DIE WAARDE VAN GELD
Ons geld is op, en dit is nie ’n mooi prentjie nie. Suid-Afrika se inkomste staan op R1,5 biljoen, maar die land se uitgawes is R1,83 biljoen. Ons finansier die verskil met skuld. Die rente alleen beloop R1 miljard per dag! Dit laat ’n hol kol op die maag.
Hoe grawe ’n mens jouself uit so ’n diep gat as miljarde rande verkwis en gesteel word deur almal van disfunksionele munisipaliteite tot uiters swak bestuurde staatbeheerde maatskappye?
Suid-Afrika se gehawende middelklas, wat die land se belastinglas op sy skouers dra, kon kwalik meer gewurg word, maar tog het mnr. Tito Mboweni, Minister van Finansies, dit reggekry. Sy sluwe truuks was onder meer om belastingskale nie volgens inflasie aan te pas nie en om brandstofheffings te verhoog.
Die staat speel ’n baie gevaarlike speletjie. Sy belastinginkomste kwyn reeds omdat gatvol belastingbetalers nou aktief hul verpligtinge begin ontduik. As iemand nie binnekort tronk toe gaan vir al die jare se gestelery van belastinggeld nie, gaan die staat se legitimiteitsprobleme net verdiep.
Ja, die staat se uitgawes is besnoei, met onder meer die belofte om duisende staatsamptenare vroeg te laat aftree. Die land kan dan egter dekades se kundigheid verloor in die Regering se haas om van mense ontslae te raak, en dít in ’n staatsdiens wat kwalik funksioneel is.
Die beloofde belegging in infrastruktuur is welkom en kan baie doen om ekonomiese aktiwiteit te stimuleer en mense in diens te neem, maar as dit net ’n trog is vir tenderpreneurs om by te vreet, moes die geld maar eerder by die belastingbetalers gebly het.
Die kern van Suid-Afrika se probleem is dat die staat absoluut geen waardering vir die waarde van geld het nie. Bitter min mense wat in die ANC dien of hul dae op die sagte Parlementsbanke deurbring, het al ’n dag se werk in die regte ekonomie verrig. Want as hulle het, sou hulle geweet het hoe moeilik dit is om ’n rand se wins te maak en wat dit aan jou doen om te sien hoe die staat jou belastinggeld vermors.
Die bittere ironie is natuurlik dat net die private sektor die land nou kan help. Net ekonomiese groei kan die boeke laat klop. Ons sal ’n paar dinge moet doen om dié groei te bewerkstellig: Staak die ideologiese twakpratery, speel volgens die reëls, en benut die beste talent (ongeag ras) sodat hulle baie hard kan begin werk om die land internasionaal mededingend te maak in wat ook al hy aanpak.
Die landbou is ’n goeie voorbeeld, want ons boere is van wêreldgehalte. Toe die nasionale ekonomie verlede jaar onder ’n patetiese groeikoers van 0,1% gesteier het, het landbou-uitvoer met 7% op ’n jaargrondslag gegroei. Dit is mos die soort prestasie wat jy wil ondersteun, of hoe?
Ja, Tito se R1,8 miljard vir grondhervorming, R3,7 miljard se bystand aan ontwikkelende boere en die Land Bank se R3 miljard is alles welkom, maar wie gaan daardie geld bestee? En in sekere opsigte belangriker: Waar pas die kommersiële landbou by die bestedingsprentjie in, veral teen die agtergrond van die rampdroogte wat boere se kontantvloei so erg geknou het? Want sonder die private sektor, en veral puik afdelings, soos die kommersiële landbou, gaan die land homself nooit uit die gat van R1 miljard per dag gegrawe kry waarin die staat hom laat beland het nie. En die tyd om dit reg te stel, raak min. — CHRIS BURGESS