Spaar water met regte tegnologie
Suid-Afrika is ’n waterskaars land en boere moet hul watergebruik so goed moontlik bestuur. Besproeiing benodig ’n enorme hoeveelheid water, maar daar ís oplossings vir beter werkverrigting met minder water. Danksy tegnologie kan die waterverbruik van bes
Mnr. Jaco Strauss, Toyota SA en Agri SA se Jongboer van die Jaar vir 2017, sê sy boerdery is baie doeltreffender danksy presisieboerdery en beter besproeiingsbestuur. Strauss boer met verskeie graangewasse, soos koring, mielies en hawer, asook grondbone, sojabone, lusern, katoen en pekanneute onder die vaandel van die McStrauss-boerdery.
Hy boer al byna 20 jaar lank op sy plaas, Lekkerkry, in die distrik Vaalharts in die NoordKaap, en hy glo aan deurlopende verbetering en die toepassing van die voorste tegnologie.
“Ek gebruik Lindsay Africa se Zimmatic-spilpunte en vind dit is die ideale besproeiingsoplossing. Dit is aan die voorpunt van tegnologie. Ek kan die besproeiing op my plaas van enige plek ter wêreld af monitor. Tegnologiese vernuwing laat my toe om my bewerkingspraktyke en produkte te verbeter,” sê hy.
Strauss is besig met ’n eksperiment waarin hy die besproeiing van ’n land wat 40 km ver weg is, alleen bestuur.
“Dit is ’n gidsprojek om te sien hoe min hande nodig is om be- sproeiing doeltreffend te bestuur sonder om opbrengs in te boet. Die FieldNet-stelsel van Lindsay maak die Zimmatic-spilpunte se afstandsbestuur en presisietoediening moontlik. Tot dusver het ek nog net goeie resultate gekry.”
Hierdie stelsel is ingeskakel met ’n weerstasie van Lindsay Africa en ’n damvlakmeter wat tot die naaste millimeter gekalibreer word.
“Dit voorsien my van akkurate inligting enige tyd van die dag, wat die bestuur van my boerdery vergemaklik. Dit sluit in windspoed, humiditeit, windrigting, lugtemperatuur, doupunttemperatuur, verdamping, sonstraling en reënval.
Dit bied ook bykomende inligting, soos kragspanning, waterdruk en vloeitempo, wat van die spilpunt af verskaf word.
“Ek kombineer hierdie inligting met GWK se HTB-boerderystelsel, wat op sy beurt gesteun word deur die Aqua Check-webwerf. Dit verskaf digitale voglesings van die grond. Verder word NDVI- (vegatatiewe groei-indeks) en NDMI- (vogindeks) beelde gebruik om die projek oorhoofs te kontroleer.”
Strauss moes ’n denkskuif maak om die stelsel te vertrou. Indien ander boere die stelsel wil gebruik, moet hulle dit stap vir stap op die plaas in werking stel, is sy raad. Só sal hulle meer vertroud daarmee raak en die beskikbare data doeltreffend kan bestuur.
Elke stelsel het sy voor- en nadele, maar Strauss meen dit balanseer mekaar uit.
“Aanvanklik was dit vir my moeilik om die stelsel te onderhou, en daar is ’n jaarlikse heffing. ’n Mens moet egter in ag neem dat ’n groot hoeveelheid brandstof en arbeidskoste daardeur bespaar word.
“Sonder ’n goeie datasein sal die stelsel ook nie doeltreffend gebruik kan word nie. Fisieke aandag aan die stelsel is egter slegs nodig wanneer ’n waarskuwingsboodskap gestuur word.”
Strauss gebruik hierdie tegnologie al drie jaar lank en meen die opbrengste wat hy in dié tydperk behaal het, steek nie af by konvensionele boerderypraktyke nie.
VERDUBBEL OMSET
Hy het ná skool twee jaar lank saam met sy pa, Koos, geboer. Daarna het hy ’n besproeiings- perseel tussen Jan Kempdorp en Hartswater gehuur. Binne twee jaar het hy in 1999 met eie en geleende geld twee persele met ingelyste water van die skema gekoop.
Sy boerdery besit vandag meer as 715 ha se waterregte en het bykans verdubbel sedert 2008, toe hy ook die provinsiale Jongboer van die Jaar was.
Pekanneute word op altesaam 150 ha verbou. Sy pekanneutboorde is uiters winsgewend en is deel van sy diversifikasieplan. Dié bome kry drupbesproeiing.
Strauss glo in diversifikasie – van die grootste vertakkings, wat katoen en grondbone insluit, tot lusern, wat net 3% tot die boerdery-omset bydra. Hy sê daar is altyd plek vir grondbone van goeie gehalte in ’n wisselboustelsel.
“Pekanneute is wel die goue sleutel in die produsent se bos sleutels, maar ek diversifiseer eerder my produksie met net ’n gedeelte op die uitvalhoeke en behou die spilpuntverbouing as my hoofboerderypraktyk.”
Danksy verbeterde boerderypraktyke, tegnologiese vordering en grondverkryging het die boerdery-omset sedert
2014 meer as verdubbel, en die opbrengs per hektaar het met sowat 59% gestyg.
“Ons het die afgelope ses maande baie min reën gehad, maar is hoopvol dat daar in die komende jaar uitkoms sal wees,” sê Strauss.
Die gemiddelde jaarlikse reënval op sy plaas is sowat 350 mm. In die drupbesproeiingstelsel help bykomende tegnologie, soos grondvogmeters, om die behoefte aan besproeiing in die boorde te bepaal.
“Bewerkingspraktyke het ’n groot aandeel in doeltreffende waterverbruik. Die grond word een keer per jaar goed losgemaak deur ’n Rovic Super 32tandwerktuig wat gesleep word deur ’n rusperbandtrekker van 430 kW, wat die verdigtingslae tot op sowat 700 mm ophef. In die somer plant ons tussen die reste en pas spoorverkeer toe.
“Grundfospompe word ingespan om die doeltreffendheid van die kragverbruik te verhoog. Die pompe het wisselspoedaandrywing wat presies die regte hoeveelheid krag lewer om die regte druk in die stelsel te handhaaf. Ons kan dus kleiner Eskomkragaansluitings gebruik en krag en geld bespaar.”
TEGNOLOGIE
Strauss lê klem op verbeterde boerderypraktyke en tegnologie om sy opbrengs per hektaar te verhoog. Hy benut die raamwerk van GWK se stelsel vir hoëtegno logieboerdery, wat ’n holistiese benadering tot die landbou en tegnologie volg.
Die Zimmaticbesproeiingstelsel skakel ideaal daarby in. Strauss dien byvoorbeeld vloeibare kunsmis in presiese hoeveelhede deur besproeiing toe. Hy sê die Zimmaticspilpunte is elke sent werd omdat hy so presies daarmee kan werk en bykans elke druppel se doeltreffendheid kan monitor.
“Die spilpunte kan tot op elke graad presies werk. Verstellings en monitering op 360 punte is dus moontlik. Die stelsel laat my en die persoon aan diens op ons selfone weet wanneer dit aan of afskakel, of as daar probleme is.
“Die outomatisering van die stelsel help om in sekere omstandighede die spilpunt self af te skakel, soos wanneer dit te koud of te winderig is. ’n Weerstasie van FieldNet skakel daarby in. Só word my spilpunte volledige bestuurstelsels op elke land. Daar is 22 FieldNetstasies wat elk 3050 ha lande onder ’n verskeidenheid Zimmatic en ander soort spilpunte help bestuur.
“Sodra toestande weer gunstig is, sal die spilpunt self aanskakel en die siklus voltooi.
“Ongeag van waar ek in die wêreld is, weet ek wanneer probleme opduik, soos verstoppings, lekkasies of ’n kragonderbreking. Dit gee my vryheid, spaar tyd en help my om die boerdery volhoubaarder te bestuur.”
Strauss gebruik ook Valley Irrigationspilpunte. “Dit is met die FieldNetstelsel gemonteer, wat die funksies van ’n konvensionele spilpuntpaneel oorneem.”
NUWE WERKTUIE
Die McStraussboerdery is só ingerig dat hy dit met min hulp kan behartig. Nuwe en tegnologies gevorderde werktuie, presisiebewerking en die regte besproeiingspraktyke sterk sy hand daarin.
Naas die spilpunte op die plaas, word alle bome wat aangeplant word, met ’n drupstelsel toegerus. Werktuie moet so nuut en tegnologies gevorderd as moontlik wees, en Strauss het voortdurend sy oog op die verbetering van sy landboumasjinerie om die werk doeltreffender af te handel.
“Om die onmoontlike te bereik, moet ’n mens groot dink en droom. Jy moet kyk waar almal reeds gekyk het, maar dan moet jy sien wat niemand anders al gesien het nie,” sê hy.