Beurtkragskade: Is verligting vir boere op pad?
BEURTKRAG kan waarskynlik tot in Mei duur weens Eskom se ernstige gebrekkige vermoëns. Landbouleiers spook om boere en landbouondernemings se blootstelling daaraan te beperk.
Mnr. Nicol Jansen, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê dit sal bedrywe wat afhanklik is van besproeiing en energie-intensief is, soos tuinbou, suiwel, pluimvee, graan en landbouverwerking, ernstig benadeel.
“Die betrokke subsektore het ’n belangrike rol om Suid-Afrika se voedselsekerheid te bewerkstellig. Meer as 25% van die land se kos word deur dié bedrywe verskaf. Die ongunstige impak raak produsente én verbruikers.”
Jansen sê elektrisiteit is ’n bevind. langrike produksiemiddel vir baie boere, veral vir diegene wat van besproeiing afhanklik is.
“Die landbou het sowat R146 miljard op intermediêre goedere en dienste in 2017-’18 bestee, waarvan elektrisiteit R7 miljard (5%) beloop het.”
VOORSTELLE
Agri SA het op 22 Januarie met Eskom vergader om moontlike opsies te bespreek om die ongunstige impak van beurtkrag op die landbou te beperk.
“Binne die konteks van voedselsekerheid het Agri SA vir Eskom versoek om die landbousektor van fase 1-beurtkrag uit te sluit. Eskom het egter aangedui dat dit nie moontlik sal wees nie, aangesien dié sektor nie deur ’n toegewyde landbounetwerk gediens word nie en dat ander belanghebbendes op dieselfde manier deur beurtkrag geraak word.”
Beurtkrag kan besproeiing op twee maniere benadeel. Eerstens regstreeks wanneer boere nie hul elektriese pompe tydens hul waterbeurte kan gebruik nie en tweedens onregstreeks wanneer beurtkrag by sleutel-besproeiingskema-pompstasies kan plaas- In laasgenoemde geval kan ’n boer toegang tot elektrisiteit hê, maar die pompstasies word deur beurtkrag geraak.
Jansen sê om die koördineringsprobleme op te los, sal Agri SA se provinsiale lede met Eskom-verteenwoordigers in hul onderskeie provinsies vergader om dié sleutel-pompstasies te identifiseer en om die impak van beurtkrag op die stasies te beperk.
MINDER AFHANKLIK
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê sy organisasie se grootste onmiddellike knelpunt is wetgewing wat ondernemings verbied om nie die nasionale kragnetwerk te gebruik nie.
‘Meer as 25% van die land se kos word deur dié bedrywe verskaf.’
“Een van ons voorstelle aan die presidensiële taakspan oor Eskom was om die wetgewing te wysig wat ondernemings beperk tot ’n sekere vlak van eie kragopwekking. Ons weet dat hulle ons standpunt ingesien het en die President dienooreenkomstig ingelig het, maar ons is onseker of die Regering die voorstel sinvol gevind het,” sê hy.
Dit was een van etlike voorstelle wat onlangs deur Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) aan die Eskom-taakspan voorgelê is. Van die voorstelle daar het reeds beslag gevind in die staatsrede, onder meer die ontbondeling van Eskom in verskillende entiteite vir opwekking, oordrag en verspreiding van elektrisiteit.
Agbiz raai sy lede al sedert 2008 aan om onafhanklik van Eskom-krag te word. Diegene wat reeds daarmee begin het, is nou beter daaraan toe as ander.
MUNISIPALE SKULD
“’n Ander kritieke situasie wat Agbiz hard met Busa probeer oplos, is munisipaliteite se skuldposisie, want dit slaan die landelike gebiede en voedselverwerking in dorpe, soos Harrismith, baie hard,” sê Purchase.
Beurtkrag is ’n week gelede die eerste keer sedert 9 Desember ingestel en die eerste dag se fase 2-beurtkrag is die volgende dag tot fase 4 verhoog, wat beteken 4 000 MW moes beurtelings landwyd afgeskakel word.