Beplan só teen risiko’s, sê Willemse
Om in Suid-Afrika te boer was nog nooit maklik nie en verg uithouvermoë en senuwees van staal. Indien die neigings en risiko’s wat wetenskaplikes en internasionale sakelui vir die wêreld voorspel, egter ’n aanduiding is, gaan omstandighede waarskynlik net moeiliker raak. Dit laat boere met twee keuses: Beplan vooruit en tref voorsorg, of lê die tuig neer.
Die afgelope dekade het die landbousake-omgewing al meer riskant geword, met risiko’s wat insluit klimaatsverandering, wisselvallige markte en pryse, ’n onstabiele wisselkoers, en regeringsbeleid en -optrede (of gebrek aan optrede).
In die korporatiewe wêreld is die beoordeling van risiko’s en die opstel van ’n risikobestuursplan een van die take van die bestuur of direksie. ’n Ondernemer beskik oor kapitaal en ondernemerskap wat hy moet benut om met die minste risiko die grootste moontlike opbrengs op sy kapitaal te kry. Die minimum maatstaf vir ’n redelik risikovrye opbrengs is gewoonlik ’n deposito in ’n betroubare bank (tans met rente van sowat 8-9%), of ’n belegging in Suid-Afrikaanse staatseffekte, met rente van ongeveer 8,6%. Daar is geen risiko’s hieraan verbonde nie en ook nie ’n ondernemersloon nie.
Indien die risiko’s verbonde aan sake doen in Suid-Afrika in ag geneem word, behoort die opbrengs op kapitaal baie hoër te wees. Dit is dus belangrik om gereeld die risiko’s van die besigheid te herwaardeer en te vergelyk met die winsgewendheid. Die opbrengs of winsgewendheid van die besigheid moet altyd groter wees as die risiko’s wat geloop word, wat by baie boerderye nie die geval is nie. Boere moet, na my mening, ’n herwaardering doen van die risiko’s vir ’n kommersiële boerdery en dan besluite neem oor die toekoms. Daar is talle Suid-Afrikaanse boere wat al lank voel dat die risiko’s toegeneem het en die opbrengs op kapitaal nie daarvoor vergoed nie. Ernstige herbesinning is dus noodsaaklik.
Tydens ’n onlangse markwerksessie in die somersaaigebied het ’n gesprek oor klimaatsverandering, die droogte en die risiko van misoeste plaasgevind. Daar is ook verwys na die Wêreld- Ekonomiese Forum se risiko- verslag, wat in ’n vorige rubriek bespreek is (“Ekonomie: Klimaatsverandering en natuurrampe grootste risiko’s”, LBW, 8 Februarie 2019). Die slotsom van dié navorsingsverslag, gebaseer op die menings van sakereuse en regeringsleiers, is dat die drie grootste risiko’s vir besighede in die wêreldekonomie uiterste weerverskynsels, klimaatsverandering en natuurrampe is. Dit tref mens soos ’n voorhamer – groot wêreldklasbesighede beskou dié drie risiko’s as die grootste bedreigings, maar in die landbousektor word baie min hieroor gepraat, óf oor wat gedoen moet word om die risiko’s se gevolge teen te werk. Sommiges kommentators voer aan dat droogtes en natuurrampe as “normaal” beskou moet word, en dat die landbou daarvolgens ingerig moet word.
BENADERING EN WERKSWYSE
Die TABEL bied ’n basiese riglyn van algemene risiko’s vir ’n landbou-onderneming, wat egter toepaslik is vir enige tipe onderneming.
Die eerste kolom is ’n lys van risiko’s, waar ’n persentasiewaarde gegee kan word aan die moontlikheid en impak van elke risiko.
In die tweede kolom word die deelelemente van ’n risikogeval beskryf en verder verfyn. Die aard en impak van die onlangse gevalle van listeriose, bek-en-klouseer en voëlgriep kan hier as voorbeelde dien.
In die derde kolom word voorkomende maatreëls en gebeurlikheidsplanne beskryf. Talle gevalle bestaan waar die bestuur in dié stadium tot die slotsom gekom het dat die risiko’s die winsgewendheid van die onderneming oorskadu, en die voortbestaan van die onderneming nie geregverdig is nie. Ek vermoed dat baie Suid-Afrikaners tans in dié dilemma vasgevang is.
RISIKOFAKTORE
Klimaatsverandering blyk om ’n realiteit te wees, en daarmee saam die meer gereelde voorkoms van natuurrampe en uiterste weerverskynsels soos groot temperatuurskommelinge, droogtes, ens. Die WNNR se klimaatnavorsers is van mening dat die El Niño- en La Niña-siklusse verkort het en meer gereelde en feller droogtes gaan plaasvind, gevolg deur natter siklusse.
In Amerika en ander lande met ’n suksesvolle kommersiële landbousektor (wat kommersiële hoeveelhede voedsel produseer vir ’n verstedelikte bevolking), kom versekeringskemas voor met baie lae premies (danksy staatsubsidies) wat as ’n vangnet dien. In Suid-Afrika gaan die Regering waarskynlik nie tot boere se redding kom nie. Boere sal die risiko’s op hul eie moet hanteer en voorsiening tref deur byvoorbeeld reserwes op te bou, of deur algehele herbesinning van die boerdery-opset.
Besproeiingsboere wat deel is van skemas, kom toenemend te staan voor minder en duurder water (as gevolg van duurder elektrisiteit) en toerusting wat nie ontwerp is om voortdurende en uiterste hittegolwe te hanteer nie. Die risiko’s vir swak opbrengste en verliese het dus toegeneem.
Produksierisiko’s het vele fasette waaraan gewoonlik aandag gegee word om sodoende die regte ding op die regte tyd en manier te doen. Tog is daar steeds risiko’s, soos verkeerde bespuitings, verkeerde kultivars en stadige
aanpassing by nuwe produksietegnieke. Dit wil ook voorkom of die risiko van groot produksieverliese toegeneem het weens siektes en plae en buiteseisoense weerverskynsels. Dink maar aan die reaksie op die onlangse gevalle van voëlgriep, bek-en-klouseer en sitrusswartvlek, en hoe dit die uitvoermark benadeel het.
Kragvoorsiening is tans ook ’n groot risikofaktor, asook die stryd om op hoogte te bly van die nuutste tegnologiese ontwikkelings.
Vir sommige risiko’s moet versekering uitgeneem word, terwyl voorkomende of versagtende maatreëls getref moet word vir dié wat nie verseker kan word nie. ’n Alternatiewe inkomste of reserwefonds is van die stappe wat gedoen kan word om dit te bewerkstellig.
Die vraag kan gevra word wat ’n boer te doen staan by die verlies aan ’n totale mark of groot kliënt, soos wat gereeld met melkboere gebeur, of die varkbedryf wat tydelik aan die mark vir verwerkte produkte moes onttrek weens die voorkoms van listeriose. Die staking van die uitvoer van beesvleis en varkvleis dié jaar is nog voorbeelde, en die skok op produsentepryse.
Dit is ook duidelik dat belasting, en alles wat daarmee gepaard gaan, ’n groot risiko vir die voortbestaan van talle kleiner boerdery-ondernemings geword het.
Finansiers kan deesdae een van die grootste risikofaktore wees. Hulle skuil agter die Nasionale Kredietwet (Wet 34 van 2005) en maak, weens die toenemende risiko’s in die landbou, stadig maar seker hul kredietverleningsvereistes strenger. In tye van nood kan boere dus nie altyd reken op hul bystand nie.
In ’n land met ’n rekordhoë werkloosheidsyfer is dit ironies dat arbeidswette en vakbonde as risiko’s vir die voortbestaan van ’n besigheid beskou word. Dit is egter ’n realiteit wat ontleding vereis én waarvoor voorsorg getref moet word. Wetgewing soos dié oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ook ’n risiko vir boere wat met die staat of staatsondernemings wil sake doen, en die druk neem ook toe van die kant van groot aankopers.
Suid-Afrika is sekerlik een van min lande waar veranderende regeringsbeleid en die lukrake toepassing van wetgewing ’n bedreiging inhou. Daar is talle voorbeelde hiervan, waaronder onteiening sonder vergoeding, besetting van grond en waterregte wat weggekalwe word.
Infrastruktuur wat verval, is toenemend ’n risiko vir die vervoer van byvoorbeeld produkte na die mark of die aanry van insette. Die boer kan dus genoodsaak word om na alternatiewe produkte of dienste oor te skakel.
Misdaad is aan die toeneem, en hiermee saam al die ongunstige kwessies wat gepaard gaan met ’n onbevoegde polisiediens wat in sommige gevalle sélf die misdadigers is, of louwarm reageer op aangemelde voorvalle. Voorkomende en gebeurlikheidsplanne móét hiervoor gereed wees.
Die doel van dié rubriek is nie om ’n morbiede prentjie te skets nie, maar om te beklemtoon dat die risiko’s verbonde aan die bedryf van ’n boerdery of onderneming aansienlik toegeneem het die afgelope paar jaar, en dat die situasie waarskynlik nie gaan verbeter nie. Dié risiko’s moet gereeld beoordeel en voorkomende maatreëls getref word wat die impak daarvan kan verminder. Dit kan ook beteken dat ’n bedryfsvertakking in die geheel verlaat word.
Die risiko’s moet opgeweeg word teen die winsgewendheid of opbrengs van die onderneming. Hoër risiko’s móét beloon word met hoër winsgrense en opbrengs om volhoubaarheid te verseker.