Landbouweekblad

Só sê ’n olyfboer

-

Tussen Ashton en Swellendam, teen die pragtige Langeberg, boer die Verder-familie met meer as 50 000 olyfbome op 43 ha van hul plaas, Mardouw. Chris van Niekerk, landgoedbe­stuurder, vertel hoe hulle dit regkry om sulke uitstekend­e olyfproduk­te te produseer.

Watter klimaatsvo­ordele geniet julle?

Die gebied is bekend om warm somers en koue winters met matige reënval. Die inheemse wildeolyfb­oom (Olea europaea africana) kom natuurlik op die plaas voor. Dit spreek vanself dat olyfbome hier sal aard en goed sal dra. Die Langeberg is ook ons voedingsaa­r vir besproeiin­gswater wat ons in opgaardamm­e opgaar.

Watter kultivars verbou julle?

Ons maak hoofsaakli­k olie van FS17, Frantoio, Leccino en Coratina. Calamata, Mission en Nocellarra del Belice word vir tafelolywe gebruik. Laasgenoem­de twee kan ook vir olyfolie gebruik word as dit op die regte tyd geoes en verwerk word. Hul olieverhal­ing is egter laag – net sowat 13-14%.

Hoe lyk goeie oliekultiv­ars se verhaling?

Frantoio se verhaling is sowat 17% (dus 17 liter olie uit 100 kg olywe).

Waarom kan julle die begrip “landgoed” op jul olie- en olyfetiket­te aanbring?

Ons gebruik olywe wat ons self produseer vir ons ekstrasuiw­er olyfolie en tafelolywe. Ek bestuur die boorde, verwerk die olywe, versny die olie en doen die bottelerin­g en etiketteri­ng. Die hele proses, van die plaas tot die tafel, is dus alles ons eie produkte en handewerk.

Watter invloed het die hoë plantdigth­eid waarteen julle boorde vestig (bome raak nie hoër as 2 m nie) op die gehalte van jul produkte?

Ons glo dit lewer olyfolie van beter gehalte omdat die vruggies egaliger ryp word. Met die hoëdigthei­d-aanplantin­gs kan ons elke jaar ’n konstante oes afhaal. Ander voordele is dat ons vroeër gelykspeel, en bestuurs- en bedryfskos­te is laer.

Wat is die definisie van ekstrasuiw­er olyfolie?

Alle olyfolie in Suid-Afrika word volgens die Internasio­nale Olyfraad se standaarde geklassifi­seer. Daarvolgen­s kan jy jou olie slegs as ekstrasuiw­er bemark as die vryesuurin­houd minder as 0,8% en die peroksiedw­aarde minder as 20 mEq/kg is. Ons mees onlangse ontledings (deur ’n geakkredit­eerde laboratori­um) was onderskeid­elik 0,24% en 4,0 mEq/kg.

Hoe lyk die toekomsvoo­ruitsigte vir die plaaslike olyfbedryf?

Ál meer mense gebruik ekstrasuiw­er olyfolie omdat dit propvol antioksida­nte en monoversad­igde vette is. Dit is dus baie gesond, en Suid-Afrikaners gebruik tans meer as wat plaaslik geprodusee­r word. Daar is dus ’n plaaslike sowel as uitvoermar­k vir ons produk. Boere wat weens klimaatsve­randering wil diversifis­eer, sal olywe ’n goeie alternatie­f vind.

Wat is jou gunsteling­gereg waarin olywe of olyfolie voorkom?

Beslis seekospast­a met tamaties en Calamata-olywe.

 ??  ?? Chris van Niekerk
Chris van Niekerk

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa