Veearts: Geen keer ná 1,6m. ondersoeke
Die 87-jarige Zimbabwiese veearts dr. Japie Jackson het al meer as 1,6 miljoen dragtigheidsondersoeke op koeie gedoen. Ná bykans 65 jaar in die tuig is daar nie sprake van aftree nie en werk hy steeds onder die beesboere.
Hy wil sommer langs ’n drukgang sterf wanneer dit sy tyd is om te gaan, sê dr. Japie Jackson (87) van Bulawayo in Zimbabwe, geliefde veearts wat veral onder beesboere bekend is. “Ek is nog baie gesond en was 60 jaar laas in ’n hospitaal, waarvoor ek die Here dank,” vertel die vriendelike gryskopman.
Landbouweekblad het hom raakgeloop op ’n beesskool wat deur die Zimbabwiese stamboekliggaam Zimbabwe Herd Book in Bulawayo aangebied is.
Hy het sy studie om veearts te word in 1954 by Onderstepoort in Pretoria voltooi. Daarna het hy na Zimbabwe teruggekeer en op Liebig’s Ranch in die Beitbrugdistrik in die suide begin werk. Dit was toe die naasgrootste beesplaas in die land en het sowat 400 000 ha beslaan.
“Daar het ek ’n skema vir hartwater-immunisering begin wat involge wetgewing deur ’n veearts gedoen moes word. Ek kon darem ook ander veeartswerk doen,” sê hy. Hulle het die eerste Brahmane ingevoer en Jackson moes die koeie kunsmatig insemineer (KI).
Ná drie jaar is hy na die staatsdiens om as staatsveearts te werk. Daar was toe nog nie private veeartse in Zimbabwe nie.
Ná 16 jaar het Dok Japie, soos almal hom noem, op die familieplaas halfpad tussen Enkeldoorn en Fort Victoria gaan boer, ’n entjie suidoos van die middel van Zimbabwe. Hy het toe ook private veeartswerk gedoen.
In 2002, toe die Mugabe-bewind die boere se grond vat – Jackson én sy kinders s’n wat ook daar geboer het – het hy en sy vrou, Hannalah, na Bulawayo verhuis om daar in ’n aftreeoord te gaan woon. Sy is drie jaar gelede oorlede. Jackson woon steeds in dié oord.
LANG RYE DIERE
Op Liebig’s Ranch het Dok Japie ook dragtigheidsondersoeke op die boerdery se 15 000 koeie gedoen. Dit word inwendig gedoen deur ’n arm by ’n koei in te druk sodat hy kan voel of daar ’n fetus is wat groei en hoe ver dit ontwikkel het. Sommige koeie moes in die dektyd méér as een keer ondersoek word.
Toe hy later as staatsveearts gewerk het, het Liebieg’s toestemming gevra dat staatsveeartse steeds hul dragtigheidsondersoeke doen. Hy en ander veeartse het toe om die beurt private werk vir ’n bykomende inkomste vir die groot beesboerdery gedoen. In die middag het hulle tot vyfuur vir die staat gewerk, en daarna die private werk. Hulle het ook troeteldiere behandel. Daar was dikwels lang rye eienaars wat met hul katte en honde gesit en wag het.
“Om só baie koeie te ondersoek, is ’n klomp werk en ná ’n jaar wou geen ander veearts dit meer doen nie. Ek het toe met die staatsdiens se goedkeuring nog jare lank ál hul koeie vir dragtigheid ondersoek. In ’n stadium was
daar 22 000 koeie op die plaas. Dit het my toe 17 dae geneem om almal te ondersoek,” vertel hy.
Die bepaling van dragtigheid ter wille van groter doeltreffendheid in ’n beesboerdery het gaandeweg posgevat en die staatsveeartse moes spoedig ook dié taak verrig. In ’n stadium het Dok Japie tot 60 000 ondersoeke per jaar gedoen. Laggend werk hy uit dat hy sowat 1,6 miljoen dragtigheidsondersoeke in sy lewe gedoen het. Nadat kommersiële boere hul plase verloor en boerdery in Zimbabwe aansienlik gekrimp het, het die ondersoeke skerp afgeneem. Nou doen hy net 10 000 tot 14 000 ondersoeke per jaar.
BYNA ’N GENADESKOOT
Staaltjies tydens sy loopbaan as veearts is daar baie. Dok Japie vertel in die 1970’s toe hy ’n staatsveearts in Masvingo was, was daar ’n groot uitbreking van bek-en-klouseer. Gevoelens onder die boere het hoog geloop.
Hy kom eendag op ’n plaas aan en die boer dreig hom op Afrikaans: “Sit jou voet op hierdie plaas en ek skiet jou dood!”
“Sy gif was nie teen my persoonlik gemik nie, maar teen ons departement. Wat kon ek sê? Ek antwoord hom toe op Afrikaans: ‘Oom, dit sal ’n genadeskoot wees!’ Ewe skielik is hy toe my vriend!” vertel Dok Japie.
Op ’n ander plaas moes hy ses rondloperbeeste skiet wat buite die bek-en-klouseerkordon was. Die eienaar was woedend en Dok Japie moes hom gaan sien. Daar maak hy toe nóg ’n nuwe vriend nadat die gemoedere bedaar het.
Een boer in die Nuanetsi-distrik het 200 verse gehad wat hy vir dragtigheid wou laat ondersoek. “Ek was in die omgewing besig, maar my program was propvol van sonsopkoms tot sonsondergang. Dit was egter heldermaan en ek vra hom of hy bereid sal wees dat ons dit in die maanlig doen. Dit was ’n wonderlike ondervinding en boonop was die uitslag ongelooflik goed, want 91% was dragtig, al het hulle by net twee baie jong Brangus-bulle geloop.”
’N KRAALMUURDIAGNOSE . . .
As studente is hulle geleer dat die regte diagnose die kern van ’n goeie veearts is. Om dít te doen, verg ’n deeglike ondersoek. ’n Diagnose wat sommer op ’n afstand gedoen word sonder om die hande vuil te maak, is ’n kraalmuurdiagnose genoem.
“Met dit in gedagte is ek eendag uitgeroep deur ’n boer met ’n siek koei in die oop veld. Ons ry in die boer se bakkie en loop toe nader. Daar is sy, wys hy. Ek loop nóg nader. So 50 treë van die koei af gryp die boer my aan die skouer en sê: ‘Nie ’n tree nader nie. Daardie koei gaan ons bestorm. Dit is haar gewoonte.’ Het ek maar my verkyker by my gehad, sou ek miskien ’n beter kraalmuurdiagnose kon maak.”
Op ’n ander geleentheid is Dok Japie na ’n plaas diep in die laeveld ontbied. Die boer het probleme met sy koeie gehad. “Ons ry in sy bakkie kraal toe. Dit was ’n groot draadheiningkraal met heelwat bome. Daar staan ’n klompie groot laeveldkoeie. ‘Watter een wil jy ondersoek?’ vra hy. Ek staan nog en wonder waar die drukgang is, maar voor ek my oë kon uitvee, lê daar ’n koei.
“Agterop die boer se bakkie was ’n baie jong, kleingeboude Sjangaan met ’n riem. Een-twee-drie, toe het hy die riem om die koei se agterpoot en die ander punt aan ’n boom vasgemaak, die stert gegryp en die koei onderstebo gepluk. Ek kon haar en die ander koeie toe deeglik ondersoek, beter as in ’n drukgang. Die koeie het mondsere gehad. Die werker was sy sout werd.”
TELEFOONDIAGNOSE
’n Ander soort diagnose wat elke veearts noodgedwonge moet maak, is ’n telefoondiagnose. Die sukses daarvan hang baie af van die boer se waarnemingsvermoë en sy vermoë om dit in woorde weer te gee. Die laaste deel skiet soms tekort, veral wanneer hulle nie die korrekte anatomieterme ken nie. Só bel ’n plaasvrou Dok Japie eendag oor ’n koei wat probleme met haar “fondament” het.
Met die koms van selfone en WhatsApp het nuwe moontlikhede ontstaan. Net onlangs het Dok Japie ’n telefoondiagnose met dié hulpmiddels gemaak. Die laeveldse boer het gesê hy het baie osse en elke dag word omtrent ses siek. Ná baie vrae en antwoorde het Dok Japie drie-dae-stywesiekte gediagnoseer. “Die boer het nie dié siekte geken nie. Hy sê: ‘Die osse slaap in ’n kraal.’ Ek vra: ‘Is die kraal by die dam?’ Hy anwoord toe ja, en ek gee raad: ‘Skuif die beeste dadelik weg van die dam af.’
“Die volgende week kry ek wéér ’n
WhatsApp van hom. Ná vier dae is daar nie meer nuwe gevalle nie. Só spaar ’n selfoon ’n mens baie kilometers se ry,” sê hy.
’n Ander, baie waardevolle hulpmiddel is selfoonfoto’s. Dok Japie kan ’n taamlik goeie, kliniese ondersoek met goeie foto’s doen, veral ’n nadoodse ondersoek. ’n Paar jaar gelede het ’n boer vir hom uit Nigerië ’n reeks foto’s per e-pos gestuur nadat hy vyftig melkkoeie verloor het.
Nóg ’n boer het verliese gely. “Ek was eers stadig om te snap, maar het skielik besef dit is longsiekte wat meer as honderd jaar gelede moles in Suid-Afrika gemaak het.”
TOEKOMS VAN BOERDERY
Hoe sien hy boerdery se toekoms in Zimbabwe?
“Ons het groot potensiaal in hierdie land – van saai- tot beesboerdery. Die ellendige politieke situasie benadeel boerdery egter baie. Die enigste antwoord vir die land is om die boere weer op hul grond terug te sit.
“Dit sal die hele situasie verbeter, grond sal weer waarde kry en die ekonomie sal herstel. Baie boere wil teruggaan na hul plase en die res sal hul grond verkoop. Ek dink baie Suid-Afrikaanse boere sal graag hierheen wil kom,” sê hy.
Dok Japie het ses kinders van wie vier nog leef. Een seun, James, is ’n veearts op Stellenbosch en die ander, Jacob, is ’n rekenaarkundige in Johannesburg.
Sy dogters, Annalie Henson en Carolie Andrew, woon albei in Nieu-Seeland. Hy het tien kleinkinders en 16 agterkleinkinders, met nommer 17 op pad.
Hopelik is daar nóg aspirant-veeartse onder hulle om in hul roemryke oupa se voetspore te volg.
NAVRAE: Dr. Japie Jackson, sel +263 772 144 699; e-pos: jackarooj@gmail.com