Landbouweekblad

Bid spesifiek

- ANGUS BUCHAN

Ons dien ’n God van baie magtige wonderwerk­e. Ek dink aan die skeiding van die Rooisee, die Seun van God wat op die water geloop het en die Here wat aan ’n 100 jaar oue man en vrou ’n kind gee en aan die belofte voldoen dat hy die vader van baie nasies sal word. Ek praat egter ook van die God wat dag ná dag sogenaamde klein dingetjies laat gebeur.

In Luk. 22:7-13 het die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, aangebreek. “Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: ‘Gaan berei die paasmaalty­d vir ons voor dat ons dit kan eet.’ Hulle vra Hom: ‘Waar wil U hê moet ons dit voorberei?’ Toe antwoord Hy hulle: ‘Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: Ons Leermeeste­r vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaalty­d kan eet? En hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.’ Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaalty­d voorberei.”

Hieruit leer ons dat ons baie spesifiek moet bid, want ons dien ’n God van orde. As ons spesifiek in ons gebede is, sal God elke gebed verhoor, nie altyd op die manier wat ons vra nie, maar volgens wat die beste vir ons is.

Fil. 1:6 sê: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Ons vertroue lê in die beloftes van die Here Jesus Christus wat die God van spesifieke dinge is. Hy wil van jou hoor. Bid sonder ophou, bid gedurig.

God seën julle.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa