Moringa: Belowende snelgroei-mark
Die sprong van ’n kriminoloog tot boomboer is onwaarskynlik, maar dié boer het dit gedoen danksy ’n klaarblyklik onversadigbare vraag na moringaprodukte. Hy verdien tot R600 000 per hektaar, en die geld word net so herbelê om sy hektare onder dié vinnige
Selfs al word die hele Afrika onder moringa beplant, sal dit nie genoeg wees om in die Amerikaanse vraag na dié middel te voorsien nie.
Dít was die mening van ’n vervaardiger van toerusting vir die verwerking van moringa toe hy by mnr. Zain Halle, ’n moringaboer van Nelspruit, gaan aanklop het om 100 kg moringablare in ’n nuwe aanleg te toets.
Vir Halle was dit bevestiging dat hy die regte besluit geneem het toe hy sowat drie jaar gelede sy werk by die nie-regeringsorganisasie Khulisa Social Solutions in Hammanskraal laat vaar het om by Nelspruit met moringa te gaan boer.
Dit was ’n groot stap. In Hammanskraal het sy twee grade in sielkunde en kriminologie hom goed te staan gekom waar hy hoofsaaklik met kinders gewerk het. Op die plaas wat hy gekoop het, sowat 8 km buite Nelspruit, sou hierdie kwalifikasies egter van min waarde wees. Halle het geen landbou-agtergrond of -opleiding nie. Hy het soveel moontlik navorsing op die internet gedoen en waar moontlik by ander boere gaan kers opsteek om oor moringaverbouing te leer.
HOEKOM MORINGA?
Hy kon seker enige ander subtropiese gewas kies, maar moringa het aan sy deur kom klop. Die dogter van ’n vriendin van sy pa, Martin, het ’n skooltaak oor moringa gedoen. Omdat sy weet hy sukkel met bloeddruk, het sy vir Martin moringa gebring.
Toe Zain sowat twee maande later daar gaan kuier, het sy pa gekla dat hy lighoofdig is en voel of hy wil flou word. “Ek het hom dadelik dokter toe geneem. Daar hoor my pa, wat al ses jaar lank op streng medikasie vir sy hoë bloeddruk is, dat sy bloeddruk te laag is. Die dokter het aanbeveel dat hy eers sy bloeddrukpille los.”
Omdat hoë bloeddruk nie sommer verdwyn nie, het hy die raad teësinnig gevolg. “Die arme verpleegster by die aftree-oord moes die eerste maand kort-kort sy bloeddruk kom neem om hom gerus te stel. Hy is drie jaar later op 86 oorlede. In daardie tyd het hy nie een dag las gehad van hoë bloeddruk nie en nooit sy medikasie hernu nie.”
Halle het ’n hand vol sade by die hospies by Hammanskraal gaan plant. Toe hy agt maande later daar kom, was die hospieswerkers in die kombuis besig om blare te droog, met die hand te maal en in kapsules te verpak. Hulle het dit aan die plaaslike kliniek verkoop.
Halle het besef daar is ’n mark onder plaasli-
ke gemeenskappe wat baie meer bewus is van die gesondheidsvoordele as wat ’n mens besef. Dit was sy “a-ha”-oomblik.
’N NUWE BEGIN
Halle het die plaas Leopard Tree Retreat van 21 ha in Desember 2016 gekoop en die eerste sade in Mei 2017 geplant. “Ek het die sade van Zimbabwe, Zambië en Malawi ingevoer, en hier en daar van Suid-Afrikaanse kwekers gekoop.”
Hy maak klein rybankies waartussen water natuurlik kan vloei teen die effense helling waarop hy boer. Die boompies word 30 cm van mekaar geplant vir blaarproduksie. As ’n mens vir saadproduksie plant, moet die boomspasiëring 1-2 m wees vir optimale produksie.
Voor hy egter begin plant het, het hy die grond laat ontleed. Moringa hou nie van suur grond nie. Halle was gelukkig. Die suurgehalte van Leopard Tree se sanderige leemgrond was binne die aanvaarbare spektrum van 5 tot 8.
Daar is ’n dam van 50 000 liter op die plaas waaruit hy die reën met oorhoofse klapsproeiers aanvul.
“Moringa moet beskerm word teen plae, soos plantluise, witvlieg en spinnekopmyte. Omdat dit makadamiawêreld is, val ál die makadamiaplae ons plante aan. Ons is ingestel op grondgesondheid om siektes en plae te bestry. Ons het gesien hoe gesonder die grond is, hoe minder plae is daar. Omdat ons so gereeld oes, kry plae nie tyd om op die plante te vestig nie.”
Halle verwyder besmette bome omdat hy nie gif op blare kan spuit wat vir menslike gebruik bedoel is nie. “Hoewel ’n mens organiese insekdoders kry, vermy ons spuitstof.”
Hy gebruik wel soveel natuurlike produkte moontlik om die grond en sy plante te voed.
Daarvoor is ’n erdwurmboerdery in groot wurmkaste sy geheime wapen. Onder die wurmkas is daar ’n sif waardeur die wurms se afval kan val. Dit word in houtraamkaste of op seile opgevang en dan by die bome in die grond ingewerk.
VAN PIT TOT PIL ONDER EEN DAK
Die bome word gelos om 3-4 m hoog te groei. Die blare word dan van die nuwe lote af gestroop voordat dit weer tot op omtrent heuphoogte afgesny word.
Alles word met die hand gedoen. Die lote wat afgesny word, word vir veevoer gemaal. Dit is dus net die stamme wat oorbly.
Halle sê hoe meer ’n mens die blare oes, hoe meer word plantgroei gestimuleer. Op sy gevestigde blok oes hy reeds gemaklik drie keer per jaar – naamlik einde Januarie, weer in April en dan ná die winter in November.
Hy het al 4 ha moringa aangeplant en ’n droogkamer, wurmboerdery en maalkamer opgerig. Hy hoop om uiteindelik 10 ha onder moringa te hê. “Die plaas was gelukkig
ontwikkel en ons hoef nie weer deur ’n omgewingstoestemmingsproses te gaan om nuwe boorde te vestig nie. Die vorige eienaars het onder meer met bessies probeer boer.”
Moringablare begin muf binne ’n uur nadat dit geoes is. Dit moet dus vinnig en
doeltreffend verwerk word. Die eerste stap is om dit te was. Daarvoor gebruik Halle ’n gewone bad wat in die droogkamer aangebring is. Daarna word die blare op droogbeddens oopgesprei, waar dit lugdroog word.
Enigiemand wat die blare wil bemark, moet drooggeriewe hê. Omdat die vars blare so vinnig verwelk, kan ’n mens dit nie regtig na ’n ander plek vervoer om te droog nie.
“Daar is verhitte droogoonde wat ’n mens kan koop om die blare vinniger te droog, maar ek verkies die tekstuur en gehalte van blare wat natuurlik gedroog is,” sê Halle.
Sy droogkamer, ’n sement-en-baksteenstruktuur, het groot gaasvensters wat goeie lugvloei verseker en insekte uithou.
Sodra die blare droog is, maal hy dit met sy hamermeule tot ’n fyn poeier, wat hy self in kapsules plaas en verpak.
Daar is reeds ’n goed gevestigde waardeketting vir moringa met Dischem, Clicks, Pick n Pay en selfs Shoprite-Checkers-takke wat dit aanhou. Daar is maatskappye, soos Moringa World, Moringa 4000 en Liv Moringa, wat produkte verwerk en verpak vir die winkelrak.
Halle verkies om sy produk regstreeks aan ’n plaaslike gesondheidswinkel te verskaf. Hy het die afgelope jaar ’n lojale kopersbasis opgebou. Sommige mense koop sy kapsules wanneer hulle die Laeveld besoek, en bestel dan later regstreeks by Halle nóg voorraad wat hy met PostNet die hele land vol stuur.
Hy het reeds ’n sakevennoot in Brittanje saam met wie hy sy produkte in Europa wil bemark.
HOE LYK DIE SOMME?
Dit kos tot R45 per moringaboompie, en saad kos sowat R110 per kilogram. Saad en boompies is plaaslik beskikbaar en kan aanlyn bestel word by moringaseed.co.za (vir saad) of theprohealthshop.co.za (vir boompies).
Die koste per hektaar gaan beïnvloed word deur ’n mens se keuse om vir blaar- of saadproduksie te plant, jou keuse van ’n besproeiingstelsel en arbeidsbenutting.
Die prys word in ’n mate bepaal deur die volume wat ’n mens verkoop. Kleiner hoeveelhede kan teen beter pryse verkoop word, maar dan moet ’n mens dikwels aan ’n verskeidenheid kopers bemark.
Vir minder as 100 kg gedroogde blare of sade sal die meeste kopers byvoorbeeld tot R110/kg betaal, maar kopers wat in tonnemaat koop, sal aandring op afslag en die verkoopprys afstry tot sowat R80/kg.
Vir opkomende boere is saad dikwels ’n makliker opsie, veral by gemeenskapsprojekte waar dit moeilik is om die higiëniese hantering van blare te verseker. Die prys vir saad per kilogram is omtrent dieselfde as vir blare, en die somme lyk omtrent dieselfde.
Dit verg egter verskillende verbouingspraktyke. Vir saadproduksie moet bome 1-2 m van mekaar geplant word. Wanneer die bome volwasse is, kan ’n mens sowat 9 kg saad per boom per jaar verwag. Saadproduksie is minder arbeidsintensief en verg minder grondvoeding. Die produksiekoste is dus heelwat laer.
Halle spits hom nou op blaarproduksie toe. In sy gevestigde boord oes hy sowat 600 kg gedroogde moringapoeier per ha. Dit is by die potensiaal om self waarde toe te voeg, waar blaarproduksie saad weghardloop as dit by winsgewendheid kom.
“Deur die produk tot poeier en pille te verwerk, verkoop ek dit teen R1 per kapsule. Daar is omtrent 1 gram poeier in elke kapsule. In teorie verdien ek dus R600 000 per hektaar per oes. Ek behoort skatryk te wees oor ’n jaar of twee, maar in werklikheid is dit nog nie die geval nie. Ek ploeg elke sent terug in die boerdery en hoop om eersdaags ook ’n oliepers te koop waarmee ek olie vir die velsorg- en skoonheidsmark sal kan maak.”
TOEKOMSPLANNE
Halle gaan in die toekoms ook ’n veevoerreeks vervaardig. Hy is in die proses om sy boerdery en sy vervaardigingsaanleg as organies te laat sertifiseer. Hy glo dit sal sy produk selfs nog meer waardevol maak. Hy wil ook moringaheuning maak.
Teen die tyd dat hy 10 ha onder moringa het en hy dit tot ál die beoogde eindprodukte kan verwerk, gaan Halle genoeg moringaprodukte hê om in 5 000 verbruikers se behoeftes te voorsien. Suid-Afrika voer tans moringa van Indië, Zambië, Malawi en Mosambiek in. Droë blare word hier verwerk en dan na Europa en Amerika uitgevoer.
Intussen hou hy die pot aan die kook danksy die gasvryheidsbedryf. Hy het ’n paar selfsorgeenhede opgerig en bemark dit op ’n verskeidenheid elektroniese platforms.
“Dit werk baie goed. Ek het geen administratiewe vermoë nodig nie – die agentskappe behartig die besprekings en vorder die betalings in. Ek is net verantwoordelik vir die onderhoud en diens van die wooneenhede.”
Uit die gasvryheidsbedryf betaal hy sy plaaspaaiement.