Boereblog:
Afrika roep
k moes R1,21 betaal vir elke kwacha wat ek in Zambië bestee. Die rede daarvoor was gou duidelik: Dié land se regering is nie skaam om die regte besluite te neem nie, en Zambië se mynbou, landbou en toerisme is ekonomiese treine wat voortstoom sonder om terug te kyk.
Mnr. Akinwumi Adesina, hoof van die Afrika-ontwikkelingsbank en voormalige minister van landbou in Nigerië, het gesê: “Die landbou is nie ’n manier van lewe nie. Dit is ’n besigheid.” Die Zambiese regering het dié boodskap ter harte geneem en wyd toegepas.
Daar is nog baie landbougrond in die land beskikbaar – van die 58% van Zambië se grondgebied (sowat 43 miljoen hektaar) wat vir die landbou beskikbaar is, word vandag nog net 15% gebruik. Tans word meer as 100 000 ha in Zambië besproei, met die potensiaal om nog 523 000 ha te besproei. Besproeiingsgewasse sluit koring, mielies, sojabone, suikerriet, koffie en tabak in.
Dit gaan só goed met die landbou dat die uitvoer van landbouprodukte, soos tabak, sojabone en katoen, tot 29,5% van die algehele produksie opgeskiet het. Ten spyte van El Niño en 2017 se droogte kon Zambiese boere steeds ’n surplus mielies produseer wat na buurlande uitgevoer is.
TIPES GRONDBESIT
In Zambië word grondbesit verdeel tussen dít wat aan stamhoofde behoort en dít wat in staatsbesit is. Klein- of tradisionele boere gebruik hoofsaaklik stamgrond, terwyl kommersiële boere op staatsgrond volgens ’n huurpagstelsel van 99 jaar boer.
Die kommersiële besproeiingsboere kom hoofsaaklik van Suid-Afrika en Zimbabwe, waar hulle nie meer tuis gevoel het nie. Die ongeveer 400 geregistreerde kommersiële boere in Zambië is ’n suksesvolle gemeenskap, hoofsaaklik in die sentrale deel van die land en rondom die dorpie Mkushi. Hulle gebruik gesofistikeerde tegnologie en boer op ’n soortgelyke manier as Suid-Afrikaanse boere.
Bestaans- en tradisionele boere kan dit nie bekostig om te besproei nie, en maak op reënval staat. Zambië het darem genoeg water – meer as 45% van Afrika suid van die Sahara se bo- en ondergrondse waterbronne is hier.
PLAASBLOKKE
Saam met die vestiging van kommersiële plase wat tot 10 000 ha groot is, het die Zambiese regering die plaasblokstelsel begin. Elke plaasblok bestaan uit ’n kernplaas wat omring is deur talle kleiner plase (van 30 ha tot 5 000 ha), wat deur tradisionele boere bedryf word. Die belegger boer op die grootste deel van die plaas en sluit ’n kontrak met die kleiner boere. Só boer hulle saam. Die ondersteuningsboere verskaf hul gewasse aan die belegger, wat op sy beurt sy kennis, vaardighede, moderne plaastegnologie en ander hulp aan die kleiner boer beskikbaar stel.
GELEENTHEDE VIR SABOERE
Sowat 1 000 Suid-Afrikaanse boere boer tans in ongeveer 22 Afrika-lande, waaronder Mosambiek, Botswana, Malawi, Kenia, Angola, Namibië en Zambië. Pres. Edgar Lungu van Zambië is glo gretig om nog Suid-Afrikaanse boere in sy land te vestig.
Mnr. Hanré Wiese, bedryfsbestuurder by Multicrop Zambia (in Suid-Afrika bekend as Agrico), vertel my juis ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging het onlangs na Zambië gereis om na landbougrond in die koperstreek te kyk. Die groep het ook Lungu besoek.
Die Afrika-spreekwoord lui immers: “As dit met die landbou verkeerd gaan, sal dit met niks anders in die land reg verloop nie.”
Jurie van der Walt is ’n oud-joernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf. Hy was einde verlede jaar deel van ’n safarigroep wat 5 500 km deur Botswana, die Caprivi en Zambië gereis het.