MALVALEKKERS AS BELONING
In die 1960’s het ’n professor aan die Stanford-universiteit in Amerika ’n eksperiment met honderde kleuters van vier tot vyf jaar gedoen. Hy het ’n malvalekker voor elke kind neergesit, maar voordat hulle dit kon eet, eers ’n ooreenkoms met hulle aangegaan.
Hy het aan elkeen verduidelik dat hy die vertrek gaan verlaat en as hy terugkom en die malvalekker is nie geëet nie, sal hy die kind met nog ’n malvalekker beloon. As die malvalekker wel geëet is, kry die kind nie ’n tweede een nie. Die kind se keuse was dus eenvoudig: Hy kon onmiddellik eenmalig bederf word, of hy kon twee keer bederf word as hy bereid was om te wag. Die reaksie was uiteenlopend. In sommige gevalle het die malvalekker in ’n kies verdwyn sodra die professor die deur toegeklap het. Ander kinders het hard probeer om te wag, maar ná ’n paar minute tog aan die
versoeking toegegee en die malvalekker geeet. ’n Klein groepie kon met uiterste selfbeheersing wag totdat die professor terugkeer en is met ’n tweede malvalekker beloon.
Die resultate van die eksperiment was nie onverwags nie, maar die professor het kontak met die kinders behou en hul vordering deur hul lewe gemonitor. Hy was aangenaam verras: Die kinders wat bereid was om vir die tweede malvalekker te wag, het oor die algemeen ’n beter lewensuitkoms as die ander kinders gehad, soos gemeet aan hul skolastiese vordering, kwalifikasies, liggaamsmassa-indeks, en ander maatstawwe. Opsommenderwys het hul geduld daartoe gelei dat hulle meer welvaart en sukses as die ander kinders bereik het. Hoewel die malvalekkertoets gebreke het, is die les tóg dat onmiddellike beloning gou tot ’n einde kom, terwyl uitgestelde belonings groter is en tot welvaartskepping kan lei.