Landbouweekblad

’n Hartsplek diep in die Karoo

Anel Ackerman se geskenkwin­kel, In Die Hartjie, is ’n baldadige spatsel kleur op die Karoodorp Middelburg. Hier leef sy haar kreatiewe sy uit, maar bied ook aan ander vroue in die Karoo kans om ’n ekstra inkomste te verdien.

-

Wat maak jou geskenkwin­kel uniek?

Ek glo elke vrou het ’n droom. Binnenshui­se versiering, ’n kwas, ’n blik verf en ’n kussing is in my bloed. By In Die Hartjie gaan dit dus nie net oor die besonderse handgemaak­te geskenk wat jy kan koop nie, maar ook oor kleurskema­s wat jou siel goed doen. Ons bied ook koffie en kolwyntjie­s vir klante om te geniet terwyl hulle in die winkel rondsnuffe­l.

Ek het die winkeltjie in 2017 begin – in ’n vertrekkie so groot soos ’n skoenboks! Dit was ’n regte krapwinkel­tjie, want ons vroue hou mos van rondkrap!

Wat verkoop jy alles?

Hoewel ek wyd voorraad aankoop, hou ek graag handgemaak­te produkte, soos beddegoed, speelgoed en houtartike­ls, aan. Ek sorg dat daar kort-kort iets ouliks op my rakke is om mense te lok.

Vertel ons van die winkel se naam?

Ek is ’n regte plaasjapie wat van Thabazimbi se wêreld kom. Ná skool het ek binnenshui­se versiering gedoen, en jare later op Middelburg beland. Ek is uit my skoene uit geseën om ’n plekkie soos In Die Hartjie hier in die hart van die Karoo te kan bedryf. Boonop lê dit diep in my hart!

Hoe help die winkel jou gemeenskap?

Ek ondersteun graag ander Karoo-vroue wat pragtige produkte maak. Hulle is dikwels plaasvroue wat graag ’n ekstra inkomste wil verdien. Een van hulle is ’n vriendin wie se lekkergoed, Soetbekkie­s, ’n spesiale hoekie in my winkel het.

Neem jy mense in diens?

Wilna Labuschagn­e help soggens in die winkel, en in die middae is dit my beurt. Dit kan ’n gesukkel wees om die regte hulp te kry. Ek het na iemand gesoek wat my liefde vir kleure en produkte deel. Wilna woon al haar lewe lank op Noupoort, maar ry daagliks haar kleinkinde­rs aan skool toe op Middelburg. Sy het ’n tydverdryf nodig gehad terwyl sy vir hulle wag. Sy’s ’n absolute seën!

Terwyl sy soggens werk, kan ek na my dogters (een is in die hoërskool en die ander twee is drie en vier jaar) omsien. Dis soms ’n geskarrel om alles en almal op een dag ingepas te kry, maar ek kry dit darem reg!

Hoe maak jy seker jy skeep nie jou gesin of jou besigheid af nie?

Ek stel daagliks vir myself en vir die winkel ’n doelwit. Tot dusver het ek dit in 90% van die gevalle bereik. Dit help my om ’n goeie diens te lewer en ook vir my gesin beskikbaar te wees.

Hoe het jy die winkel gefinansie­r?

Dogters lê mos na aan ’n pa se hart, en gelukkig was my ouers in die posisie om my te help om my droom te bewaarheid. Dis ’n groot voorreg.

Wat is die grootste struikelbl­okke om ’n ondernemin­g op die platteland te bedryf?

In ’n stadium was dit die droogte, want ’n geskenkwin­kel is ’n luukse. Ek is egter elke dag met ’n dankbare hart in die winkel en probeer almal help – al kan hulle nie dadelik betaal nie.

Op die platteland moet jy jou klante gelukkig hou deur die regte pryse vir jou produkte te vra. Net omdat jy op die platteland is, hoef alles nie duurder te wees nie – dan gaan jou klante in elk geval eerder ondernemin­gs in die stad ondersteun.

Watter raad het jy vir platteland­se vroue wat met ’n ondernemin­g wil begin?

As jy dinamies genoeg is, sal jy ’n manier vind, ongeag uitdagings wat oor jou pad kan kom. Moenie toelaat dat iemand jou vertel jou idees kan nie werk nie. Dit kán, jy moet net ’n plan beraam. Enigiets sal werk as die wil daar is. En natuurlik is genade van Bo jou uitkoms!

Het jy enige toekomspla­nne vir In Die Hartjie?

Elke besigheid moet kan uitbrei, en ek beoog om materiaal en unieke wol te begin aanhou. Ek dink dit behoort goed te doen, omdat ek handgemaak­te produkte verkoop.

 ??  ?? Die geskenkwin­kel In Die Hartjie op Middelburg is ’n vrolike ontploffin­g van kleur. Die eienaar, Anel Ackerman, glo dat dit elke besoeker se dag ophelder.
Die geskenkwin­kel In Die Hartjie op Middelburg is ’n vrolike ontploffin­g van kleur. Die eienaar, Anel Ackerman, glo dat dit elke besoeker se dag ophelder.
 ??  ?? Talentvoll­e vroue uit die Karoo lewer onder meer handgemaak­te produkte aan die winkel, waar Anel smiddae aan diens is.
Talentvoll­e vroue uit die Karoo lewer onder meer handgemaak­te produkte aan die winkel, waar Anel smiddae aan diens is.
 ??  ?? Anel Ackerman is ’n kreatiewe mens, wat lank van haar eie geskenkwin­kel gedroom het.
Anel Ackerman is ’n kreatiewe mens, wat lank van haar eie geskenkwin­kel gedroom het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa