Vars produkte:
10 neigings wat jou wins gaan bepaal
Die varsprodukteprodusent is al hoe minder ’n boer en al hoe meer ’n herder, ’n storieverteller en diensteverskaffer. Die verbruiker wil hê die produsent moet sy werksmag en die aarde soos goud oppas, en terselfdertyd uitstekende waarde aan die verbruiker bied met produkte wat heerlik smaak en selfs die vermoë het om te genees. Boonop bly dit die produsent se verantwoordelikheid om aan die verbruiker te bewys dat aan die vereistes voldoen word – van die plaas tot op die verbruiker se bord.
Dit klink dalk na ’n hoë hekkie, maar wêreldwyd is hierdie wisselwerking tussen die verbruiker en die produsent nog in sy kinderskoene, en die geleenthede wat hieruit kan voortspruit, wink vir groot en klein pioniersprodusente.
Die varsproduktebemarkingsvereniging (PMA) het onlangs vyf neigings vir die wêreldwye varsproduktebedryf, asook vyf neigings vir Suider-Afrika, uitgelig.
5 NEIGINGS VIR SUIDER-AFRIKA
Me. Lindie Stroebel, hoofbestuurder van die PMA in Suider-Afrika, meen die suksesvolle produsente van die toekoms is dié produsente wat hul vingers op die pols van die nuutste neigings hou en dan hulself inspan om individueel en gesamentlik die verloop van hierdie neigings te help vorm.
Hier is die vyf vernaamste neigings vir die varsproduktebedryf wat sy geïdentifiseer het. Tegnologie. Natuurlike hulpbronne, kapitaal en arbeid is lank nie meer die bepalende faktore van produksie nie, maar tegnologie wel. Saad, kunsmis en masjinerie wat voortdurend ontwikkel en verbeter word, die aanwending en toepassing van hommeltuie, kunsmatige intelligensie, outomatisering en blokketting in boerderye word nou beskou as voorvereistes en noodsaaklikhede, eerder as luukshede. Vir die nabye toekoms sal die fokus op inligting bly.
Dit is belangrik hoe jy data invorder en watter data jy invorder, maar wat jou besigheid lewenskragtig gaan maak, is hoe jy hierdie data interpreteer en watter insigte jy daaruit ontwikkel. Hoe jy hierdie insigte uitruil en tot voordeel van die hele waardeketting gebruik, gaan jou volhoubaarheid verseker.
Suider-Afrika sal moet opskud, want as hy hierdie neigings misloop, gaan hy beslis op internasionale markte gemarginaliseer word. Hy gaan irrelevant wees en moontlik uit die markte geskuif word. ’n Slimmer werksmag. Hoewel werkskepping in Afrika noodsaaklik is om maatskaplike stabiliteit te verseker, kan die koste van arbeid en arbeidsadministrasie, asook die behoefte aan geskoolde, selfs gespesialiseerde
arbeid, nie geïgnoreer word nie. Namate tegnologie, veral outomatisering, aangewend word, vervang dit nie noodwendig die behoefte aan arbeid nie, maar wel die vaardigheidsvereistes van die arbeidsmag.
Die arbeidsmag moet tegnologie kan hanteer en gebruik, verstaan hoe en hoekom data ingevorder word, en watter invloed dit op die individu het. Vir Afrika gaan die belangrikste neigings in die nabye toekoms wees om die arbeidsmag reg op te lei en te bemagtig in gebiede wat hulle van hul werk sal verseker, maar ook sal ophef, en terselfdertyd jou besigheid sal laat groei.
Sogenoemde sagte vaardighede, die vermoë om besluite te neem én onderhandelingsvermoëns, sal nooit deur masjiene oorgeneem kan word nie. Dit moet gekoester en ontwikkel word. Naspeurbaarheid + deursigheid = opspoorbaarheid. Die verbruik van data en inligting deur die hele waardeketting is ’n dinamiese, noodsaaklike aspek waarvan produsente bewus moet wees en spoedig betrokke by moet raak. Onlangs is die gevolge van listeriose gesien op produsente van verwerkte vleis.
Die Regering en bedryfsorganisasies kon die probleem opspoor en bestuur. Wat as die probleem by groente voorgekom het? Hoe sou die bron opgespoor word en hoe sou die produkvloei bestuur word om die siekte hok te slaan?
Dit het die groentebedryf se oë oopgemaak vir die behoefte aan deursigtigheid en voldoende databestuur. Of jy jou produk deur die plaaslike mark verkoop, ’n supermarkkontrak het of uitvoer, blokketting bied in hierdie geval die geleentheid aan die bedryf om saam te werk, inligting uit te ruil en die bedryf te posisioneer om toegang te verkry tot internasionale (en binnekort plaaslike) kopers wat dit gaan vereis. Die Afrikaverbruiker is digitaal met die wêreld verbind. Die Afrikaverbruiker het mobiele en slimtegnologie ongelooflik vinnig aangegryp. Dit het veral deure oopgemaak tot inligting en die geleentheid geskep vir veral Afrika-millenniërs om deel te wees van ’n globale netwerk.
Die plaaslike bedryf gaan in die nabye toekoms ervaar hoe honger die Afrikaverbruiker is vir inligting oor produkte en hoe graag hulle hul mening lug oor hoe hulle die produkte ervaar het.
Hierdie golf kan ’n besigheid oornag maak of breek. Die bedryf gaan fyner moet let op die neigings wat geskep word deur die globale, geïntegreerde verbruiker en sy tropgedrag. En onthou, deesdae is elke verbruiker ’n spesialis in sy eie oë. Die frase “die klant is altyd reg” is nou meer relevant as ooit tevore. Daar is net een planeet aarde. Die fokuspunte op die onlangse Wêreld- Ekonomiese Forum, asook die stappe wat mense doen om ’n plastiekvrye wêreld te bewerkstellig, maak dit onbetwisbaar duidelik dat die natuurvriendelike neiging gaan seëvier – ook in Afrika.
Hoewel verbruikers tans die meeste druk uitoefen, word die landboubedryf meer bewus van die invloed wat die landbou as geheel op die natuur het. Die nuutste neiging is om meer as net volhoubaar te wees.
Daar word veral van die produsent en die res van die waardeketting verwag om herlewingstappe toe te pas. Die landbou moet dus meer in die natuur terugplaas as wat hy daaruit neem. Dit gaan aanvanklik moeilik en duur wees, maar produsente gaan binnekort geen keuse hê nie. Die risiko om nie natuurvriendelik op te tree nie, gaan groter raak as die koste om dit wel te doen. Sulke stappe word sodoende winsgewende praktyke.
5 NEIGINGS VIR DIE WÊRELD
Me. Cathy Burns, uitvoerende hoof van die PMA Internasionaal, gee haar siening oor die stand van die wêreldbedryf. Aanlyn geleenthede. In 2018 was daar meer as 297 miljard Instagram-plasings wat van die hutsmerk #Food gebruik gemaak het. Daarmee saam word voorspel dat die wêreldwye kosafle- weringsbedryf ’n omset van ongeveer $24,5 miljard (R330 miljard) teen 2022 sal bereik.
Toepassings soos Instagram voeg dus nou ’n “neem aksie”knoppie by sodat verbruikers met hul slimfone kos kan bestel.
Van die aanlyn kopers in Amerika het slegs 28% gesê dat hulle vars vrugte en groente aanlyn koop, omdat die varsheid en gehalte nie aan die meeste se verwagtinge voldoen nie. Robotika en outomatisering. Robotte en masjiene sal steeds meer en meer funksies verrig in alle fasette van die waardeketting. Produsente gaan produksietake al hoe meer outomatiseer en kleinhandelaars het reeds mobiele robot-winkels begin beproef.
Terwyl hierdie gevorderde tegnologie beslis die verbruiker kan bekoor, sal die mensewerksmag wat die warm, persoonlike en pasgemaakte ervaring moet verskaf, steeds baie belangrik bly. Talent in die bedryf. Om talentvolle werknemers te behou, sal werkgewers moet seker maak dat hulle betekenisvolle werk, loopbaanterugvoer en ondersteuning vir groei, diversiteit, buigsaamheid en inklusiwiteit bied.
Besighede gaan ál meer beoordeel word volgens hul verhouding met hul werkers, kliënte, gemeenskappe en hul invloed op die samelewing. Die milleniërs en generasie Z-werknemers gaan ál meer van werkgewers verwag om opleiding beskikbaar te maak om tred te hou met tegnologiese ontwikkelinge. Volhoubaarheid. ’n Etiket op ’n bottel wyn, pakkie wortels of bakkie vleis het skaars ’n 10%-doeltreffendheidsyfer by verbruikers.
Om jou besigheid se volhoubaarheidstorie beter te vertel, is geïntegreerde bemarking en opleiding, waar regstreekse wisselwerking met die verbruiker plaasvind, die pad wat voortaan sukses sal bepaal.
Die beweging vir plantgebaseerde voedsel is ook besig om momentum op te tel. Kulturele konneksies. Jou produkveiligheid is nie net ’n aksie nie, dis ’n ingesteldheid. Jou voedselveiligheidsprogram moet jou en jou besigheid se kernoortuigings weerspieël.
As mense ’n gesonder wêreld wil kweek, sal voortdurend hard gewerk moet word om kulturele invloed te help vorm en uit te bou. Daar is groot geleenthede om die verbruik van vrugte en groente uit te brei tot voordeel van die gesondheid van die wêreld en landboubesighede.
Hierdie kultuur begin egter op die plaas, en produsente moet doeltreffende maniere kry om outentieke stories op doeltreffende maniere te vertel.