Die nalaat van bates wat jy nie besit nie
Hoe gemaak met die testament as ’n boer se plase in ’n maatskappy is en hy het twee seuns wat boer, en albei moet erf? Hier is raad oor verskillende oplossings vir boere met ’n soortgelyke probleem.
Die dilemma wat ’n uiters suksesvolle boer van die Laeveld (soos baie ander) het, is dat sy persele in ’n maatskappy geregistreer is. Hy wil graag in sy testament die persele met die sitrus aan die een seun nalaat, en dié met die lewende hawe en suikermielies aan die ander seun.
Die probleem is dat die vaste eiendom aan ’n maatskappy behoort waarvan die boedeleienaar die volle belang hou. Spesifieke bates kan nie vererf word nie, want die boer besit dit nie. Die maatskappy besit die bates of, nóg moeiliker, die maatskappy se aandele lê in ’n trust!
Kom ons kyk eers na die geval waar die boer die aandele in die maatskappy hou. Soos reeds gesê, die maatskappy is die eienaar van die grond. Die boer kan dus nie in sy testament sekere vaste bates aan die een erfgenaam bemaak nie. Hy kan slegs sy belange bemaak, wat beteken die erfgenaam wat byvoorbeeld ’n belang van 50% erf, kan steeds beheer uitoefen oor die helfte van alle bates in die maatskappy.
Elke seun besit dus die helfte van die aandele van die maatskappy. Hulle het daarom albei beheer oor die helfte van die ander broer se “plaas”. Dit kan beslis ’n resep vir konflik wees!
Die ander scenario wat nóg ingewikkelder is, is wanneer die belange setel in die familietrust waarvan die seuns wat boer en moet erf, asook die langslewende eggenote, begunstigdes is.
Ten opsigte van die eienaarskap van trustbates kan die eienaar glad nie die belange óf die plaas aan ’n erfgenaam bemaak nie – doodeenvoudig omdat dit nie syne is om te bemaak nie.
As die trustakte wel voorsiening maak dat hy testamentêr kan bepaal wie wat uit die trust moet “erf”, en dié prerogatief word uitgeoefen, bestaan die gevaar dat die bates wat hy so “bemaak”, as deel van sy boedel gesien kan word by die berekening van die belasbare boedel. Dit is dus glad nie ’n oplossing nie.
PLAN VAN AKSIE
Die oplossings vir dié dilemma is nie so eenvoudig nie, maar hier is ’n paar moontlikhede wat by die eerste scenario oorweeg kan word:
■ Die boedeleienaar rig ’n trust op waarvan die seun en sy afstammelinge begunstigdes is.
■ Die maatskappy se belange word dan aan die trust bemaak, wat minstens beteken dat die seun as die trustee ’n mate van beheer kan uitoefen. Die trustbates word dan deur die aksies van die twee erfgename verbeter en die groei van die bates vorm nie deel van hul boedel nie.
■ Die maatskappy sluit ’n huurooreenkoms met die trustees wat bepaal dat spesifieke dele van die maatskappy (plase) deur die trustees gehuur word. Dit beteken dat die plaas wat die boedelbeplanner vir daardie seun bedoel het, so aangewend word. Die situasie wat só bereik word, is dat die seuns elkeen koning kan kraai oor die daaglikse bestuur van elkeen se “plaas”, maar dat die eiendom steeds tot almal se voordeel in waarde toeneem.
Wat die tweede scenario betref, sou ek ’n ontbondeling van belange oorweeg ten einde uiteindelik twee trusts te gebruik wat dieselfde doen met die huurkontrakte soos hierbo.
Aspekte wat egter nog nie aangeraak is nie, is die rol van die moeder of vader as trustee en die begunstigdes van die familietrust. Nog ’n belangrike faktor is die rol van ’n nuwe liefde in sy of haar lewe êrens in die toekoms. Dit is dus baie belangrik dat die belanghebbendes by deskundige boedelbeplanners gaan kers opsteek om seker te maak ál die veranderlikes word verreken.
Mnr. Johan Brandt is ’n lid van FISA® en ’n regs-en-sakekonsultant verbonde aan Allegiance Consulting (Edms.) Bpk.
Die seuns het albei beheer oor die helfte van die ander broer se ‘plaas’. Dit kan ’n resep vir konflik wees!