooit die waarde van ’n selfoonvideo as bewysstuk onderskat nie.”
MINIMUM LOON
Volgens Roets moet boere ten opsigte van die nasionale minimum loon bewus wees daarvan dat die minimum loon vir plaaswerkers R18 per uur is, en dié vir huiswerkers R15 per uur. Die landbousektor het verlede jaar spesiale vergunning gekry om die verpligte minimum loon van R20 per uur oor twee jaar in te faseer. Dié sektor se loon begin by 90% van die verpligte bedrag, wat neerkom op R3 150 per maand.
Roets voeg egter by dat huiswerkers wat op plase werk, dieselfde loon moet verdien as ’n plaaswerker.
Daarby moet werkgewers ’n werknemer vir minstens vier uur se werk per dag vergoed kragtens nuwe wetgewing wat op 1 Januarie vanjaar in werking getree het.
Sy sê kwytskeldingsaansoeke kan ingedien word, maar dit sal slegs vir 12 maande geld. Werkgewers moet dan hul finansiële state by die Departement van Arbeid indien as hulle om kwytskelding aansoek doen.
Ondanks die strawwe vereistes wat die wetgewing op die landbousektor plaas, is daar sekere maatreëls wat werkgewers kan gebruik om toe te sien dat in hul bedryfsvereistes voorsien word. Sy stel voor dat werkgewers vroegtydig optree met die toepassing van dissipline en verseker dat swak werksverrigting daadwerklik getakel word.
Volgens Roets kan werkgewers ook korttyd in werking stel as alternatief tot personeelvermindering om só koste te bespaar.
OUERSKAPVERLOF
Roets sê die intreedatum van ouerskapverlof ingevolge die wysigingswetgewing is nog nie aangekondig nie, maar sal dit na verwagting op 1 Maart vanjaar wees. “Werknemers is geregtig hierop. Dit is net ’n kwessie van tyd voor dit in werking sal tree.”
Volgens die wetgewing sal ouers wat nie kraamvoordele geniet nie, nou op tien dae ouerskapverlof geregtig wees. Dit sal onbetaald wees, en die werknemer sal geregtig wees om ’n eis om vergoeding by die Werkloosheidsversekeringsfonds in te dien. Lewensmaats wat ’n kind van jonger as twee jaar aanneem, sal ook op dié voordeel geregtig wees. Gesinsverantwoordelikheidsverlof sal dus nie meer van toepassing wees vir ouerskapverlof nie.
Die verandering ten opsigte van ouerskapverlof word al geruime tyd voorsien. Werkgewers kan ’n bewys aanvra om te bevestig dat die individu geregtig is op ouerskapverlof. Roets sê ook werkgewers kan ’n beleid instel wat ’n tydige kennisgewing van die werknemer se voorneme om ouerskapverlof te neem, verpligtend maak.
“Dit is ’n belangrik, aangesien dié voordeel daartoe kan lei dat bedryfsvereistes onder druk kom. Die werkgewer se beleid moet dus aangepas word.”